2008-11-16

Die rubberspore wat ons agter laat

Dit is nou al amper twee maande gelede wat ek hier vertel het van ons planne om die pad te vat na Wakkerstroom en die res van die land ook sommer te verken. Intussen het ons daardie wonderlike avontuur afgehandel, en direk daarna het ek begin werk vir my nuwe werkgewer. Soos julle sien, het dit my (vir verskeie redes) 'n rukkie geneem voor ek weer die leisels hier kon optel.

Met my vorige inskrywing het ek die hoop gespreek dat ek 'n skakel na ons beplande roete hier sal kan plaas voor ons vertrek. Wel, daarvoor het ek toe nie tyd gekry nie, maar nou kan jy sommer beide ons beplande roete, en ook ons afwyking daarvanaf beloer, alles te danke aan Google Maps. Ongelukkig het ek nog nie kans gehad om enige foto's by die roetekaart te voeg nie, maar ek sal hopelik nog binne die volgende maand daarby uitkom. Ek is nogal verbaas dat ons werklik die 5000 km (in 8 dae) afgelê het, en ek is baie dankbaar dat ons dit darem veilig tot terug by die huis gemaak het. Jy kan ook Mnr. Muller se vertellings van ons belewenis volg vir 'n meer in-diepte meedeling.

Op die ou einde het die beplanning nogal baie gehelp om te sorg vir 'n gemaklike reis, en ons kon konsentreer daarop om die omgewing te waardeer en die hele ervaring in te neem. Ek wonder nogal of ons eendag ook Google Sky sal gebruik om ons roetes tussen die sterre te beplan.

Maar, sal sulke beplannings ook omgekrap word deur onakkurate roeteintligting, soos die menige foute wat huidiglik op Google Maps bestaan? Wat 'n katastrofe sal dit nie wees as ons net 'n klein foutjie maak en dan iewers in 'n vreemde sonnestelsel beland waar ons heeltemal verdwaal is nie? Sal ons navigasietoerusting voldoende wees om 'n pad na ons bestemming uit die vuis te lewer [jy mag dalk die Engelse vertaling "improvise" beter ken]? Op ons onlangse reis het 'n klein padboekie ons darem kon help in sulke situasies. Sal sulke foute in ons ruimtereise ook ons avontuur opkikker, of sal dit ons afstuur op dodelike gevolge? Die ruimte is immers 'n gevaarlike plek. Aan die anderkant, is ons liewe planeet Aarde veel veiliger?

2008-09-18

Dorphoppertjies

Sommige mense is mos van mening dat jy eers moet leer kruip voor jy kan loop voor jy kan hardloop. So, voor ons uitskiet en tussen planete begin rond(hardl)hop, het ek en my goeie vriend Mnr. Muller besluit om eers ons vernuf met dorphoppery te probeer slyp.

Jy kan gaan lees wat Mnr. Muller vantevore vertel het van 'n dorpie genaamd Wakkerstroom in Mpumalanga.  Ons het besluit om te gaan kyk hoe dit daar lyk. En, aangesien ons so ver gaan ry, het ons dit sommer goed gedink om 'n paar ander interessante plekke (en 'n paar vriende langs die pad) ook te besoek. Ons sal dan tot meer en mindere mates 'n stukkie van elk van die 9 provinsies in Suid Afrika verken - alles in 'n week. Ons vertrek oormôre.

Ek dink egter in hierdie geval gaan ons eers kruip nadat ons alreeds geleer loop het, want beide van ons het al afsonderlik 'n bietjie landhoppery gedoen in Europa.

[Ek is besig om die roete se beplanning te dokumenteer op Google Maps. Ek hoop dat ek nog daarby sal uitkom om die skakel daarvoor hier by te voeg, as jy lus is om te sien waarheen ons oral gaan.]
[Hersiening: Daar is nou 'n nuwe inskrywing waarin ek 'n bietjie terugkyk op die toer waarvan ek hierbo vertel. Daardie inskrywing bevat ook 'n skakel na die padkaart op Google Maps.]

2008-08-21

Lyk my ek is nie eens 'n spikkel nie

Toe ek in my vorige inskrywing myself as 'n spikkel beskryf het, het ek natuurlik verwys na die miniskule rol wat ek in die bestaan van die mensdom speel. Maar, dit blyk nou dat ek egter te veel van myself gedink het. Ek het vandag 'n vonkpossie ontvang (dankie Jaco :-) ) met 'n paar prentjies wat bewys dat ek nie eens 'n spikkel is nie.

Dit lyk of hierdie prentjies op vele ander hoekies van die wilde wye web al 'n tuiste gekry het, soos 'n mens kan aflei uit 'n Google soektog, maar ek kon nog nie die oorsprong opspoor nie.

Volgende keer as jy weer iemand raakloop wat vol van homself/haarself is, verwys daardie persoon gerus na hierdie bladsy. ;-)

Die planete, in perspektief (op skaal):




Nou, 'n paar hemelliggame groter as ons son:



Hier is waar die vonkpossie se prentjies ophou (behalwe vir twee wat verder ondertoe gewys word), maar dis egter nie die einde van die storie nie. By 'n ander outjie se blog, word daar nog 'n paar stappies verder geneem.



Gaan kyk gerus ook na die ander prentjies wat hy daar het.

Om net terug te keer na die res van die prentjies in daardie vonkpossie: Ons weet mos dat sterrestelsels bestaan uit biljoene van hierdie bogenoemde sterre (en hul gepaardgaande sonnestelsels). Hierdie volgende foto is blykbaar deur die Hubble ruimteteleskoop geneem met maksimum vergroting. Hulle noem sulke foto's "Ultra deep field". Dit wys dat daar nog ontelbare sterrestelsels so ver weg is.


En die laaste foto is blykbaar 'n vergroting van een van die donkerste areas in die vorige foto.


So, hoe groot voel jy nou?

Terloops: ek het juis nou 'n artikel gesien wat vertel hoe Hubble 'n foto geneem het van sterrestelsels anderkant sy maksimum vergroting, deur gebruik te maak van die gravitasionele lens-effek.

2008-08-17

Ek is 'n spikkel

Miskien het jou skoensole al die grond van 'n ander land gekus. Of, dalk het jou tone selfs omgekrul van plesier in die gras wat soveel groener is by jou nuwe tuiste aan die ander kant van die wêreld. Jy sal dan sekerlik vertroud wees met die idee van wisselkoerse en die koopkrag van jou tuisland se geldeenheid.

Het jy al ooit gewonder hoe hierdie konsepte oorgedra sou word na ander wêrelde daar buite in die wye kosmos? Nie? Wel, ek het.

Wanneer ons nuwe wêrelde begin koloniseer, watter geldeenheid sal ons gebruik? Hoeveel koopkrag sou ons kolonies hê wanneer hulle handel dryf met die tuiswêreld, moeder Aarde? En as ons per toeval vreemde intelligente wesens van ander wêrelde raakloop, sal hulle dalk kliphard uitbars van lag wanneer ons klein gekleurde papiertjies met hulle wil ruil vir 'n koeldrankie?

Het jy al ooit werklike armoede van naby beskou? Hoe laat dit jou voel? Waarom is sommige mense so ryk dat hulle nie eens weet wat om met al hul rykdom te maak nie, terwyl ander in die aand op 'n yskoue sypaadjie onder 'n dun lappie opgekrul lê en wonder waar hulle môre iets gaan kry om te eet? Sou hierdie gaping tussen ryk en arm ons ook mettertyd agtervolg wanneer ons eendag op vreemde wêrelde ons alewige rotresies voortsit?

