Showing posts with label Ander lewe. Show all posts
Showing posts with label Ander lewe. Show all posts

2009-12-23

Ver, mooi wêrelde...

...onaangeraak deur bose mensehande. Dis waarheen ek julle uitnooi in die titel van hierdie blog. En dis waarheen ek gisteraand* meegesleur is deur die fantasiefliek, Avatar, 'n ervaring in naastenby vier dimensies. Die plot en verloop van die verhaal bring nie iets besonders nuut vir dié van ons wat al menige wetenskapfiksie stories gekyk en/of gelees het nie, maar na my mening doen dit min afbreuk aan die asemrowende avontuur wat James Cameron vir ons geskep het. Dit is egter nogal hartseer om nóg 'n uitbeelding van ons bose mensehande te sien.





Ek is nie 'n filmresensent nie, en siende dat daar in elk geval talle nuwe menings oor die fliek uit die interwebweefsel voortspruit, wil ek dit nie self verder hier bespreek nie. Maar, ek hou van hoe dit ons terugbring na die gesprek oor die vele tekortkominge van onsself, as mensspesie, en die pad wat ons besig is om te stap. Vanaf die wegspringblok het ek al aan hierdie idees geraak, en heelwat daarvan lê nog ongeskryf.

Baie flieks beeld die mensdom uit as die patetiese, dog vasberade slagoffer van buiteruimtelike gevare. Sommige het selfs vreesaanjaende monsters op planete waar die menslike karakters aanland. Alhoewel sulke gebeure heel geloofwaardig is as jy glo in buiteruimtelike lewe en selfs intelligensie, bekommer ek my meer oor die realistiese skade wat ons self kan aanrig deur ons eie onkunde en selfs verwaandheid.

Vandag is wetenskaplikes van regeringsinstansies besig om noukeurige studies te doen van ander hemelligame in ons sonnestelsel. Hulle is uiters versigtig om nie enige mikroskopiese aardbewoners saam te stuur wat metings by die bestemmings kan beïnvloed nie. Groot ekonomiese struikelblokke weerhou ons gelukkig daarvan om enigiets meer as net klein wetenskaplike studies uit te voer.

Maar môre, wanneer ekonomiese struikelblokke uit die pad gerol is, sal korporasies ons nabye ruimte begin invaar opsoek na rykdom in minerale en toerisme, en dit sal dinge heeltemal verander. Ek het nog nie 'n korporasie gesien wat meer belangstel in wetenskaplike kennis en omgewingsbewaring as in die rykdom van hul aandeelhouers nie. Ons kan alreeds hieroor begin wonder as ons kyk na vordering wat gemaak word in sekere lande wat soos korporasies bestuur word.

Ons sukkel alreeds om beperkte areas hier op ons eie planeet te beskerm. Wat dink jy sal gebeur as die vernietigende mag van die massas onbeskaafde mense vrygelaat word [die Engelse "unleashed" klink eintlik soveel mooier] op ongerepte skoonhede elders in ons sterreruim? Sal die sterre self vervaal en op ons neerkyk met dieselfde minagting wat ons aan hulle toon? Sal ons daar buite dan iewers in die sop beland en so ons einde tegemoed loop, of sal ons betyds kan grootword en wakker word en 'n slag die blomme begin ruik? Of dink jy ek oordryf die situasie te veel?


NS: As ek moet kante kies in die stryd tussen mense en vreemde ruimtewesens, waar sal ek myself bevind in die Avatarstorielyn? Wel, ek sal hou daarvan om myself in die posisie van 'n derde party te plaas (wat nie in daardie fliek uitgebeeld word nie): ek en my magtige armada wat onskuldige wêrelde sal beskerm teen die boosheid van die menseplaag - hopelik sonder enige bloedvergieting.


* Hierdie inskrywing is eers gepubliseer 'n maand nadat ek dit geskryf het, omdat ek vir so lank nie kans gekry het om dit af te rond nie, indien iemand dalk wonder.

