2008-06-19

Beter dae

Somtyds kyk ek na die wêreld, en sug dan vir al die boosheid wat ek sien. In sulke tye is dit maklik om te verlang na die dag wat ek met my ruimteskippie hierdie plek kan verlaat, en selfs my te bekommer dat daardie dag nog so ver weg lê.

Maar, diep binne myself sien ek ook die boosheid raak - daardie selfde boosheid waarvan ek wil wegvlug. Dalk is dit 'n goeie ding dat ek nog nie 'n ruimteskippie besit nie. Dalk sou ons menseboosheid maar net mettertyd versprei tot daardie nuwe wêrelde wat ek sou besoek. Dalk is dit beter dat ek eers moet leer om van my eie boosheid ontslae te raak.

Was die wêreld nie eens 'n beter plek nie? Dalk nie, maar daar was sekerlik spesifieke tye wat dinge beter gegaan het. En selfs vandag is daar nog plekke waar goeie dinge gebeur. Kan ons dalk iets leer daaruit?

Ek dink die wêreld was beter toe:
  1. die lug skoon was
  2. daar minder motors op die paaie was
  3. daar minder mense was
  4. almal genoeg gehad het om hul dors te les en honger te stil en rustig te slaap
  5. daar nie sprake was van sosiale status (en gepaardgaande besit van blink goetertjies) nie
  6. jy nog die paaiemente van 'n lening op 'n redelike huis kon bekostig met 'n redelike salaris
  7. jy nog 'n huis kon koop met 'n tuin groot genoeg om jou bene uit te strek
  8. daar nog meer bome as geteëlde dakke in woonbuurte was
  9. daar nog wye oop natuurlike spasies in jou tuisdorp was
  10. kinders nog veilig in publieke areas kon speel
  11. jy nie konstant moes vrees vir jou of jou kinders se lewe nie
  12. jy nie enige bekommernisse gehad het nie
  13. jy nog die vermoë gehad het om jou God te vertrou
  14. mense nog vir mekaar omgegee het
  15. daar eerbaarheid was in beskerming van swakkes
  16. jy 'n vreemdeling in nood kon uithelp sonder om te verwag dat hy jou sal te na kom
  17. mense nie rede gehad het om mekaar te wantrou nie
  18. mense nog kon opstaan vir reg, en teen verkeerd
  19. menslikheid nog belangriker was as mensegedrag
  20. mense nog kon waardeer hoe kosbaar die lewe is
  21. leiers met wysheid kon regeer tot voordeel van al hul mense
  22. leiers nie net hul magsposisies wou misbruik vir eie gewin nie
  23. goed genoeg nie goed genoeg was nie
  24. mense nog kon droom
Dit herinner my nogal tot 'n mate aan my kinderdae. Kan ons nie maar net almal weer kinders word nie? Dan kan ons weer rondhardloop in ons buurte en maatjies maak met ander vreemde kinders, en toebroodjies uitruil of deel met honger maatjies, en mekaar beskerm teen boelies (met kleilatte en ertjieblasers ons gevaarlikste wapens), en boomhuise bou, en met ons fietse mekaar jaag, en in die lang gras op die heuwel lê en opstaar na die sprokies wat die wit wattewolkies vir ons vertel, en lag, uit die holtes van ons mae, en vertrou dat ons magies gevul sal word wanneer ons by die huis kom, en vir niks banger wees nie as vir 'n pakslae of 'n denkbeeldige monster onder die bed.

[Soos jy kan sien, fokus my lysie op menslike faktore - alles te danke aan mense en alles afhanklik van mense se denkwyses en gedrag. My lysie is onvolledig. Vertel my asseblief wat, na jou mening, die wêreld 'n beter plek maak / gemaak het. En ja, wees maar snaaks - net nie bar nie (kinders mag dalk ook hierdie blog lees).]

3 comments:

Pieter said...

Ek dink hierdie ervaringe kan daaraan toegeskryf word dat jy juis jou kindertyd met jou grootmenstyd vergelyk. Wanneer jy 'n kind is, absorbeer jou ouers die bekommernisse jy beskryf. As kind is jy ook onskuldig en onervare. Vir my is alles 'n kwessie van persepsie en ek glo dat 'n mens jou eie perspektief bepaal. Ek probeer ook om vorentoe te kyk en die nou te beïnvloed, want gister is verby en môre kom nog.

Muriel said...

Ek hou baie van jou blog!!

Francois Cilliers said...

@Pieter: dis 'n waardevolle opmerking wat jy maak. Tog is baie van die punte in my lysie gebasseer op omstandighede lank voor my geboorte (selfs so ver terug as toe mense nog jagter-/versamelaar lewens gelei het). Ek sou huiwer om te sê dat alles afhanklik is van perspektief, want omstandighede verander ongeag jou perspektief. Perspektief beïnvloed bloot hoe jy oor die wêreld voel. Maar, die wêreld is ook nie noodwendig 'n beter plek as almal voel dat alles orraait is nie.

Wanneer ek vra of ons nie almal weer kinders kan word nie, bedoel ek dit juis ook in terme van perspektief - ons kan mos natuurlik nie letterlik weer kinders word nie. Maar kinders is nie altyd onskuldig nie. Hulle kan soms tot selfs meer boosheid in staat wees as grootmense, juis as gevolg van onkunde (ek het self dinge gedoen as kind waaroor ek vandag spyt is). Ek dink dat as ons die goeie / eenvoudige perspektiewe van kindwees kan kombineer met die ervaring was ons deur die jare opgedoen het, sal die wêreld verlos kan word van baie "issues" wat vandag vir ons net probleme veroorsaak.

Ek hou ook meer daarvan om na die toekoms te kyk, soos jy seker kan agterkom uit die inhoud van hierdie blog. Ek neem dinge selfs tot die ekstreem dat ek meer in die toekoms lewe as in die hede. Ek dink egter dis belangrik om te leer uit die lesse van die verlede, eerder as om dit net te begrawe en daarvan te vergeet.

@Muriel: ek is bly vir elke persoon wat 'n stukkie plesier uit hierdie skeppings kan ontgun. Nooi gerus ander om saam te kom speel en gesels ook saam, veral as jy met iets nie saamstem nie.