2008-05-19

Wegkruipertjie

Kom ons gaan besoek die eerste planeet op ons sterrespringer se roetekaart. Wat sal ons sien as ons daar kom? Sal daar (semi-)intelligente wesens daar wees? Of dalk net plante en diere? Wat sal ons doen as ons daar kom? Sal ons ons ruimteskippie sommer gaan parkeer op die eerste oop spasie wat ons kan vind, rondharloop en mooi blink klippies optel of blomme pluk? Sal ons die diere begin jag vir kos? Sal ons die plante begin eet? Sal ons probeer kontak maak met die inheemse bevolking?

As 'n wetenskaplike, en iemand wat al 'n groot waardering en respek vir die natuur ontwikkel het, sal ek 'n sterk teenstander wees vir sulke onverantwoordelike gedrag. Ons het 'n ryk geskiedenis, vol foute wat ons voorouers gemaak het en gelei het tot die uitwissing van verskeie spesies en selfs kulture. Ons het die geleentheid om te leer uit sulke foute. Ons is mos nie vir grappies geforseer om geskiedenis te leer op skool nie.

Ek stel voor dat ons vir eers die rol van waarnemer aanneem en die kat mooi uit die boom uit kyk voor ons inboender en onsself blootstel aan een of ander dodelike kiem, of giftige plant, of gevaarlike dier. En ook, aan die ander kant, om te keer dat ons die natuurlike omgewing besmet met ons eie kieme en ons ingebore vernietigende gedrag. Om dit reg te kry, sal ons onsself moet wegsteek vir die hemelwaarts-gerigde oë van enige intelligente wesens wat dalk om 'n kampvuurtjie lê en die oorgeërfde verhale van die konstellasies met mekaar deel.

So 'n paar jaar gelede het 'n vriend my vertel van aktiewe kamoflering (Wikipedia het meer inligting, en TIME het 'n mooi foto). Dit maak gebruik van 'n kamera en tipies 'n buigbare vertoonskerm wat die beeld aan die ander kant van die weggesteekte voorwerp/persoon vertoon. Jy moes dit al in daardie een James Bond fliek gesien het. Intussen het wetenskaplikes wat met sogenaamde metamateriale speel 'n werklike onsigbaarheidsmantel geskep wat ligstrale rondom 'n voorwerp kan buig. Oorspronklik kon hulle dit slegs regkry vir mikrogolfstrale. Maar, nie lank daarna nie (en bo meeste van ons se verwagtinge) was dit moontlik om ligstrale in die visuele spektrum so te buig. Aanvanklik het die tegnologie ook net in twee dimensies gewerk, so jy kon nogsteeds die voorwerp sien as jy van bo af kyk, maar dit het nou selfs begin moontlik word om 3-dimensionele onsigbaarheid te bewerkstellig. Vir nou werk die tegnologie net met baie klein voorwerpe, maar hoe lank sal dit neem voor volledige skepe en ruimteskippies onsigbaar kan word? Boonop lyk dit nou selfs moontlik om "onsigbaar" te word vir klankgolwe. Ons kan dus nou meer gerus wees om planete van naderby te ondersoek, sonder om bekommerd te wees dat iemand ons sal sien óf hoor.

Die vreemde ding omtrent onsigbaarheidsmantels wat ligstrale buig, is dat wanneer jy binne die mantel is, sal geen ligstrale by jou oë uitkom nie. Met anderwoorde, jy sal niks kan sien nie. Dit help veel, né!

4 comments:

Anonymous said...

Hm, ek vermoed as planeethoppery eers gewild raak, sal almal nie suiwer wetenskaplike wegkruipertjie-benaderings volg nie.

Jy sal die avonturiers kry wat nuwe berge sal wil klim, organiese aartappelboere wat in ruimtegrond wil skoffel en evangeliste wat nuwe wesens sal wil bekeer.

Dus sal ons 'n ruimtepolisie benodig en 'n Beleid vir Interplanetêre Besoeke wat hulle kan toepas. 'n Protokol waarvolgens nuwe land geëien kan word.

Die een ding van geskiedenis is dat die mens juis nie daaruit leer nie. Volgens menslike natuur sal 'n klomp space cowboys waarskynlik die inheemse groenhuide uitwis en sterretjies-vlae plant.

Of Nike of Coca Cola sal die maan vir hulleself eien en 'n groot neon-sign opsit wat lees Just do it of Always Coke...

En Microsoft se windows-startup-tune sal weerklink elke keer wanneer jy van 'n ruimte-pod klim.

Om weg te kruip en nuwe wesens met rus te laat, is dalk edel, maar waarskynlik onmoontlik. O nee, ons sal daai klippie wil optel, blink vryf en op Groentemarkplein teen 'n wins wil kom verkoop.

So is die lewe; so is die lot.

Francois Cilliers said...