2009-11-23

Calvin en Hobbes is ook planeethoppers

Ek is versot op Bill Watterson se uitbeelding van die avonture van Calvin en Hobbes. Gereeld skaterlag ek soos ek die daaglikse strokies volg. Onlangs het hierdie twee verspotlike karakters 'n draai by Mars gaan maak. Die onderliggende gevoelens het so goed gepas by die motivering van hierdie blog, dat ek net nie kon weerstaan om dit hier vir julle beskikbaar te maak nie. Lekker lag.


2009-08-16

Intelligent aliens too plentiful

As humans, we often ponder the probability of intelligent alien life existing somewhere else in the known universe. Some even dismiss the idea as a total impossibility.

A while back, I had a short discussion with a friend or two about the nature of intelligence. What exactly do we understand about the idea of being intelligent or a life form having intelligence? Where does intelligence start? Is a tiny ant intelligent if it can work with its fellow ants to build gigantic ant hills? Is a dog intelligent for understanding your commands and being able to execute them, or even just puff at you and turn its head away in disbelief of your arrogance? What about monkeys that can do basic math, or wild orangutans that have their own culture and technology?

We often attribute increasing levels of intelligence to increasing brain sizes and complexity. With such reasoning, would the enormous brains of whales and elephants not make them more intelligent than us puny little humans? Just because we can easily kill them doesn't mean that they are less intelligent, but only that we are more violent. Who is to say that whale intelligence is not simply beyond our comprehension? Maybe in their songs they are debating the stupidity of the human race or lamenting the havoc that we wreak to their once beautiful world.

And what about our own race? Even we humans have varying levels of intelligence. Since the same is true for other primates, you may even consider the possibility that some apes are smarter than some humans.

Thinking about all this prompted a fleeting synaptic commotion in my head about our never-ending search for extraterrestrial intelligence. And, I realised that it is really a misnomer to be searching for intelligent aliens. They may well be very plentiful, but like whales, might not give a moment's thought to building shelters and trade routes and communication satellites or even any technology at all. What we are actually seeking, are industrious aliens. Or rather industrious, intelligent aliens, since ants have also proven to be fairly industrious.

And, it seems that there might even be a better chance of finding them than our previous calculations suggested.

[What's that funny-looking language on the rest of this blog? See the explanation that I posted previously.]

[If you are interested in using the alien picture, please download it from the original website, since you will need to read the license agreement.]

2008-08-17

Ek is 'n spikkel

Miskien het jou skoensole al die grond van 'n ander land gekus. Of, dalk het jou tone selfs omgekrul van plesier in die gras wat soveel groener is by jou nuwe tuiste aan die ander kant van die wêreld. Jy sal dan sekerlik vertroud wees met die idee van wisselkoerse en die koopkrag van jou tuisland se geldeenheid.

Het jy al ooit gewonder hoe hierdie konsepte oorgedra sou word na ander wêrelde daar buite in die wye kosmos? Nie? Wel, ek het.

Wanneer ons nuwe wêrelde begin koloniseer, watter geldeenheid sal ons gebruik? Hoeveel koopkrag sou ons kolonies hê wanneer hulle handel dryf met die tuiswêreld, moeder Aarde? En as ons per toeval vreemde intelligente wesens van ander wêrelde raakloop, sal hulle dalk kliphard uitbars van lag wanneer ons klein gekleurde papiertjies met hulle wil ruil vir 'n koeldrankie?

Het jy al ooit werklike armoede van naby beskou? Hoe laat dit jou voel? Waarom is sommige mense so ryk dat hulle nie eens weet wat om met al hul rykdom te maak nie, terwyl ander in die aand op 'n yskoue sypaadjie onder 'n dun lappie opgekrul lê en wonder waar hulle môre iets gaan kry om te eet? Sou hierdie gaping tussen ryk en arm ons ook mettertyd agtervolg wanneer ons eendag op vreemde wêrelde ons alewige rotresies voortsit?