Het jy al ooit gedroom van 'n werk met minder ure? Is jy tevrede met die minimum voorgeskrewe jaarlikse verlof wat elke gewone werker toekom? Het jy ook al 'n honderd-en-twaalf stories op TV gesien wat jou keer-op-keer laat besef dat dit baie meer waardevol is om tyd saam met familie en vriende te spandeer, of in die skone natuur waar jy liters vol kraakvars, onbesoedelde lug kan inasem, as wat dit is agter 'n lessenaar in 'n piepklein afskortinkie? Hoekom bly die meerderheid van ons geboei deur die kettings van die ekonomie wat van ons vereis om die beste deel van ons dag op te offer sodat ons net 'n skynbaar-gemaklike lewe kan bekostig?

Ons leermeester aanboord, die eerbare Mnr. Muller, het onlangs ons breinselle geprikkel met die wonder of kapitalisme dalk binnekort ineen gaan stort. Daar is ook elders 'n bespreking oor hierdie moontlikheid. Maar, is kapitalisme werklik die oorsaak van armoede? Kan sosialisme wel die oplossing wees? Is 'n gemengde ekonomie dalk beter, of slegter? En, watter van die vele ekonomiese stelsels sal geskik wees vir interplanetêre handel? Sal ons geld gebruik? Waar kom geld in elk geval vandaan? Was ruilhandel nie 'n beter stelsel nie?

Vrae, vrae, en nog meer vrae. Ek is nou nie 'n kenner op die gebied van ekonomie nie, maar hierdie tipe vrae hou my gedagtes deesdae amper konstant besig. Ek wil leer hoe ek vir myself (en ander) 'n beter lewe kan skep, en terselfde tyd eendag 'n ruimteskippie kan bekostig. Gevolglik probeer ek verstaan hoe ek, 'n piepklein spikkel, inpas in die magtige omwentelling van fondse, wat heeldag en elke dag rondtuimel soos die oseaanstrome, in transaksies wat plaasvind met 'n straatverkoper, in 'n supermark, in korporasies se aankope departemente, op die effektebeursvloer, oor landsgrense, en selfs in ons nuwe aanlyn skynwêrelde. Hopelik sal ek soos tyd verloop sommige van my ontdekkings ook hier kan deel, veral soos benodig vir sinvolle planeethoppery.

Maar, vir eers sal ek jou los om self 'n bietjie met al hierdie vrae te worstel (as jy nog nie het nie). Gesels gerus saam. Ek is altyd nuuskierig om te hoor wat ander mense dink.

2008-07-30

My salary saved the planet today...

... or at least a small part of it (I think).

Recently, I was faced with a hard choice:
  1. take the position at a company much closer to home (which I already accepted) and thereby gain a fair improvement in my quality of living, or
  2. stay with my current employer (50 minutes away from home by car) for another year at a salary nearly (or possibly even more than) double what I would get from my new employer.
I was a little uneasy about the idea of taking back on my "promise" to work for my prospective employer, but for such large amounts I had to at least give it a thorough consideration.

I have good reasons for not wanting to travel almost 2 hours a day to and from work anymore. So, I had to calculate how big a salary I would need to move closer to my current employer in order to achieve the same life-style improvements. When I discovered that I would need more than double the salary to achieve a life-style improvement that does not even completely match what I would otherwise get (eg. I would be much further away from most of my friends and family), I immediately knew that something was wrong about the whole idea. What was it?

Well, from the way my mind thinks about the world, I immediately realised that this extra cost indirectly translates to an extra strain on the environment. How could I willingly accept such a large salary merely to afford the necessary expenses that would eventually cause so much more harm to the environment? And this, when I can get a better quality of living at half the price?

This is the first time that I have considered my impact on the environment when negotiating for a salary - and it was enlightening. It also made the decision much easier, and I now get other non-financial benefits too, such as working in a new environment on new projects after having been with my current employer for three years.

So, that is how my salary saved a little part of our little planet for a little while.

What do you think? Am I an idiot for not taking the money?

[What's that funny-looking language on the rest of this blog? See the explanation that I posted previously.]

2008-07-27

Salige Stilte

Jou lippe roer, maar die vibrasies tref nie my oordromme nie. Daar is geen lugmolekules hier, tussen jou en my, wat op die branders van jou stem kan dobber nie. Alles is stil, salig stil, hier in die gapings tussen die hemelliggame. Hier is niemand wat in my ore skreeu nie, geen radio omroepers wat simpel musiek uitbasuin nie, geen televisies wat blêr in die agtergrond nie, geen motors wat verby suis nie, of vragmotors wat verby brom nie, geen treine wat klank-klank nie - net doodse, salige stilte. Kan ons net nog 'n rukkie langer hier bly?

2008-07-09

Eendag as ek jonk is: Voorkoms

Hierdie reeks het afgeskop met 'n kort opsomming van areas wat van praktiese belang is wanneer 'n mens soek na verjeugingstegnologië.

Ek wil begin by die onderwerp van voorkoms. Wat help dit tog as jy vir ewig jonk bly, maar mettertyd lyk soos 'n uitgedroogde perske omdat jy 150 somers te veel sonblootstelling gekry het? Daar is immers alreeds 'n groot gespesialiseerde industrie wat op die verjeuging van voorkoms fokus met verskeie kosmetiese produkte. Die meeste vrouens in die moderne westerse samelewing is ook teen hierdie tyd al vertroud met allerhande tegnieke waarmee die jeugdigheid behou kan word [aangesien ek 'n man is en nie in besonder baie kennis oor die onderwerp dra nie, sal ek enige kommentaar van die dames waardeer].

Ek stel glad nie belang daarin om bloot die tekens van ouderdom te verbloem, of enige skade aan te rig ter wille van 'n beter voorkoms nie. Dit is dus gerusstellend om te leer dat daar wel sekere kosmetiese produkte bestaan wat op 'n mikrobiologiese vlak jou vel se jeugdige funksies tot 'n mate kan herstel.

Ek lees in die ensiklopedie Britannica dat kollageen, saam met elastin, die proteïenmolekules is waarvan die strukturele integriteit van gewerwelde organismes (soos ons mense) afhanklik is. Kollageen help met versterking van jou vel, jou gebeendere, jou bloedvate + aarwande en selfs jou tande. Soos 'n mens ouer raak, word minder nuwe kollageen vervaardig en minder ou kollageen word verwyder. Dit lei daartoe dat kollageenmolekules ophoop en dan later aan mekaar gekoppel raak (Engels: "cross-links") en kristaliseer. Dit verminder die rekbaarheid van jou vel (m.a.w. veroorsaak plooie) en are, en gee aanleiding tot algehele styfheid in die liggaam.

Dit wil voorkom of vrouens eintlik 'n effense voordeel het wanneer dit by 'n jeugdige voorkoms kom. Blykbaar bevat 'n vrou se vel baie meer natuurlike anti-oksidante as 'n man s'n. Op grond daavan word haar risiko vir velkanker van sonblootstelling aansienlik verlaag, maar anti-oksidante help ook om veroudering van die vel te verminder deur 'n positiewe uitwerking op kollageen en elastin. Ek kan dus nou verstaan hoekom dit blyk dat vrouens baie later as mans eers tekens van plooie begin wys.