Dis inderdaad soos jy sê, ja. Ek sal self een van daardie eksotiese berge wil gaan klim - gegee dat dit nie te hoog is nie. En mettertyd sal ons met onbekende kulture meng en selfs nuwe kulture skep. Dit is mos juis hoekom ons nuwe wêrelde wil besoek - vir nuwe ervaringe. Wat help dit dat ons ligjare ver reis en ons kan nie eens proe aan 'n kwyllekker vruggie wanneer ons daar kom nie?

Ek dink egter nogsteeds dat ons nie met ons eerste aankoms by 'n nuwe wêreld sommer holderstebolder uit ons ruimteskippie kan spring en ons voete in die vreemde gronde plant nie. Ons het immers so 'n mooi Afrikaanse idioom wat ons waarsku dat die "haastige hond verbrand sy mond". Wie weet, dalk is daar 'n kwaai hond met skerp tande wat jou wil opeet. En, sal jy dan nie verlig wees as hy jou nie kan sien of hoor nie?

Anonymous said...

hm, miskien is daar alreeds ruimtewesens om ons wat gecloak is en ons appelliefies opraap vir die interplanetêre mark?

hm, en miskien sal daai kwaai tande-hond heel anders waarneem as wat jou wegkruipertjie-toestel verbloem: dalk probeer jy hom flous met audiovisuele truuks, terwyl die buiteruimtelike brak eintlik die vibrasies van tollende molekules aanvoel. Dan gaan jy nog steeds in die enkel gehap word.

hoeveel geld wil jy bestee om 'n slymvrug van die ruimte te proe, terwyl ons hier op aarde alreeds 'n leeftyd se verskeidenheid het?

wat is die kans dat ons nie ander intelligente wesens gaan probeer uitwis nes ons xenofobies die zimbabwiërs aftakel tans nie? of die cowboys destyds die rooihuide nie? dis veel eerder ons natuur om uit te wis, as saam te smelt.

ek wil wil wil saam met jou reis, maar kan nie my oë inhok van die (enigste) aardetjie wat ons tans het nie...

dalk moet ons juis nie rondhop nie, maar onsself inwortel in ons dorp/streek/land/kontinent/planeet tot tyd en wyl almal hier ten minste sorgeloos 'n aardse vrughappie kan geniet?

ai, maar ook dit is teen onse natuur... daar is dié met soveel vrugteboorde dat hulle die geil opkoms laat verrot om die prys van hulle happies so hoog as moontlik te hou - en dan is daar dié wat nie eens grond het om 'n eie plantjie te plant nie.

die rykes sal aanhou smag na nog. die armes sal aanhou smag na iets.

so is die lewe; so is die lot.

Francois Cilliers said...

Ek stem saam dat daar baie gevare is wat ons as mens kan inhou vir ander onskuldige en onderontwikkelde planete. Ek twyfel egter of interplanetêre polisie en land-eieningsprotokolle van veel nut gaan wees, buiten vir klein trossies planete wat (relatief-gesproke) naby aan mekaar geleë is. Maar, daar sal waarskynlik groepe mense soos 'n toekomstige "Bluepeace" wees wat tegnologie sal inspan om beskermde planete te bewaar teen uitbuiting deur roekelose oliemagnate.

As mens, het ons baie ingeboude skadelike gedrag en denkpatrone, maar as ek en jy dit weet, en ten minste ons twee probeer om bo daardie primitiewe vernietigende eienkappe uit te styg, hoeveel ander mense is daar nie ook wat dieselfde doen nie? Inderwaarheid, sou die blou balletjie waarop ons onsself nou bevind nie al lank gelede totaal vernietig gewees het, as die mens in geheel nie gestreef het na beter gedrag nie? As jy mooi daaroor dink, kan jy dit eintlik terugtrek na natuurlike seleksie: die mensspesie as 'n groep is eintlik so goed aangepas om te oorleef, dat hy selfs kan vermy dat hy homself geheel-en-al uitwis. En, as daardie eienskap ook ingebou is, dan sou jy kon voorspel dat ons wel nie ons vernietigende gedrag volkome sal voortsit in die buitenste ruimte nie. Vir verdere motivering, kyk net na hoe mense begin reageer op die gevaar van aardverwarming. En wat dink jy van hierdie artikel?

Dis wel waar, soos jy noem, dat ons moet kyk na die tekortkominge van ons gedrag hier op Aarde voordat ons uitbeweeg na die verste uithoeke van die heelal. En, soos ek al vantevore genoem het, het mense juis 'n verbeterde mentaliteit nodig om te kan oorleef in die anargie wat heers in die buitenste ruimte.

Terloops: ek is bly dat jy die moontlikheid uigelig het van wegkruipers van ander planete wat ons dalk nou reeds hier op Aarde kom besoek. Ek het juis gehoop dat lesers die wegkruipertjie idee so sou weerkaats en sien dat ons wêreld ook een kan wees wat deur ander besoekers ontdek word, en watter gedrag ons van hulle sou kon verwag.