2008-04-19

Die nietigheid en ewigheid van tyd

Hoeveel planete sal jy graag in jou leeftyd wil besoek? Ek sal graag wil uitvaar op 'n planetejag en so veel as moontlik wêrelde sien waar daar alreeds vorms van lewe bestaan. Hoe sal ons visuele sintuie nie geprikkel word wanneer ons sulke ondenkbare nuwe natuurskoon aanskou nie?

Hoe lank sou dit my neem om so baie wêrelde te besoek? Met soveel onbekendheid daar buite in die ruimte sal dit 'n ewigheid neem, en nog meer, om my nuuskierigheid te bevredig. Maar, met my huidige lewensverwagting (wat nog verder kortgeknip is deur verskeie vorme van besoedeling), sal ek waarskynlik nie eens die dag sien wat ons eerste ruimteskippie 'n nuwe wêreld langs 'n ander ster bereik nie.

So hoe nou gemaak? Ek sal my maar wend tot die ongelooflike krag van die mediese wetenskap in die hoop dat ek vir ewig kan jonk bly - wel, ten minste tot ek doodgaan.

Daar was al baie filosofiese en sosiologiese debatte oor die implikasies en wenslikheid van lewensverlenging. Maar, ek hou daarvan om daarna te kyk uit 'n praktiese oogpunt, veral met die oog op my uiteindelike planeethopvermoë.

Daar is baie brokkies inligting wat ek nog sal wil deel oor hierdie onderwerp, maar vandag het ek 'n interessante een raakgeloop wat ek solank hier wou noem. Die meeste mense is bewus van ons afhanklikheid van insulien om ons bloedsuikervlakke in toom te hou sodat ons nie suikersiekte of ander verwante siektes ontwikkel nie. Maar, wat meeste mense (insluitend ek self) nie weet nie, is dat insulien eintlik 'n tweesnydende swaard is. Dit is ook verantwoordelik daarvoor dat ten minste twee tipes proteïene onderdruk word, wat andersins help om weerstand te bied teen oksidasiestres, verskeie gifstowwe en ander vorme van stres. Met ander woorde, insulien veroorsaak ook dat ons nie so lank kan jonk en gesond bly as waartoe ons dalk in staat is nie.

Ek wonder hoe lank die spesialiste sal neem om onder die kap van hierdie byl te kom en vir ons so toelaat om meer gesonde lewens te begin beleef.

2 comments:

Anonymous said...

Ek sal verseker planete wil besoek, my beursie is net bietjie dun.
Fantastiese blog!

Francois Cilliers said...

Baie dankie Wipneus. Moenie te bekommerd wees oor die beursie nie. Jy is meer as welkom om solank op hierdie verbeel-jou-ruimteskippie te spring en saam met ons mede planeethoppers nuwe ontdekkings te maak.