Nou ja, afgesien van skynbare voordele wat 'n kalorie-beperkende dieet op die jeugdigheid van kollageen het, is daar ook gevind dat retinoïensuur (Engels: "retinoic acid") retinol kan help om vervaardiging van nuwe kollageen te stimuleer. Dus, as jy volgende keer wonder watter vogroom om te koop, soek een wat retinol bevat. Dit sal egter net nie kan verseker dat jy soos Madonna op 50 lyk nie.

[Hersiening: Ek het intussen geleer dat retinol en retinoïensuur nie dieselfde molekule is nie; sien ook my volgende inskrywing in hierdie reeks.]

Siende dat ek geen ander produkte vir mans kon vind met hierdie bestandeel nie, het ek onlangs vir my 'n botteltjie "Men's Expert Vita Lift Complete Anti-Ageing Moisturising Cream" met "Pro-Retinol" van Loreal Paris aangeskaf om te beproef of dit sal help om die dongas op my voorkop effens vlakker te maak. ;) Dit is R110 by Pick-n-Pay en R130 by Clicks. Dis slegs 50 ml, so ek gebruik dit liewer spaarsamig en gekombineerd met 'n goedkoper algemene vogroom. Ek is nou in die helfde van my tweede week uit die vier weke waarbinne 'n mens sigbare resultate behoort te sien. Ek wag nog angstig...

Onlangse bevindinge toon dat 'n sekere vetmolekule ook 'n bydrae kan maak tot verjeuging van die vel. Daar is verder sprake dat die koënsieme Q10 (Engels: coenzyme), soos bevat in sommige Nivea produkte, teoreties voordelig kan wees vir kollageen en elastin produksie. Daar is egter nog geen beduidende wetenskaplike navorsing hieroor gedoen nie.

Vir meer inligting oor verjeugingsbehandelings kan ek jou verwys na 'n webwerf wat ek gevind het met goeie verwysings na wetenskaplike literatuur.

Terloops: daar is ook al medisynes ontdek wat die kruiskoppeling tussen kollageenmolekules kan breek om verouderde are se jeugdigheid te herstel.

Eendag as ek jonk is...

Jy sal dalk onthou hoe ek vantevore besin het oor die noodsaaklikheid van verjeugingsmedisyne vir 'n planeethopper met planne vir enige sinvolle planeethoppery. Ek is nog nie eens 30 nie - 'n jong man in die fleur van my lewe (haha, gmpf) - en tog kan ek alreeds waarneem hoe vader tyd elke aand, wanneer ek hom nie kan uitvang nie, 'n stukkie van my jeug by my kom steel sodat hy vir ewig kan voortleef, alhoewel hy self nooit jonger word nie.

Daar is verskeie (belangrike) fundamentele, mikrobiologiese faktore van die verouderingsproses (pdf, 236 Kb) wat wetenskaplikes uit 'n teoretiese oogpunt met gevorderde navorsingsgereedskap probeer oplos. Getrou aan my praktiese uitkyk op verjeuging, wil ek ondersoek instel na oplossings wat alreeds gevind is en dalk selfs beskikbaar is vir ons om te gebruik.

Om sinvolle oplossings te vind, probeer ek in gedagte hou dat veroudering 'n praktiese impak op jou lewe het in hierdie areas:
  1. jou voorkoms
  2. jou beenstruktuur
  3. jou beweegbaarheid
  4. jou gesondheid
  5. jou verstand
Dis nuttig om op te let dat enige gegewe oplossing 'n spesifieke proses mag teiken op 'n mikrobiologiese vlak, maar dan moontlik meer as een van die praktiese areas in my lysie beïnvloed.

Hierme wil ek dan die "Eendag as ek jonk is" reeks afskop waarin ek elk van die areas in bogenoemde lysie wil ondersoek.

2008-07-06

Nuwe gesig

Waarmee is ek deesdae so besig dat ek nog nie weer 'n inskrywing gemaak het nie?

Ek het sopas die voorkoms van die Planeethoppertjie webblad verander. Kom kyk gerus en gebruik die meningspeiling om te sê of jy dink dis goed of goor.

Die idee agter die verandering, is dat ek dit oorweeg om die blog na wordpress te skuif. Ek is nog besig om al die faktore te bestudeer, so dit gaan nog 'n rukkie wees voor ek 'n besluit neem. Maar vir nou wil ek net die voorkoms van die blogspot en wordpress weergawes so na as moontlik aan mekaar kry. Die wordpress weergawe is egter nog nie oop vir die publiek om te besigtig nie.

Ek is ook huidiglik besig om te werk aan 'n nuwe inskrywing, maar dit vereis so 'n bietjie navorsing en my tyd is redelik beperk, so wees asseblief net 'n rukkie geduldig. :)

2008-06-19

Beter dae

Somtyds kyk ek na die wêreld, en sug dan vir al die boosheid wat ek sien. In sulke tye is dit maklik om te verlang na die dag wat ek met my ruimteskippie hierdie plek kan verlaat, en selfs my te bekommer dat daardie dag nog so ver weg lê.

Maar, diep binne myself sien ek ook die boosheid raak - daardie selfde boosheid waarvan ek wil wegvlug. Dalk is dit 'n goeie ding dat ek nog nie 'n ruimteskippie besit nie. Dalk sou ons menseboosheid maar net mettertyd versprei tot daardie nuwe wêrelde wat ek sou besoek. Dalk is dit beter dat ek eers moet leer om van my eie boosheid ontslae te raak.

Was die wêreld nie eens 'n beter plek nie? Dalk nie, maar daar was sekerlik spesifieke tye wat dinge beter gegaan het. En selfs vandag is daar nog plekke waar goeie dinge gebeur. Kan ons dalk iets leer daaruit?

Ek dink die wêreld was beter toe:
  1. die lug skoon was
  2. daar minder motors op die paaie was
  3. daar minder mense was
  4. almal genoeg gehad het om hul dors te les en honger te stil en rustig te slaap
  5. daar nie sprake was van sosiale status (en gepaardgaande besit van blink goetertjies) nie
  6. jy nog die paaiemente van 'n lening op 'n redelike huis kon bekostig met 'n redelike salaris
  7. jy nog 'n huis kon koop met 'n tuin groot genoeg om jou bene uit te strek
  8. daar nog meer bome as geteëlde dakke in woonbuurte was
  9. daar nog wye oop natuurlike spasies in jou tuisdorp was
  10. kinders nog veilig in publieke areas kon speel
  11. jy nie konstant moes vrees vir jou of jou kinders se lewe nie
  12. jy nie enige bekommernisse gehad het nie
  13. jy nog die vermoë gehad het om jou God te vertrou
  14. mense nog vir mekaar omgegee het
  15. daar eerbaarheid was in beskerming van swakkes
  16. jy 'n vreemdeling in nood kon uithelp sonder om te verwag dat hy jou sal te na kom
  17. mense nie rede gehad het om mekaar te wantrou nie
  18. mense nog kon opstaan vir reg, en teen verkeerd
  19. menslikheid nog belangriker was as mensegedrag
  20. mense nog kon waardeer hoe kosbaar die lewe is
  21. leiers met wysheid kon regeer tot voordeel van al hul mense
  22. leiers nie net hul magsposisies wou misbruik vir eie gewin nie
  23. goed genoeg nie goed genoeg was nie
  24. mense nog kon droom
Dit herinner my nogal tot 'n mate aan my kinderdae. Kan ons nie maar net almal weer kinders word nie? Dan kan ons weer rondhardloop in ons buurte en maatjies maak met ander vreemde kinders, en toebroodjies uitruil of deel met honger maatjies, en mekaar beskerm teen boelies (met kleilatte en ertjieblasers ons gevaarlikste wapens), en boomhuise bou, en met ons fietse mekaar jaag, en in die lang gras op die heuwel lê en opstaar na die sprokies wat die wit wattewolkies vir ons vertel, en lag, uit die holtes van ons mae, en vertrou dat ons magies gevul sal word wanneer ons by die huis kom, en vir niks banger wees nie as vir 'n pakslae of 'n denkbeeldige monster onder die bed.

