Showing posts with label Inleiding. Show all posts
Showing posts with label Inleiding. Show all posts

2008-08-17

Ek is 'n spikkel

Miskien het jou skoensole al die grond van 'n ander land gekus. Of, dalk het jou tone selfs omgekrul van plesier in die gras wat soveel groener is by jou nuwe tuiste aan die ander kant van die wêreld. Jy sal dan sekerlik vertroud wees met die idee van wisselkoerse en die koopkrag van jou tuisland se geldeenheid.

Het jy al ooit gewonder hoe hierdie konsepte oorgedra sou word na ander wêrelde daar buite in die wye kosmos? Nie? Wel, ek het.

Wanneer ons nuwe wêrelde begin koloniseer, watter geldeenheid sal ons gebruik? Hoeveel koopkrag sou ons kolonies hê wanneer hulle handel dryf met die tuiswêreld, moeder Aarde? En as ons per toeval vreemde intelligente wesens van ander wêrelde raakloop, sal hulle dalk kliphard uitbars van lag wanneer ons klein gekleurde papiertjies met hulle wil ruil vir 'n koeldrankie?

Het jy al ooit werklike armoede van naby beskou? Hoe laat dit jou voel? Waarom is sommige mense so ryk dat hulle nie eens weet wat om met al hul rykdom te maak nie, terwyl ander in die aand op 'n yskoue sypaadjie onder 'n dun lappie opgekrul lê en wonder waar hulle môre iets gaan kry om te eet? Sou hierdie gaping tussen ryk en arm ons ook mettertyd agtervolg wanneer ons eendag op vreemde wêrelde ons alewige rotresies voortsit?

Het jy al ooit gedroom van 'n werk met minder ure? Is jy tevrede met die minimum voorgeskrewe jaarlikse verlof wat elke gewone werker toekom? Het jy ook al 'n honderd-en-twaalf stories op TV gesien wat jou keer-op-keer laat besef dat dit baie meer waardevol is om tyd saam met familie en vriende te spandeer, of in die skone natuur waar jy liters vol kraakvars, onbesoedelde lug kan inasem, as wat dit is agter 'n lessenaar in 'n piepklein afskortinkie? Hoekom bly die meerderheid van ons geboei deur die kettings van die ekonomie wat van ons vereis om die beste deel van ons dag op te offer sodat ons net 'n skynbaar-gemaklike lewe kan bekostig?

Ons leermeester aanboord, die eerbare Mnr. Muller, het onlangs ons breinselle geprikkel met die wonder of kapitalisme dalk binnekort ineen gaan stort. Daar is ook elders 'n bespreking oor hierdie moontlikheid. Maar, is kapitalisme werklik die oorsaak van armoede? Kan sosialisme wel die oplossing wees? Is 'n gemengde ekonomie dalk beter, of slegter? En, watter van die vele ekonomiese stelsels sal geskik wees vir interplanetêre handel? Sal ons geld gebruik? Waar kom geld in elk geval vandaan? Was ruilhandel nie 'n beter stelsel nie?

Vrae, vrae, en nog meer vrae. Ek is nou nie 'n kenner op die gebied van ekonomie nie, maar hierdie tipe vrae hou my gedagtes deesdae amper konstant besig. Ek wil leer hoe ek vir myself (en ander) 'n beter lewe kan skep, en terselfde tyd eendag 'n ruimteskippie kan bekostig. Gevolglik probeer ek verstaan hoe ek, 'n piepklein spikkel, inpas in die magtige omwentelling van fondse, wat heeldag en elke dag rondtuimel soos die oseaanstrome, in transaksies wat plaasvind met 'n straatverkoper, in 'n supermark, in korporasies se aankope departemente, op die effektebeursvloer, oor landsgrense, en selfs in ons nuwe aanlyn skynwêrelde. Hopelik sal ek soos tyd verloop sommige van my ontdekkings ook hier kan deel, veral soos benodig vir sinvolle planeethoppery.

Maar, vir eers sal ek jou los om self 'n bietjie met al hierdie vrae te worstel (as jy nog nie het nie). Gesels gerus saam. Ek is altyd nuuskierig om te hoor wat ander mense dink.

2008-06-16

Why no English?

My initial language-processing neurological pathways were constructed around the scaffolding of symbols and sounds that are collectively known as the Afrikaans language. Yet, even before I went to school, while those same synaptic networks were still very pliable, I already had a couple of English friends. By now, thanks to many good teachers, I can think and communicate in both languages almost equally well.

At the conception of this blog, I found it quite hard to decide on which language it would be based. On the one hand, I feel that I can conjure up more vivid and colourful images and expressions (including a few amusing neologisms) when using Afrikaans. I mean, an expression like "little planet hopper" just does not have the same ring to it than "planeethoppertjie" does. On the other hand, I have many English speaking friends that do not understand Afrikaans.

This blog was initially aimed at providing some alternative, light-hearted amusement to friends (and, to whomever else finds it enjoyable, and while at the same time serving as a medium to share some fascinating discoveries that I have made, either from following scientific news, or from merely observing my environment). As such, I would have found it more pleasurable to make it accessible to all of them. But, as I considered all the factors, I could not ignore the multitudes of existing English blogs that already serve a similar purpose. I have very little time at my disposal (and so does my intended audience), so it is important to me that I don't become just another blogger with no significant value to add. I had to create something unique that could not be found elsewhere on the web. So, Afrikaans it had to be.