Het jy al ooit gedroom van 'n werk met minder ure? Is jy tevrede met die minimum voorgeskrewe jaarlikse verlof wat elke gewone werker toekom? Het jy ook al 'n honderd-en-twaalf stories op TV gesien wat jou keer-op-keer laat besef dat dit baie meer waardevol is om tyd saam met familie en vriende te spandeer, of in die skone natuur waar jy liters vol kraakvars, onbesoedelde lug kan inasem, as wat dit is agter 'n lessenaar in 'n piepklein afskortinkie? Hoekom bly die meerderheid van ons geboei deur die kettings van die ekonomie wat van ons vereis om die beste deel van ons dag op te offer sodat ons net 'n skynbaar-gemaklike lewe kan bekostig?

Ons leermeester aanboord, die eerbare Mnr. Muller, het onlangs ons breinselle geprikkel met die wonder of kapitalisme dalk binnekort ineen gaan stort. Daar is ook elders 'n bespreking oor hierdie moontlikheid. Maar, is kapitalisme werklik die oorsaak van armoede? Kan sosialisme wel die oplossing wees? Is 'n gemengde ekonomie dalk beter, of slegter? En, watter van die vele ekonomiese stelsels sal geskik wees vir interplanetêre handel? Sal ons geld gebruik? Waar kom geld in elk geval vandaan? Was ruilhandel nie 'n beter stelsel nie?

Vrae, vrae, en nog meer vrae. Ek is nou nie 'n kenner op die gebied van ekonomie nie, maar hierdie tipe vrae hou my gedagtes deesdae amper konstant besig. Ek wil leer hoe ek vir myself (en ander) 'n beter lewe kan skep, en terselfde tyd eendag 'n ruimteskippie kan bekostig. Gevolglik probeer ek verstaan hoe ek, 'n piepklein spikkel, inpas in die magtige omwentelling van fondse, wat heeldag en elke dag rondtuimel soos die oseaanstrome, in transaksies wat plaasvind met 'n straatverkoper, in 'n supermark, in korporasies se aankope departemente, op die effektebeursvloer, oor landsgrense, en selfs in ons nuwe aanlyn skynwêrelde. Hopelik sal ek soos tyd verloop sommige van my ontdekkings ook hier kan deel, veral soos benodig vir sinvolle planeethoppery.

Maar, vir eers sal ek jou los om self 'n bietjie met al hierdie vrae te worstel (as jy nog nie het nie). Gesels gerus saam. Ek is altyd nuuskierig om te hoor wat ander mense dink.

2008-05-19

Wegkruipertjie

Kom ons gaan besoek die eerste planeet op ons sterrespringer se roetekaart. Wat sal ons sien as ons daar kom? Sal daar (semi-)intelligente wesens daar wees? Of dalk net plante en diere? Wat sal ons doen as ons daar kom? Sal ons ons ruimteskippie sommer gaan parkeer op die eerste oop spasie wat ons kan vind, rondharloop en mooi blink klippies optel of blomme pluk? Sal ons die diere begin jag vir kos? Sal ons die plante begin eet? Sal ons probeer kontak maak met die inheemse bevolking?

As 'n wetenskaplike, en iemand wat al 'n groot waardering en respek vir die natuur ontwikkel het, sal ek 'n sterk teenstander wees vir sulke onverantwoordelike gedrag. Ons het 'n ryk geskiedenis, vol foute wat ons voorouers gemaak het en gelei het tot die uitwissing van verskeie spesies en selfs kulture. Ons het die geleentheid om te leer uit sulke foute. Ons is mos nie vir grappies geforseer om geskiedenis te leer op skool nie.