[Soos jy kan sien, fokus my lysie op menslike faktore - alles te danke aan mense en alles afhanklik van mense se denkwyses en gedrag. My lysie is onvolledig. Vertel my asseblief wat, na jou mening, die wêreld 'n beter plek maak / gemaak het. En ja, wees maar snaaks - net nie bar nie (kinders mag dalk ook hierdie blog lees).]

2008-06-16

Why no English?

My initial language-processing neurological pathways were constructed around the scaffolding of symbols and sounds that are collectively known as the Afrikaans language. Yet, even before I went to school, while those same synaptic networks were still very pliable, I already had a couple of English friends. By now, thanks to many good teachers, I can think and communicate in both languages almost equally well.

At the conception of this blog, I found it quite hard to decide on which language it would be based. On the one hand, I feel that I can conjure up more vivid and colourful images and expressions (including a few amusing neologisms) when using Afrikaans. I mean, an expression like "little planet hopper" just does not have the same ring to it than "planeethoppertjie" does. On the other hand, I have many English speaking friends that do not understand Afrikaans.

This blog was initially aimed at providing some alternative, light-hearted amusement to friends (and, to whomever else finds it enjoyable, and while at the same time serving as a medium to share some fascinating discoveries that I have made, either from following scientific news, or from merely observing my environment). As such, I would have found it more pleasurable to make it accessible to all of them. But, as I considered all the factors, I could not ignore the multitudes of existing English blogs that already serve a similar purpose. I have very little time at my disposal (and so does my intended audience), so it is important to me that I don't become just another blogger with no significant value to add. I had to create something unique that could not be found elsewhere on the web. So, Afrikaans it had to be.

It is sad to me that many of my friends will never have the opportunity* to laugh at my creations and come along to play on far away, breathtaking worlds, unspoilt by evil human hands. But at least (I hope) this is not a dull blog. ;)

I do, however, believe that I may on specific occasions feel inclined to compose an English entry. This would mostly happen when I want to share knowledge or understanding about material that is not available in general on the web. I shall categorise such entries under the "English Posts" label, which you can find on the menu bar to the right.

* Even with the appearance of automated language translators, many of the underlying cultural nuances might not be recognised and therefore loose its comic effect.

2008-06-04

Anderkant die Blou Berge

Onthou jy die dae as kind, toe jy nog in 'n klein dorpie gewoon het, omring deur enorme blou berge, behalwe na die Weste, waar 'n dun kronkelpaadtjie jou na die volgende dorp kon neem, en na die Suide waar die groot blou see uitgestrek het tot ver verby die horison? Die ou vissermanne het altyd vertel hoe die berge langs die kus af strek tot waar die oog nie kan sien nie, en niemand was al ooit so ver met 'n klein vissersbootjie nie.

Onthou jy die brandende begeerte vir avontuur en ontdekking van die onbekende, en die nuuskierigheid oor wat anderkant die groot blou berge lê? Onthou jy die planne wat jy beraam het om eendag jou klein dorpie te verlaat sodat jy daardie berge kon uitklim en vir die wêreld kon vertel wat jy daar gesien het? Of, onthou jy dalk eerder hoe jy nog wou sien wat anderkant die groot blou see lê?

Nie? Hmmm... wel, ek ook nie.

Maar ek het my vanoggend dit verbeel toe ek na die berge rondom my geboorte dorpie kyk, en probeer indink hoe dit moes voel om as klein seuntjie daar groot te word in die tye toe die wye onbekende nog anderkant daardie eens magtige blou berge uitgestrek gelê het. Vandag is daar 'n wye kronkelpad waarop jy gemaklik met 'n motor langs die berg kan opry en verby tot by die volgende dorp en selfs verder - sonder veel moeite, en sonder om eens die kleinste bietjie aandag te gee aan hoe ontoeganklik daardie wêreld was so ver in die verlede. En met lugvervoer en vingerpuntkennis, gaan kuier ons sommer maklik by vriende en familie anderkant die eens magtige blou see.

Hoekom moet ek nou anders voel as 'n klein seuntjie wat opkyk na die enorme blou hemelruim, en wonder wat daar anderkant lê. Natuurlik het die wilde wye spinnerak van kennis vir ons al aan heelwat van daardie wêreld bekendgestel, want ander avonturiers het reeds hul biologiese en meganiese oë daarheen gestuur. Maar, daar is nog soveel onondekte onbekendheid daar buite. Hoeveel monsters en juwele en fantastiese kulture en ongelooflike medisynes lê nie en wag vir ons daar ver nie? Ek sal nogal graag eendag hierdie klein aardeballetjie wil verlaat sodat ek daardie blou hemelruim kan oorsteek en vir die wêreld vertel wat ek alles daar gesien het. En jy?

2008-05-31

Man van Staal

Die fliek "Iron Man" het onlangs die rondtes gedoen. Dit het 'n hele aantal van my ingeneursintuie met plesier geprikkel. Ek verneem dat selfs mense wat nie normaalweg van aksie-/wetenskapfiksie-/"comic"-flieks hou nie, wel ook hierdie een heel vermaaklik gevind het. Ek dink dis dalk deels te danke aan hoe die fliek ook so 'n bietjie van 'n mens se rebellesintuie kielie. Dit skop 'n paar stereotipiese "comic" reëls in die stof en los jou dus met 'n effense gevoel van "jinne, dit was verfrissend". Enigiemand wat verskil hiermee?

Een van die interessante aspekte van die fliek wat 'n aantal mense reeds uitgelig het, is hoe dit gebruik maak van heelwat tegnologiese ontwikkelinge waarmee ons wetenskaplikes en ingenieurs alreeds eksperimenteer. Onlangs was daar ook 'n outjie op die nuus wat oom Leonardo Da Vinci se persoonlike vlerke vervolmaak het en sommer nes 'n gewone vliegtuig deur die lug heen-en-weer kan tol en rits.

Wat vir my egter selfs meer merkwardig was as die tegnologie wat uitgebeeld is in die fliek, is die tegnologie waarmee die beelde geskep is. Die realisme van die rekenaargeskepte grafika wat gebruik is, is asemrowend (as jy na sulke dinge oplet). Sou jý kon sê dat Tony Stark se metaalpak nie werklik bestaan, behalwe as elektroniese patrone in 'n rekenaar se geheue nie? Wel, ek kon nie die verskil agterkom nie. Ek het onlangs gelees dat ons binnekort 'n superrekenaar sal kan bou wat in werklike tyd driedimensionele grafika so realisties sal kan skep dat ons glad nie sal kan sien dat dit bloot 'n namaaksel is nie. Dis ook opwindend om te hoor van nuwe wiskundige modelle wat belowe om selfs 'n gewone tafelrekenaar toe te laat om realistiese beligting te bereken in werklike tyd vir die vertoon van virtuele omgewings.

