2009-12-23

Ver, mooi wêrelde...

...onaangeraak deur bose mensehande. Dis waarheen ek julle uitnooi in die titel van hierdie blog. En dis waarheen ek gisteraand* meegesleur is deur die fantasiefliek, Avatar, 'n ervaring in naastenby vier dimensies. Die plot en verloop van die verhaal bring nie iets besonders nuut vir dié van ons wat al menige wetenskapfiksie stories gekyk en/of gelees het nie, maar na my mening doen dit min afbreuk aan die asemrowende avontuur wat James Cameron vir ons geskep het. Dit is egter nogal hartseer om nóg 'n uitbeelding van ons bose mensehande te sien.





Ek is nie 'n filmresensent nie, en siende dat daar in elk geval talle nuwe menings oor die fliek uit die interwebweefsel voortspruit, wil ek dit nie self verder hier bespreek nie. Maar, ek hou van hoe dit ons terugbring na die gesprek oor die vele tekortkominge van onsself, as mensspesie, en die pad wat ons besig is om te stap. Vanaf die wegspringblok het ek al aan hierdie idees geraak, en heelwat daarvan lê nog ongeskryf.

Baie flieks beeld die mensdom uit as die patetiese, dog vasberade slagoffer van buiteruimtelike gevare. Sommige het selfs vreesaanjaende monsters op planete waar die menslike karakters aanland. Alhoewel sulke gebeure heel geloofwaardig is as jy glo in buiteruimtelike lewe en selfs intelligensie, bekommer ek my meer oor die realistiese skade wat ons self kan aanrig deur ons eie onkunde en selfs verwaandheid.

Vandag is wetenskaplikes van regeringsinstansies besig om noukeurige studies te doen van ander hemelligame in ons sonnestelsel. Hulle is uiters versigtig om nie enige mikroskopiese aardbewoners saam te stuur wat metings by die bestemmings kan beïnvloed nie. Groot ekonomiese struikelblokke weerhou ons gelukkig daarvan om enigiets meer as net klein wetenskaplike studies uit te voer.

Maar môre, wanneer ekonomiese struikelblokke uit die pad gerol is, sal korporasies ons nabye ruimte begin invaar opsoek na rykdom in minerale en toerisme, en dit sal dinge heeltemal verander. Ek het nog nie 'n korporasie gesien wat meer belangstel in wetenskaplike kennis en omgewingsbewaring as in die rykdom van hul aandeelhouers nie. Ons kan alreeds hieroor begin wonder as ons kyk na vordering wat gemaak word in sekere lande wat soos korporasies bestuur word.

Ons sukkel alreeds om beperkte areas hier op ons eie planeet te beskerm. Wat dink jy sal gebeur as die vernietigende mag van die massas onbeskaafde mense vrygelaat word [die Engelse "unleashed" klink eintlik soveel mooier] op ongerepte skoonhede elders in ons sterreruim? Sal die sterre self vervaal en op ons neerkyk met dieselfde minagting wat ons aan hulle toon? Sal ons daar buite dan iewers in die sop beland en so ons einde tegemoed loop, of sal ons betyds kan grootword en wakker word en 'n slag die blomme begin ruik? Of dink jy ek oordryf die situasie te veel?


NS: As ek moet kante kies in die stryd tussen mense en vreemde ruimtewesens, waar sal ek myself bevind in die Avatarstorielyn? Wel, ek sal hou daarvan om myself in die posisie van 'n derde party te plaas (wat nie in daardie fliek uitgebeeld word nie): ek en my magtige armada wat onskuldige wêrelde sal beskerm teen die boosheid van die menseplaag - hopelik sonder enige bloedvergieting.


* Hierdie inskrywing is eers gepubliseer 'n maand nadat ek dit geskryf het, omdat ek vir so lank nie kans gekry het om dit af te rond nie, indien iemand dalk wonder.