Ek stel voor dat ons vir eers die rol van waarnemer aanneem en die kat mooi uit die boom uit kyk voor ons inboender en onsself blootstel aan een of ander dodelike kiem, of giftige plant, of gevaarlike dier. En ook, aan die ander kant, om te keer dat ons die natuurlike omgewing besmet met ons eie kieme en ons ingebore vernietigende gedrag. Om dit reg te kry, sal ons onsself moet wegsteek vir die hemelwaarts-gerigde oë van enige intelligente wesens wat dalk om 'n kampvuurtjie lê en die oorgeërfde verhale van die konstellasies met mekaar deel.

So 'n paar jaar gelede het 'n vriend my vertel van aktiewe kamoflering (Wikipedia het meer inligting, en TIME het 'n mooi foto). Dit maak gebruik van 'n kamera en tipies 'n buigbare vertoonskerm wat die beeld aan die ander kant van die weggesteekte voorwerp/persoon vertoon. Jy moes dit al in daardie een James Bond fliek gesien het. Intussen het wetenskaplikes wat met sogenaamde metamateriale speel 'n werklike onsigbaarheidsmantel geskep wat ligstrale rondom 'n voorwerp kan buig. Oorspronklik kon hulle dit slegs regkry vir mikrogolfstrale. Maar, nie lank daarna nie (en bo meeste van ons se verwagtinge) was dit moontlik om ligstrale in die visuele spektrum so te buig. Aanvanklik het die tegnologie ook net in twee dimensies gewerk, so jy kon nogsteeds die voorwerp sien as jy van bo af kyk, maar dit het nou selfs begin moontlik word om 3-dimensionele onsigbaarheid te bewerkstellig. Vir nou werk die tegnologie net met baie klein voorwerpe, maar hoe lank sal dit neem voor volledige skepe en ruimteskippies onsigbaar kan word? Boonop lyk dit nou selfs moontlik om "onsigbaar" te word vir klankgolwe. Ons kan dus nou meer gerus wees om planete van naderby te ondersoek, sonder om bekommerd te wees dat iemand ons sal sien óf hoor.

Die vreemde ding omtrent onsigbaarheidsmantels wat ligstrale buig, is dat wanneer jy binne die mantel is, sal geen ligstrale by jou oë uitkom nie. Met anderwoorde, jy sal niks kan sien nie. Dit help veel, né!

2008-04-27

Sekuriteit = Vryheid

Verbeel jou jy is heel gelukkig besig om met jou sterrespringer van planeet tot planeet te hop, en skielik beland jy in die middel van 'n gebied waar ander intelligente wesens alreeds die ruimte begin beset het. Gestel nou dat hulle een-of-ander belaglik waansinnige politieke beleid onderskryf wat bepaal dat niemand behalwe 'n gekose groep ruimtetaxi's daardie gebied mag betree nie. Jy het geen manier om aan hulle te verduidelik dat jy nie bewus was van hul beleid nie - jy verstaan nie eens hul taal nie! En, met jou aankoms is daar alreeds outomatiese sekuriteitsrobotjies op die toneel wat nie huiwer om jou skippie aan flarde te skiet nie.

Maar wag! Toe jy laas met jou skippie by die huis was, het jy gesorg dat jy die nuutste anti-sekuriteitsrobotjie beskermingstoerusting in jou skippie integreer. Groot is die verbasing op die gesigte van die eienaars van hierdie robotjies wanneer hulle op hul sekuriteitsmonitors sien dat hul besonderse duur, "gesofistikeerde" sekuriteitstelsel nie eens 'n skrapie op jou bakwerk los nie [iemand sal daardie verkoopsman moet "aanspreek"]. Dus rol hulle die groot kanonne uit en roep hulle die hulp in van hul konfederasie se magtige verdelgers - enorme oorlogskepe waarvan jy nie eens die einde kan sien nie.