Afgesien van 'n paar ander ontbrekende tegnologië (waarvan meeste of almal ook tans ondersoek word), sal ons binnekort dus ons ruimteskippies kan uitrus met 'n regte holodek soos in Star Trek se jonger "Enterprise"-modelle. Hoe pret sal virtuele vermaak nie dan vir ons word nie? Sal dit kan help om ons siele te troos as ons ver weg op ons opwindende ontdekkingsreis vir 'n oomblikkie terugverlang huistoe? Of sal ons dit eerder gebruik om ons eie virtuele wêrelde op te toor, waarheen ons kan "reis" sonder oom ooit 'n regte sterrespringer te bou?

2008-05-19

Wegkruipertjie

Kom ons gaan besoek die eerste planeet op ons sterrespringer se roetekaart. Wat sal ons sien as ons daar kom? Sal daar (semi-)intelligente wesens daar wees? Of dalk net plante en diere? Wat sal ons doen as ons daar kom? Sal ons ons ruimteskippie sommer gaan parkeer op die eerste oop spasie wat ons kan vind, rondharloop en mooi blink klippies optel of blomme pluk? Sal ons die diere begin jag vir kos? Sal ons die plante begin eet? Sal ons probeer kontak maak met die inheemse bevolking?

As 'n wetenskaplike, en iemand wat al 'n groot waardering en respek vir die natuur ontwikkel het, sal ek 'n sterk teenstander wees vir sulke onverantwoordelike gedrag. Ons het 'n ryk geskiedenis, vol foute wat ons voorouers gemaak het en gelei het tot die uitwissing van verskeie spesies en selfs kulture. Ons het die geleentheid om te leer uit sulke foute. Ons is mos nie vir grappies geforseer om geskiedenis te leer op skool nie.

Ek stel voor dat ons vir eers die rol van waarnemer aanneem en die kat mooi uit die boom uit kyk voor ons inboender en onsself blootstel aan een of ander dodelike kiem, of giftige plant, of gevaarlike dier. En ook, aan die ander kant, om te keer dat ons die natuurlike omgewing besmet met ons eie kieme en ons ingebore vernietigende gedrag. Om dit reg te kry, sal ons onsself moet wegsteek vir die hemelwaarts-gerigde oë van enige intelligente wesens wat dalk om 'n kampvuurtjie lê en die oorgeërfde verhale van die konstellasies met mekaar deel.

So 'n paar jaar gelede het 'n vriend my vertel van aktiewe kamoflering (Wikipedia het meer inligting, en TIME het 'n mooi foto). Dit maak gebruik van 'n kamera en tipies 'n buigbare vertoonskerm wat die beeld aan die ander kant van die weggesteekte voorwerp/persoon vertoon. Jy moes dit al in daardie een James Bond fliek gesien het. Intussen het wetenskaplikes wat met sogenaamde metamateriale speel 'n werklike onsigbaarheidsmantel geskep wat ligstrale rondom 'n voorwerp kan buig. Oorspronklik kon hulle dit slegs regkry vir mikrogolfstrale. Maar, nie lank daarna nie (en bo meeste van ons se verwagtinge) was dit moontlik om ligstrale in die visuele spektrum so te buig. Aanvanklik het die tegnologie ook net in twee dimensies gewerk, so jy kon nogsteeds die voorwerp sien as jy van bo af kyk, maar dit het nou selfs begin moontlik word om 3-dimensionele onsigbaarheid te bewerkstellig. Vir nou werk die tegnologie net met baie klein voorwerpe, maar hoe lank sal dit neem voor volledige skepe en ruimteskippies onsigbaar kan word? Boonop lyk dit nou selfs moontlik om "onsigbaar" te word vir klankgolwe. Ons kan dus nou meer gerus wees om planete van naderby te ondersoek, sonder om bekommerd te wees dat iemand ons sal sien óf hoor.

Die vreemde ding omtrent onsigbaarheidsmantels wat ligstrale buig, is dat wanneer jy binne die mantel is, sal geen ligstrale by jou oë uitkom nie. Met anderwoorde, jy sal niks kan sien nie. Dit help veel, né!

2008-05-10

Anargie = Vryheid

[Waarskuwing: hierdie inskrywing bevat heelwat menings en minder feite, maar darem ook 'n paar interessanthede]

En nou my mooi wiskundige afleiding, vanaf my vorige inskrywings:

as Sekuriteit = Vryheid

en Anargie = Sekuriteit

dan is

Anargie = Sekuriteit = Vryheid

Of in Afrikaans: anargie is vryheid; anargie gee vryheid. Jy mag dalk nog nie voorheen hierdie twee konsepte bymekaar gesit het nie, maar as jy mooi daaroor dink, is dit eintlik baie waar. [eintlik is daar baie ander parameters wat saam vryheid definieer, maar ons kyk nou net na hierdie een]

Hoe was die wêreld voor die mens ontstaan het? Alles was vry om te doen en beweeg soos hulle wou. Hoe was die wêreld voor die mens wette en regerings uitgedink het? Almal was vry om te maak soos hulle wou. Die probleem is egter dat as die mens in sy natuurlike vorm toegelaat word om in vryheid te bly leef, het hy/sy die vermoë om die vryheid van ander in te perk, aspris of per ongeluk. So het 'n natuurlike orde ontstaan waarin die magtigste mense kon slawe maak van ander mense (en die mens in die algemeen maak elke dag slawe van diere, en plante, en grondstowwe, en deesdae selfs bakterië en virusse - eintlik mettertyd maar alles).

Wette het dus ontstaan waarmee beoog is om mense te laat saamstem oor sekere aspekte van die samelewing, sodat almal ten minste 'n mate van vryheid kan beleef. In die moderne wêreld begin hierdie wette (en selfs sosiale norme) ons vryheid weer tot so 'n mate inperk dat ons eintlik maar net weer slawe van die moderne samelewing word.

Dis op tye wanneer ek hieraan dink, dat ek weer opkyk na die sterre. Daar heers anargie. Geen wette of reëls kan jou daar onderdruk nie. Alles is nog mooi en skoon in 'n natuurlike toestand. Dis waar ek wil wees, vry van al die nonsens waarmee ons onsself so belemmer.

Maar, gelukkig kan ek leef in my eie stukkie anargie hier op planeet Aarde. Wanneer ek op my eie is, kan ek mos maak soos ek wil. In my gedagtes kan ek dink wat ek wil. Niemand anders kan grense daarom plaas nie. En, as ek 'n grens teëkom wat ek per ongeluk toegelaat het om geplant te word, dan het ek die vryheid om dit af te breek, as ek weet hoe. Dis slegs wanneer ek in aanraking kom met ander mense dat ek myself maar sal onderwerp aan die reëls, ter wille van die behoud van vrede. Dink 'n bietjie daaroor: elkeen van ons beleef mos eintlik ons eie stukkie anargie.

