Showing posts with label Sinapsstappies. Show all posts
Showing posts with label Sinapsstappies. Show all posts

2010-11-16

Vriendskap

Ek knipoog vir jou, en jy knipoog terug. So knipoog ons na mekaar vir dekades, nee eeue, alreeds. Jy verhelder my dag, en my nag, soos ek ook joune verlig. Al is die afstand tussen ons ver, kan ek jou enige tyd sien, en weet alles is nog reg, en ek het nog rede om te bestaan, en ek het nog nie my verstand verloor nie, want jy is 'n onbeweegbare toring in my donker lewensoseean, en jy knipoog nogsteeds na my.

[ Sjoe, ek het nogal lanklaas iets geskryf. Maar dis sekerlik omdat ek nou meer probeer tydmaak vir frizbee saam met vriende en vir lekker kuier met goeie geselskap. Ek wonder nogal wie sal kan raaksien watter vriendskap ek hierbo beskryf. ]

2008-07-27

Salige Stilte

Jou lippe roer, maar die vibrasies tref nie my oordromme nie. Daar is geen lugmolekules hier, tussen jou en my, wat op die branders van jou stem kan dobber nie. Alles is stil, salig stil, hier in die gapings tussen die hemelliggame. Hier is niemand wat in my ore skreeu nie, geen radio omroepers wat simpel musiek uitbasuin nie, geen televisies wat blêr in die agtergrond nie, geen motors wat verby suis nie, of vragmotors wat verby brom nie, geen treine wat klank-klank nie - net doodse, salige stilte. Kan ons net nog 'n rukkie langer hier bly?

2008-06-04

Anderkant die Blou Berge

Onthou jy die dae as kind, toe jy nog in 'n klein dorpie gewoon het, omring deur enorme blou berge, behalwe na die Weste, waar 'n dun kronkelpaadtjie jou na die volgende dorp kon neem, en na die Suide waar die groot blou see uitgestrek het tot ver verby die horison? Die ou vissermanne het altyd vertel hoe die berge langs die kus af strek tot waar die oog nie kan sien nie, en niemand was al ooit so ver met 'n klein vissersbootjie nie.

Onthou jy die brandende begeerte vir avontuur en ontdekking van die onbekende, en die nuuskierigheid oor wat anderkant die groot blou berge lê? Onthou jy die planne wat jy beraam het om eendag jou klein dorpie te verlaat sodat jy daardie berge kon uitklim en vir die wêreld kon vertel wat jy daar gesien het? Of, onthou jy dalk eerder hoe jy nog wou sien wat anderkant die groot blou see lê?

Nie? Hmmm... wel, ek ook nie.

Maar ek het my vanoggend dit verbeel toe ek na die berge rondom my geboorte dorpie kyk, en probeer indink hoe dit moes voel om as klein seuntjie daar groot te word in die tye toe die wye onbekende nog anderkant daardie eens magtige blou berge uitgestrek gelê het. Vandag is daar 'n wye kronkelpad waarop jy gemaklik met 'n motor langs die berg kan opry en verby tot by die volgende dorp en selfs verder - sonder veel moeite, en sonder om eens die kleinste bietjie aandag te gee aan hoe ontoeganklik daardie wêreld was so ver in die verlede. En met lugvervoer en vingerpuntkennis, gaan kuier ons sommer maklik by vriende en familie anderkant die eens magtige blou see.

Hoekom moet ek nou anders voel as 'n klein seuntjie wat opkyk na die enorme blou hemelruim, en wonder wat daar anderkant lê. Natuurlik het die wilde wye spinnerak van kennis vir ons al aan heelwat van daardie wêreld bekendgestel, want ander avonturiers het reeds hul biologiese en meganiese oë daarheen gestuur. Maar, daar is nog soveel onondekte onbekendheid daar buite. Hoeveel monsters en juwele en fantastiese kulture en ongelooflike medisynes lê nie en wag vir ons daar ver nie? Ek sal nogal graag eendag hierdie klein aardeballetjie wil verlaat sodat ek daardie blou hemelruim kan oorsteek en vir die wêreld vertel wat ek alles daar gesien het. En jy?