Maar, soos hulle die superverwarmde 10 000 Kelvin plasmabolle na jou toe afvuur, begin hulle self een-vir-een tot stof terugkeer en die ewigheid sien. Hulle het nie gereken daarop dat jou skippie toevallig in sy standaard model met 'n plasmaweerkaatsingstelsel by die fabriek uitrol nie.

Of dalk is hierdie situasie net plein belaglik in sigself.

Die punt van die storie is eintlik dit: as jy jouself teen enige gevaar (moedswillig of per ongeluk) kan beskerm, dan het jy mos volkome vryheid en kan jy doen absoluut net wat jy wil, sonder agting vir enige politieke beleide of wette waarvan jy bewus of onbewus is - behalwe natuurlik om iemand (of iets) anders seer te maak wat die selfde beskerming geniet. Dink 'n bietjie hoe hierdie idee (selfs in 'n afgeskaalde sin) in ons wêreld van toepassing is, in vandag se tye en ook deur die geskiedenis.

Ons is nog baie ver van die tipe situasie wat hierbo uitgebeeld is, maar vir die hier-en-nou op planeet Aarde begin ons alreeds tegnologië bekom wat ons sal toelaat om onself ten minste teen ons eie primitiewe projektiel-afvurende handwapens (ook beter bekend as gewere) te beskerm. Vordering in nanotegnologie het al begin aandui dat ons dalk nog binnekort gewone klere sal kan dra wat bestand is teen koëls. Meer onlangs, het verdere vordering met dieselfde tegnologie gewys dat ons klere selfs die koëls sal kan laat terugbons, eerder as om 'n bloukol op jou vel te los.

Die vraag bly staan natuurlik oor wanneer hierdie produkte kommersieel beskikbaar sal wees en hoeveel arms en bene jy sal moet gee om dit te bekostig.

[Hersiening: Lees gerus ook die volgende en opvolgende inskrywings in hierdie reeks.]

2008-04-09

Laat ons ver-trek

Kom ons spring gou eers 'n entjie in die toekoms in. Gestel ons het nou reeds ons ruimteskip wat ver genoeg kan reis sodat ons nuwe wêrelde kan ontdek. Al die tegniese kwessies is uitgesorteer. Al wat oorbly is:
  • Waar gaan ons heen?
  • Wie gaan saam?

Wel, ons sal nogal 'n baie goeie idee kry van hoe die destydse seevaarders moes voel toe hulle weggeseil het na nuwe onbekende wêrelde. Hulle was gedryf deur ekonomiese kwessies. Ons is ook. Ons sal die bestemming moet kies wat die minste gaan kos en die grootste potensiaal het vir winslewering - al is dit 'n immateriële (aan)wins dat ons 'n nuwe toeristebestemming gevind het. Ons moet dus soek vir sonnestelsels waar daar 'n groot potensiaal vir lewe (plante en diere) bestaan, maar wat relatief naby aan ons sonnestelsel geleë is. Ons wil ook nie te ver gaan nie, want niemand anders was al so ver nie, en ons wil nog ons pad huistoe kan vind.

Ek het al 'n paar mense in gedagte vir wie ek sal saamnooi op my eerste ruimterits.

Ek sal 'n natuurlike kommunikasie-/taalboffin benodig indien ons enige intelligente wesens raakloop, maar ook om vir my en ons mede-planeethoppers op ons tone te hou met spitsvondige woordekuns.

Ek sal sekerlik 'n gesoute geoloog saamneem, veral een met 'n bietjie kennis van die sterre.

Ek sal 'n paar ingenieurskennisse saamnooi om te help met instandhouding, probleemoplossing en interessante gesprekvoering.

Ons sal ook 'n mediese span benodig om seker te maak ons bly almal gesond. Dit sal seker 'n sielkundige insluit.

Daar is ook nog 'n paar ander kennisse wat ek sal saamnooi net omdat ek so baie van hulle hou. :)

Het ons iemand belangrik agtergelaat? Sal jy wil saamgaan? Hoe sal jy my oortuig as ons beperkte plek het?