2011-08-10

Eendag as ek jonk is: Generasiegapings


[ Ek sou verkies om julle nie te bemoei met 'n lang leesstuk nie, maar hierdie inskrywing moet seker opmaak vir my afwesigheid. ;) Ek vermoed dit sal wel maklik lees. ]

Normaalweg bespreek ek die konsep van verjonging in terme van fisiologiese implikasies. Vandag wil ek dink aan sosiologiese gevolge.

As almal soos 17-jariges lyk wanneer ek my 200ste verjaardag vier, hoe is 'n mens veronderstel om uit te ken wie is nou werklik 17 en wie is dalk reeds 117? Dink net vir 'n oomblik aan al die implikasies, ramifikasies, konsternasies, en deurmekaargeknoopde situasies. Sal dit soortgelyk wees aan hoe 'n persoon van 40, wat hou van 'n glasie whisky of rooiwyn saam met 'n sigaar of 'n elegante gourmet maaltyd, dit eintlik besonders moeisaam vind in die geselskap van tieners wat gesels oor modegiere, skaatsplanke, televisiereekse en danspartytjies? Op hoeveel afsprake sal mans en vrouens met mekaar moet uitgaan voor hulle besef dat hul wêrelde totaal verskil? Sal daar wette wees wat 90-jariges verbied om 18-jariges te soen? Hoeveel meer verdraaid sal sepieverhoudings raak as jy kort-kort kan skei en dan met iemand van meervoudige geslagte jonger of ouer trou?

Ek vind dit insiggewend om te kyk na die verskeidenheid van persoonlikhede en vlakke van volwassenheid wat tans oor alle generasies bestaan. Daar is wel 30-jariges wat nog hou van danspartytjies, en 20-jariges wat met waardering kan teug aan 'n glasie whisky. Daar is 40-jariges wat nog vir tieners 'n toertjie of twee met 'n skaatsplank kan wys, en 19-jariges wat met verwondering kan proe aan 'n gourmet gereg. En sekere 50-jariges is nog net so behep met modegiere soos 15-jariges, terwyl sommige 16-jariges alreeds hul eie uniekheid aangryp.

Dis baie sigbaar hoe mense oor verskillende generasies neerkyk op mekaar of minagting het vir mekaar, of selfs minderwaardig voel teenoor mekaar. Dis die oerinstink van dominerende denke. Ek vermoed dis dalk hoekom tieners so geneig is om te rebelleer en met 'n passie wil bewys dat hulle op gelyke voete met grootmense kan staan. Maar, jy kry ook mense van alle generasies wat respekvol is met mekaar en op 'n gemeenskaplike vlak kan kommunikeer met mekaar.

Ek hou daarvan om alle mense, ongeag of dit 'n baba of 'n afgetredene is, op dieselfde manier te behandel. Ek kan dalk nie met almal op 'n gemeenskaplike vlak kommunikeer nie, maar ek sien geen rede hoekom ek op 'n 9-jarige kind moet neerkyk of moet minderwaardig voel teenoor iemand met 40 jaar meer lewenservaring nie. Ek kan net so lekker speel met 'n 5- of 11-jarige kind as wat ek kan gesels met 'n 30- of 40-jarige grootmens. Almal is mense. Sommiges het bloot net 'n paar jaar minder ervaring. En, hulle benodig maar net 'n paar jaar om in te haal met die res.

---

Soos Stephen Covey uitwys in sy boek "The 7 Habits of Highly Effective People", besit alle persone verskillende vlakke van volwassenheid oor verskillende dimensies van die lewe (fisiek, verstandelik, en emosioneel). Alhoewel ek alreeds 'n beduidende mate van volwassenheid bereik het in verskeie dimensies, is ek self maar nog 'n kind in sommige opsigte. Oor die afgelope jaar, is ek aan 'n aantal nuwe ervaringe blootgestel wat my intens bewus gemaak het van hierdie feit, veral omdat die verwante situasies my gedwing het tot 'n deeglike dosis "soul-searching".

Ek hou van die aanhaling uit die "Nox" episode van die Stargate SG-1 televisiereeks, wat sê: "the very young do not always do as they are told". Dit verwys na hoe die rebelse dwaasheid en opwinding van nuwe ontdekkings, wat gepaard gaan met jonk en onvolwasse wees, maklik kan lei tot moeilikheid en ongewensde gevolge. In die opwinding van my lewensreise, kom ek agter dat die onvolwasse areas in my eie karakter groot konflikte kan veroorsaak in my verhoudings met ander mense, omdat hul eie samestelling van volwassenheidsvlakke soms anders is, en ek kan hulle dan nie op dieselfde vlak ontmoet in al daardie areas nie. Soos ek raaksien hoeveel ander mense nog moet leer binne areas waaarmee ek reeds vertroud is, ontdek ek ook dat ek self nog baie het om te leer in areas waarmee hulle dalk reeds vertroud is. En ek het nog baie om te leer van die lewe in geheel. Ek begin wonder of 200 (of selfs 300) jaar ooit genoeg is om alles te leer.

Een ding weet ek: in my hart wil ek altyd 'n kind wees wat regstaan vir die volgende ontdekkingsavontuur vol nuwe lewenslesse, saam met enigiemand wat die reis met my wil deel.