Dis eintlik nogal vreemd: alhoewel ek nog effense neigings het om die negatiewe reaksies (van my natuurlike self) te koester wat normaalweg kan uitdraai daarop dat ek sal inbraak maak op iemand anders se vryheid, is ek baie bewus van daardie neigings en is ek wel instaat daartoe om aktief myself te keer om daardie reaksies uit te leef (dink 'n bietjie watter reaksies jy koester as iemand jou te na kom, en hoe jy dan in werklikheid reageer). Ek doen so omdat ek wil, nie omdat ek moet nie, want vryheid is 'n waarde wat ek aan almal gun. 'n Mens sou kon sê dat as wette nie meer bestaan het nie, sou ek hulle nogsteeds gehoorsaam het (ten minste daardie wat sin maak in terme van goeie waardes). Die vraag is: het ek hierdie vermoë ontwikkel juis omdat ek onderwerp was aan die wette, of is dit iets wat ek in elk geval sou kon aanleer deur interaksie met ander mense? Ek dink wel dat elke persoon die potensiaal het om in vrede met alles en almal anders saam te leef, en dat dít juis die mentaliteit is wat die mens eintlik benodig om wette nutteloos te maak en in volkome anargie te kan oorleef - ten minste op 'n sosiale vlak. Die San kultuur het reeds bewys dat dit moontlik is. Maar, in te veel gevalle in ons huidige samelewing, word daardie potensiaal bloot geensins ontwikkel nie. Dit vereis dan die moeite om wette toe te pas en oortreeders se vryheid weg te neem deur hulle in tronke op te sluit. Van watter waarde is dit werklik?

Ek hou dus nogsteeds van die idee dat ons tegnologie kan ontwikkel wat wette oorbodig sal maak, want dis hopeloos te moeilik om mense se mentaliteit reg te kry. Laasgenoemde is boonop nie eintlik iets wat vorseer behoort te word nie. Na my mening moet dit gekweek word deur die regte omstandighede daarvoor te skep. Plus, tegnologie sal ook kan help met nie-menslike gevare soos die magtige verdelgers van ander intelligente spesies met hul eie belaglik waansinnige wette, of massiewe swart gate wat gulsig wag om jou elementêre partikels uit jou liggaam uit te suig. ;)

2008-05-05

Anargie = Sekuriteit

Watter gedagtes word by jou opgewek wanneer jy die woord "anargie" teekom? Dalk 'n bietjie angs, 'n bietjie vrees, of eerder kleurryke beelde van 'n idilliese utopia? As jy belangstel om te volg wat hierdie aspirant-planeethoppertjie se vreemde brein-chemikalië opdis as idees en deur middel van bevele aan ratse vingers wat oor knoppies dans in elektriese seine omskakel sodat dit op 'n vertoonskerm deur jou visuele sintuie kan meng met jou eie brein-chemikalië, dan is daar dalk 'n klein moontlikheid dat ek jou uiteindelik sal kan oortuig dat die idee van anargie eintlik iets ongelooflik mooi kan wees. [sjoe, ek hoop jy kon daardie laaaang sin volg]

Die vergelyking in die titel van hierdie inskrywing kan jy van albei kante beskou en dit sal nogsteeds waar bly (soos die gelykheidsteken natuurlik aandui). Jy glo my nie?

Aan die een kant: wanneer anargie heers [hahaha, 'n bietjie van 'n paradoks?], dan is daar 'n definitiewe groot behoefte om genoegsame sekuriteit aan te skaf as jy enigsins belangstel om te oorleef. As daar nie enige polisie of weermag is om jou te beskerm nie, dan moet jy maar jou eie newe-ent beveilig. Jy kan ongelukkig nie vertrou dat ander mense nie met jou gaan lol nie.

Aan die ander kant: as elke lewende of nie-lewende entiteit volkome beskerming geniet, dan is daar mos geen plek of nut meer vir regerings en wetgewing of politieke beleide nie. Elkeen kan maak soos hy/sy lus het sonder om bang te wees dat hy/sy self seerkry of dat iemand/iets anders seergemaak kan word.

Uit ervaring weet ons dat die mens nie van nature in 'n anargie kan lewe sonder om alles en almal anders mettertyd te vernietig nie (en in die proses hom-/haarself ook). Dis mos hoekom ons wette maak - sodat ons ten minste oor 'n paar goedjies kan saamstem met die hoop dat dit sal help dat ons nie mekaar se kele sal afsny nie. Dis nogal 'n hartseer/patetiese stand van sake.

Maar, ek sien nog 'n blink toekoms, wat moontlik gemaak word deur tegnologië waarvan ons nou nog net kan droom: 'n toekoms waar jy volkome veilig kan wees teen aanslagte van enige aard - van die kleinste mikroskopiese virus-infeksie, tot die grootste kosmiese swart gat wat gulsig wag om jou elementêre partikels uit jou liggaam uit te suig.

Hoe lyk die toekoms vir jou?

[Sommige van julle mag dalk alreeds aflei wat die titel van my volgende inskrywing sal wees. Hou hierdie spasie dop vir die slotsom in my subjektiewe, onwetenskaplike en onvolledige (on)wiskundige afleiding.]
[Hersiening: Lees gerus ook die vorige en opvolgende inskrywings in hierdie reeks.]

2008-04-27

Sekuriteit = Vryheid

Verbeel jou jy is heel gelukkig besig om met jou sterrespringer van planeet tot planeet te hop, en skielik beland jy in die middel van 'n gebied waar ander intelligente wesens alreeds die ruimte begin beset het. Gestel nou dat hulle een-of-ander belaglik waansinnige politieke beleid onderskryf wat bepaal dat niemand behalwe 'n gekose groep ruimtetaxi's daardie gebied mag betree nie. Jy het geen manier om aan hulle te verduidelik dat jy nie bewus was van hul beleid nie - jy verstaan nie eens hul taal nie! En, met jou aankoms is daar alreeds outomatiese sekuriteitsrobotjies op die toneel wat nie huiwer om jou skippie aan flarde te skiet nie.

Maar wag! Toe jy laas met jou skippie by die huis was, het jy gesorg dat jy die nuutste anti-sekuriteitsrobotjie beskermingstoerusting in jou skippie integreer. Groot is die verbasing op die gesigte van die eienaars van hierdie robotjies wanneer hulle op hul sekuriteitsmonitors sien dat hul besonderse duur, "gesofistikeerde" sekuriteitstelsel nie eens 'n skrapie op jou bakwerk los nie [iemand sal daardie verkoopsman moet "aanspreek"]. Dus rol hulle die groot kanonne uit en roep hulle die hulp in van hul konfederasie se magtige verdelgers - enorme oorlogskepe waarvan jy nie eens die einde kan sien nie.

Maar, soos hulle die superverwarmde 10 000 Kelvin plasmabolle na jou toe afvuur, begin hulle self een-vir-een tot stof terugkeer en die ewigheid sien. Hulle het nie gereken daarop dat jou skippie toevallig in sy standaard model met 'n plasmaweerkaatsingstelsel by die fabriek uitrol nie.

Of dalk is hierdie situasie net plein belaglik in sigself.

Die punt van die storie is eintlik dit: as jy jouself teen enige gevaar (moedswillig of per ongeluk) kan beskerm, dan het jy mos volkome vryheid en kan jy doen absoluut net wat jy wil, sonder agting vir enige politieke beleide of wette waarvan jy bewus of onbewus is - behalwe natuurlik om iemand (of iets) anders seer te maak wat die selfde beskerming geniet. Dink 'n bietjie hoe hierdie idee (selfs in 'n afgeskaalde sin) in ons wêreld van toepassing is, in vandag se tye en ook deur die geskiedenis.

