Onthou jy die dae as kind, toe jy nog in 'n klein dorpie gewoon het, omring deur enorme blou berge, behalwe na die Weste, waar 'n dun kronkelpaadtjie jou na die volgende dorp kon neem, en na die Suide waar die groot blou see uitgestrek het tot ver verby die horison? Die ou vissermanne het altyd vertel hoe die berge langs die kus af strek tot waar die oog nie kan sien nie, en niemand was al ooit so ver met 'n klein vissersbootjie nie.
Onthou jy die brandende begeerte vir avontuur en ontdekking van die onbekende, en die nuuskierigheid oor wat anderkant die groot blou berge lê? Onthou jy die planne wat jy beraam het om eendag jou klein dorpie te verlaat sodat jy daardie berge kon uitklim en vir die wêreld kon vertel wat jy daar gesien het? Of, onthou jy dalk eerder hoe jy nog wou sien wat anderkant die groot blou see lê?
Nie? Hmmm... wel, ek ook nie.
Maar ek het my vanoggend dit verbeel toe ek na die berge rondom my geboorte dorpie kyk, en probeer indink hoe dit moes voel om as klein seuntjie daar groot te word in die tye toe die wye onbekende nog anderkant daardie eens magtige blou berge uitgestrek gelê het. Vandag is daar 'n wye kronkelpad waarop jy gemaklik met 'n motor langs die berg kan opry en verby tot by die volgende dorp en selfs verder - sonder veel moeite, en sonder om eens die kleinste bietjie aandag te gee aan hoe ontoeganklik daardie wêreld was so ver in die verlede. En met lugvervoer en vingerpuntkennis, gaan kuier ons sommer maklik by vriende en familie anderkant die eens magtige blou see.
Hoekom moet ek nou anders voel as 'n klein seuntjie wat opkyk na die enorme blou hemelruim, en wonder wat daar anderkant lê. Natuurlik het die wilde wye spinnerak van kennis vir ons al aan heelwat van daardie wêreld bekendgestel, want ander avonturiers het reeds hul biologiese en meganiese oë daarheen gestuur. Maar, daar is nog soveel onondekte onbekendheid daar buite. Hoeveel monsters en juwele en fantastiese kulture en ongelooflike medisynes lê nie en wag vir ons daar ver nie? Ek sal nogal graag eendag hierdie klein aardeballetjie wil verlaat sodat ek daardie blou hemelruim kan oorsteek en vir die wêreld vertel wat ek alles daar gesien het. En jy?
2008-06-04
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
2 comments:
(...ek hou van die label "sinapstappies")
ek vermoed die enigste rede hoekom ek hemelwaarts sal keer, is om af te kan kyk na die blou aardbol sonder grense en met mooi wattewolkies.
in die ruimte is daar baie leegte. en die kans is dat as jy iets vind, dan sal dit effens onherbergsaam wees, nie waar nie?
maar nou ja, al lê die berge nog so blou...
Ja, *sug*. Ons leer wel deesdae van hoe die basiese chemiese boublokkies van lewe ooral deur die heelal bestaan en dat dit nou selfs moontlik word om planete op te spoor wat vollop water het [hierdie feite sal jy op verskeie plekke op hierdie blog raakloop]. Dus is dit heel moontlik dat selfs as ons iewers in die ruimte 'n hoekie vind waar lewe al kon grond vat, dat die omgewing glad nie sal ooreenstem met ons liggame se benodigdhede nie.
En juis ons eie klein blou aardeballetjie het al biljoene jare ervaar waarin verskeie soorte organismes kon oorleef in toestande wat vir ons self heel onherbergsaam sou wees.
Maar ek is hoopvol en skram nie weg van 'n uitdaging van sulke proporsies nie, want tussen al die biljoene sterre wat ons kan sien, moet daar tog iewers 'n plekkie wees wat soorgelyk aan ons Aarde is. En die gereedskap waarmee ons sulke plekke kan vind raak by die dag beter.
[Ek wil dit nie eintlik erken nie, maar dit het my meer as 'n dag geneem om daardie label uit te dink. Ek het selfs die inskrywing eers later gepubliseer omdat ek nog nie aan 'n gepaste een kon dink nie. ;) ]
Post a Comment