It is sad to me that many of my friends will never have the opportunity* to laugh at my creations and come along to play on far away, breathtaking worlds, unspoilt by evil human hands. But at least (I hope) this is not a dull blog. ;)

I do, however, believe that I may on specific occasions feel inclined to compose an English entry. This would mostly happen when I want to share knowledge or understanding about material that is not available in general on the web. I shall categorise such entries under the "English Posts" label, which you can find on the menu bar to the right.

* Even with the appearance of automated language translators, many of the underlying cultural nuances might not be recognised and therefore loose its comic effect.

2008-04-09

Laat ons ver-trek

Kom ons spring gou eers 'n entjie in die toekoms in. Gestel ons het nou reeds ons ruimteskip wat ver genoeg kan reis sodat ons nuwe wêrelde kan ontdek. Al die tegniese kwessies is uitgesorteer. Al wat oorbly is:
  • Waar gaan ons heen?
  • Wie gaan saam?

Wel, ons sal nogal 'n baie goeie idee kry van hoe die destydse seevaarders moes voel toe hulle weggeseil het na nuwe onbekende wêrelde. Hulle was gedryf deur ekonomiese kwessies. Ons is ook. Ons sal die bestemming moet kies wat die minste gaan kos en die grootste potensiaal het vir winslewering - al is dit 'n immateriële (aan)wins dat ons 'n nuwe toeristebestemming gevind het. Ons moet dus soek vir sonnestelsels waar daar 'n groot potensiaal vir lewe (plante en diere) bestaan, maar wat relatief naby aan ons sonnestelsel geleë is. Ons wil ook nie te ver gaan nie, want niemand anders was al so ver nie, en ons wil nog ons pad huistoe kan vind.

Ek het al 'n paar mense in gedagte vir wie ek sal saamnooi op my eerste ruimterits.

Ek sal 'n natuurlike kommunikasie-/taalboffin benodig indien ons enige intelligente wesens raakloop, maar ook om vir my en ons mede-planeethoppers op ons tone te hou met spitsvondige woordekuns.

Ek sal sekerlik 'n gesoute geoloog saamneem, veral een met 'n bietjie kennis van die sterre.

Ek sal 'n paar ingenieurskennisse saamnooi om te help met instandhouding, probleemoplossing en interessante gesprekvoering.

Ons sal ook 'n mediese span benodig om seker te maak ons bly almal gesond. Dit sal seker 'n sielkundige insluit.

Daar is ook nog 'n paar ander kennisse wat ek sal saamnooi net omdat ek so baie van hulle hou. :)

Het ons iemand belangrik agtergelaat? Sal jy wil saamgaan? Hoe sal jy my oortuig as ons beperkte plek het?

Van Fiksie tot Wetenskap

So, die wêreld is byna op sy kop omgekeer. Sekere van ons besef dit 'n bietjie beter as ander. En dan is daar ook die paar geseëndes wat nog in salige onbewustheid niks fout kan sien nie. Hierdie is egter nie nuut nie - dis 'n nalatingskap wat die mens al vir eeue met hom saambring. Soms raak dit nogal besonders moeilik om nog die goeie dinge in die lewe raak te sien. Dit is nie verbasend nie, want die menseplaag verorber alles rondom hom en los al minder oor vir werklike waardering.

Kan ek jou dalk interesseer in 'n droom?

'n Droom wat nie noodwendig so vreeslik verregaande is nie.

As jy op 'n helder aand opkyk na die knipogies in die hemelruim, wonder jy ook soms wat daar in die verte lê? Kom saam met my, dan gaan vind ons uit.

"Jy maak seker 'n grap!" hoor ek iemand sê. Natuurlik kan ons nog nie vandag al gaan nie, want ons kort nog 'n ruimteskippie wat so ver kan reis. Maar, intussen kan ek vir jou wys hoe naby ons al daaraan is om een te bou. En met die pad langs sal ek jou sommer ook vertel van 'n hele klompie ander feite wat die uiteindelike avontuur soveel meer interessant sal maak.

Nou wat nou? Wil ek dan wegvlug van hierdie stukkende planeet, net om 'n ander een te gaan verniel? Alles behalwe! Ons bron van vele inspirasie, die VSA se nasionale ruimteagentskap, NASA, het al baie kere gewys hoe vordering in ruimtetegnologie juis ook tot voordeel kan wees vir lewe hier op aarde (en uiteindelik ook op ander wêrelde). As jy volgende keer weer kom inloer sal jy dalk reeds 'n beter idee kan kry van hierdie konsep. Buitendien, planeet Aarde is tog my tuiste, my geboorteplek. Ek het ontstaan uit haar* stof. Ons is een en dieselfde. Hoe kan ek nie alles in my vermoë doen om haar te red nie?

[Hierdie is my eerste inskrywing van my eerste blog. Dit sal seker 'n rukkie neem om behoorlik aan die gang te kom, maar ek hoop iemand anders sal ook die avontuur geniet.]

* - 'n speelse verwysing na die gewilde konsep van "moeder natuur",of Gaia, uit die Griekse mitologie