Ons is nog baie ver van die tipe situasie wat hierbo uitgebeeld is, maar vir die hier-en-nou op planeet Aarde begin ons alreeds tegnologië bekom wat ons sal toelaat om onself ten minste teen ons eie primitiewe projektiel-afvurende handwapens (ook beter bekend as gewere) te beskerm. Vordering in nanotegnologie het al begin aandui dat ons dalk nog binnekort gewone klere sal kan dra wat bestand is teen koëls. Meer onlangs, het verdere vordering met dieselfde tegnologie gewys dat ons klere selfs die koëls sal kan laat terugbons, eerder as om 'n bloukol op jou vel te los.

Die vraag bly staan natuurlik oor wanneer hierdie produkte kommersieel beskikbaar sal wees en hoeveel arms en bene jy sal moet gee om dit te bekostig.

[Hersiening: Lees gerus ook die volgende en opvolgende inskrywings in hierdie reeks.]

Ruimteagentskap vir SA

Ek het hierdie naweek uitgevind dat Suid-Afrika op die punt staan om 'n nasionale ruimteagentskap te stig. Hierdie plan is blykbaar vir 'n geruime tyd al aan die ontwikkel. Een van die kern doele is om die Houwteq fasiliteite in Grabouw by Denel oor te koop en op te knap sodat dit gebruik kan word vir ontwikkeling van satelliete, en ook potensieël ons eie lanseervermoëns (ook bekend as vuurpyle).

'n Mens kan 'n bietjie wonder oor wat die agentskap se naam sal wees, want daar is alreeds heelwat ander instansies met die naam

SANSA (vir SA Nasional Space Agency)

sowel as die huidige voorlopige keuse van

SASA (vir SA Space Agency).


Alhoewel ek 'n voorstander is vir die bevordering van ruimtetegnologie, is ek egter nog half in twee gedeel oor hierdie idee.

Wat dink jy? Sien jy 'n rooskleurige toekoms waarin SA dalk selfs die vermoë sal ontwikkel om Suid-Afrikaners na die Maan te stuur [nie dat dit in die plan is nie], of sal dit maar soos menige ander staatsinstansies lei onder korrupsie, wanbestuur en algemene rompslomp [ek was nou te lui om verwysings hiervoor te soek, maar jy behoort dit gereeld in die nuus te sien]?

2008-04-19

Die nietigheid en ewigheid van tyd

Hoeveel planete sal jy graag in jou leeftyd wil besoek? Ek sal graag wil uitvaar op 'n planetejag en so veel as moontlik wêrelde sien waar daar alreeds vorms van lewe bestaan. Hoe sal ons visuele sintuie nie geprikkel word wanneer ons sulke ondenkbare nuwe natuurskoon aanskou nie?

Hoe lank sou dit my neem om so baie wêrelde te besoek? Met soveel onbekendheid daar buite in die ruimte sal dit 'n ewigheid neem, en nog meer, om my nuuskierigheid te bevredig. Maar, met my huidige lewensverwagting (wat nog verder kortgeknip is deur verskeie vorme van besoedeling), sal ek waarskynlik nie eens die dag sien wat ons eerste ruimteskippie 'n nuwe wêreld langs 'n ander ster bereik nie.

So hoe nou gemaak? Ek sal my maar wend tot die ongelooflike krag van die mediese wetenskap in die hoop dat ek vir ewig kan jonk bly - wel, ten minste tot ek doodgaan.

Daar was al baie filosofiese en sosiologiese debatte oor die implikasies en wenslikheid van lewensverlenging. Maar, ek hou daarvan om daarna te kyk uit 'n praktiese oogpunt, veral met die oog op my uiteindelike planeethopvermoë.

Daar is baie brokkies inligting wat ek nog sal wil deel oor hierdie onderwerp, maar vandag het ek 'n interessante een raakgeloop wat ek solank hier wou noem. Die meeste mense is bewus van ons afhanklikheid van insulien om ons bloedsuikervlakke in toom te hou sodat ons nie suikersiekte of ander verwante siektes ontwikkel nie. Maar, wat meeste mense (insluitend ek self) nie weet nie, is dat insulien eintlik 'n tweesnydende swaard is. Dit is ook verantwoordelik daarvoor dat ten minste twee tipes proteïene onderdruk word, wat andersins help om weerstand te bied teen oksidasiestres, verskeie gifstowwe en ander vorme van stres. Met ander woorde, insulien veroorsaak ook dat ons nie so lank kan jonk en gesond bly as waartoe ons dalk in staat is nie.

Ek wonder hoe lank die spesialiste sal neem om onder die kap van hierdie byl te kom en vir ons so toelaat om meer gesonde lewens te begin beleef.

2008-04-13

Sterrekinders

Ek het Vrydagaand vir Martian Child op DVD gekyk. Dit laat 'n mens nogal 'n bietjie dink oor jou plek in die wêreld - hoe almal altyd wil hê dat jy normaal moet wees. Dit het my weer herinner aan hoeveel keer ek al self gewonder het of ek nie dalk van 'n ander planeet af kom nie - selfs meer so as 'n grootmens as toe ek 'n kind was.

Ek wonder nou hoeveel ander mense nie al daardie selfde vraag oor hulself gevra het nie. Ons is almal tog juis nié normaal nie en ek sal nie verbaas wees as ons almal so nou en dan voel of ons nie regtig inpas in die samelewing nie. "Wie sal dan nou ooit kan begryp wat in my gedagtes aangaan?" Jy sou selfs jou verbeelding kon vrye teuels gee en wonder of dit nie dalk 'n ingeboude terughunkering is na ons werklike geboorteplek nie: die sterre.

Ja, ons is tog almal sterrekinders, geskep uit sterrestof, vervaardig in die groot sonfabrieke van die melk-weg waar produksielyne verfyn is tot op die femtoskaal, by die punt waar twee atoomkerne saamsmelt en 'n nuwe chemiese element vorm - net so uniek teenoor al die ander elemente soos 'n enkele persoon teenoor al sy medemense.

2008-04-10

Sterrespringer

As jy dalk nog onder die indruk is dat ons met die vuurpyle van vandag (of selfs van more) by 'n nuwe wêreld sal uitkom, het ek ongelukkig slegte nuus vir jou. Ek sal sien of ek later 'n bietjie kan uitbrei hieroor. O ja, en Mars tel nie, want ons het alreeds met hom kennis gemaak (al ons ander planete ook).

Wat ons nodig het, is 'n sterrespringer - 'n vaartuig wat van een ster tot 'n volgende kan spring met 'n blote knip van jou oog. Nou goed dan, miskien nie heeltemal so vinnig nie, maar ten minste binne 'n sinvolle tyd sodat ons nie almal oupa- of oumagrootjies is nog voor ons ons eerste bestemming bereik het nie.

Natuurlik gaan die kennis wat ons ontvang het van ons wyse leermeesters, Isaac Newton en Albert Einstein, ons nie veel help nie. Jy mag dalk dink dat ons dan vir ewig verdoem is tot hierdie een planeet, maar wat jy dan nie weet nie, is dat daar alreeds sprake is van meganismes wat dalk sterspringery sal toelaat.

