2008-04-13

Sterrekinders

Ek het Vrydagaand vir Martian Child op DVD gekyk. Dit laat 'n mens nogal 'n bietjie dink oor jou plek in die wêreld - hoe almal altyd wil hê dat jy normaal moet wees. Dit het my weer herinner aan hoeveel keer ek al self gewonder het of ek nie dalk van 'n ander planeet af kom nie - selfs meer so as 'n grootmens as toe ek 'n kind was.

Ek wonder nou hoeveel ander mense nie al daardie selfde vraag oor hulself gevra het nie. Ons is almal tog juis nié normaal nie en ek sal nie verbaas wees as ons almal so nou en dan voel of ons nie regtig inpas in die samelewing nie. "Wie sal dan nou ooit kan begryp wat in my gedagtes aangaan?" Jy sou selfs jou verbeelding kon vrye teuels gee en wonder of dit nie dalk 'n ingeboude terughunkering is na ons werklike geboorteplek nie: die sterre.

Ja, ons is tog almal sterrekinders, geskep uit sterrestof, vervaardig in die groot sonfabrieke van die melk-weg waar produksielyne verfyn is tot op die femtoskaal, by die punt waar twee atoomkerne saamsmelt en 'n nuwe chemiese element vorm - net so uniek teenoor al die ander elemente soos 'n enkele persoon teenoor al sy medemense.

3 comments:

Anonymous said...

Hallo hoppertjie!

Ek wil net sê dat ek jou skryfstyl - en die onderwerp - baie geniet.

Ek sien uit na jou hemelreis en kom graag as 'n kleine Prinsie mee.

...as deel van jou wakkerstroom.

Anonymous said...

net gou open-id probeer...

Francois Cilliers said...

Dankie vir die gawe opmerking mnr.muller. Ek sal my bes doen om die reis so prettig en leersaam as moontlik te hou.