Min mense het al gehoor van Burkhard Heim, want hy het nie veel uit die huis gekom en met mense gemeng nie. Maar wat Heim gedoen het, is merkwaardig. Hy het kennis van kwantum fisika geneem en dit gebruik om Einstein se algemene relatiwiteitsteorie uit te brei. Daarmee kon die massa van fundamentele partikels teoreties bereken word tot 'n akkuraatheid wat goed ooreenstem met werklike metings - iets wat die standaard model blykbaar nie kan doen nie.

Walter Dröscher en Prof. Jochem Häuser het gebou op Heim se werk en onlangs 'n nuwe moontlikheid vir reise deur die kosmos voorgestel. Sal hul voorgestelde eksperimente misluk, of skyn hulle dalk wel 'n liggie op die pad na ons uiteindelike planeethoppery?

2008-04-09

My huisie is 'n ruimteskip

My geboorteland is in anargie, of bitter naby daaraan. Die polisiemag en ander wetstoepassers sukkel maar om selfs net 'n bietjie orde te behou. Die regering het amper geen benul van eens basiese dienslewering nie. Helfde van die weermag is besig om ander lande te "help". Heelwat burgers begin voel dat dis nou maar elke-man-vir-homself.

Jy kan nie meer vertrou dat jou ligte gaan aanbly nie [gelukkig save blogger.com my post outomaties]. Jy is nie werklik gewaarborg van genoeg skoon drinkwater nie. Die paaie is net-net rybaar. Die rioolstelsels begin ook nou kraak. Jy kan glad nie verwag dat iemand anders jou gaan beskerm teen booswigte nie. Vir alle praktiese doeleindes is ons eintlik maar terug in die "wilde weste" en jy moet maar begin kyk na hoe jy vir jouself kan sorg.

Dis nie besonders anders as hoe dinge in die buitenste ruimte is nie [al ooit daardie briljante reeks "Firefly" gesien?]. Daar is geen reëls daar nie: geen polisie wat jou gaan arresteer as jy jou skippie op iemand anders se maan parkeer nie; geen kos of water nie; geen badkamergeriewe nie; geen beskerming teen die elemente nie; omtrent geen van enigiets nie. Jy moet alles wat jy nodig het saam met jou vat (en genoeg vir waarheen jy ookal oppad is).

So kan jy sien dat enige tegnologie wat jou sal instaat stel om in jou ruimteskippie te oorleef, presies net so vir jou ook sal instaat stel om in jou huisie in enige land (met of sonder orde) te kan oorleef - tot 'n groot mate in elk geval. Wag 'n bietjie - jy't dan nie eintlik eens 'n huisie nodig nie, het jy?

Jou skippie ís jou huisie.

[Ons het nog nie skippie-huisies nie, maar ek kan seker solank my huisie begin inrig soos 'n skippie.]

Laat ons ver-trek

Kom ons spring gou eers 'n entjie in die toekoms in. Gestel ons het nou reeds ons ruimteskip wat ver genoeg kan reis sodat ons nuwe wêrelde kan ontdek. Al die tegniese kwessies is uitgesorteer. Al wat oorbly is:
  • Waar gaan ons heen?
  • Wie gaan saam?

Wel, ons sal nogal 'n baie goeie idee kry van hoe die destydse seevaarders moes voel toe hulle weggeseil het na nuwe onbekende wêrelde. Hulle was gedryf deur ekonomiese kwessies. Ons is ook. Ons sal die bestemming moet kies wat die minste gaan kos en die grootste potensiaal het vir winslewering - al is dit 'n immateriële (aan)wins dat ons 'n nuwe toeristebestemming gevind het. Ons moet dus soek vir sonnestelsels waar daar 'n groot potensiaal vir lewe (plante en diere) bestaan, maar wat relatief naby aan ons sonnestelsel geleë is. Ons wil ook nie te ver gaan nie, want niemand anders was al so ver nie, en ons wil nog ons pad huistoe kan vind.

Ek het al 'n paar mense in gedagte vir wie ek sal saamnooi op my eerste ruimterits.

Ek sal 'n natuurlike kommunikasie-/taalboffin benodig indien ons enige intelligente wesens raakloop, maar ook om vir my en ons mede-planeethoppers op ons tone te hou met spitsvondige woordekuns.

Ek sal sekerlik 'n gesoute geoloog saamneem, veral een met 'n bietjie kennis van die sterre.

Ek sal 'n paar ingenieurskennisse saamnooi om te help met instandhouding, probleemoplossing en interessante gesprekvoering.

Ons sal ook 'n mediese span benodig om seker te maak ons bly almal gesond. Dit sal seker 'n sielkundige insluit.

Daar is ook nog 'n paar ander kennisse wat ek sal saamnooi net omdat ek so baie van hulle hou. :)

Het ons iemand belangrik agtergelaat? Sal jy wil saamgaan? Hoe sal jy my oortuig as ons beperkte plek het?

Van Fiksie tot Wetenskap

So, die wêreld is byna op sy kop omgekeer. Sekere van ons besef dit 'n bietjie beter as ander. En dan is daar ook die paar geseëndes wat nog in salige onbewustheid niks fout kan sien nie. Hierdie is egter nie nuut nie - dis 'n nalatingskap wat die mens al vir eeue met hom saambring. Soms raak dit nogal besonders moeilik om nog die goeie dinge in die lewe raak te sien. Dit is nie verbasend nie, want die menseplaag verorber alles rondom hom en los al minder oor vir werklike waardering.

Kan ek jou dalk interesseer in 'n droom?

'n Droom wat nie noodwendig so vreeslik verregaande is nie.

As jy op 'n helder aand opkyk na die knipogies in die hemelruim, wonder jy ook soms wat daar in die verte lê? Kom saam met my, dan gaan vind ons uit.

"Jy maak seker 'n grap!" hoor ek iemand sê. Natuurlik kan ons nog nie vandag al gaan nie, want ons kort nog 'n ruimteskippie wat so ver kan reis. Maar, intussen kan ek vir jou wys hoe naby ons al daaraan is om een te bou. En met die pad langs sal ek jou sommer ook vertel van 'n hele klompie ander feite wat die uiteindelike avontuur soveel meer interessant sal maak.

Nou wat nou? Wil ek dan wegvlug van hierdie stukkende planeet, net om 'n ander een te gaan verniel? Alles behalwe! Ons bron van vele inspirasie, die VSA se nasionale ruimteagentskap, NASA, het al baie kere gewys hoe vordering in ruimtetegnologie juis ook tot voordeel kan wees vir lewe hier op aarde (en uiteindelik ook op ander wêrelde). As jy volgende keer weer kom inloer sal jy dalk reeds 'n beter idee kan kry van hierdie konsep. Buitendien, planeet Aarde is tog my tuiste, my geboorteplek. Ek het ontstaan uit haar* stof. Ons is een en dieselfde. Hoe kan ek nie alles in my vermoë doen om haar te red nie?

[Hierdie is my eerste inskrywing van my eerste blog. Dit sal seker 'n rukkie neem om behoorlik aan die gang te kom, maar ek hoop iemand anders sal ook die avontuur geniet.]

* - 'n speelse verwysing na die gewilde konsep van "moeder natuur",of Gaia, uit die Griekse mitologie