2008-04-09

Laat ons ver-trek

Kom ons spring gou eers 'n entjie in die toekoms in. Gestel ons het nou reeds ons ruimteskip wat ver genoeg kan reis sodat ons nuwe wêrelde kan ontdek. Al die tegniese kwessies is uitgesorteer. Al wat oorbly is:
  • Waar gaan ons heen?
  • Wie gaan saam?

Wel, ons sal nogal 'n baie goeie idee kry van hoe die destydse seevaarders moes voel toe hulle weggeseil het na nuwe onbekende wêrelde. Hulle was gedryf deur ekonomiese kwessies. Ons is ook. Ons sal die bestemming moet kies wat die minste gaan kos en die grootste potensiaal het vir winslewering - al is dit 'n immateriële (aan)wins dat ons 'n nuwe toeristebestemming gevind het. Ons moet dus soek vir sonnestelsels waar daar 'n groot potensiaal vir lewe (plante en diere) bestaan, maar wat relatief naby aan ons sonnestelsel geleë is. Ons wil ook nie te ver gaan nie, want niemand anders was al so ver nie, en ons wil nog ons pad huistoe kan vind.

Ek het al 'n paar mense in gedagte vir wie ek sal saamnooi op my eerste ruimterits.

Ek sal 'n natuurlike kommunikasie-/taalboffin benodig indien ons enige intelligente wesens raakloop, maar ook om vir my en ons mede-planeethoppers op ons tone te hou met spitsvondige woordekuns.

Ek sal sekerlik 'n gesoute geoloog saamneem, veral een met 'n bietjie kennis van die sterre.

Ek sal 'n paar ingenieurskennisse saamnooi om te help met instandhouding, probleemoplossing en interessante gesprekvoering.

Ons sal ook 'n mediese span benodig om seker te maak ons bly almal gesond. Dit sal seker 'n sielkundige insluit.

Daar is ook nog 'n paar ander kennisse wat ek sal saamnooi net omdat ek so baie van hulle hou. :)

Het ons iemand belangrik agtergelaat? Sal jy wil saamgaan? Hoe sal jy my oortuig as ons beperkte plek het?

2 comments:

Stefan van der Walt said...

Mnr Vassom, wie se naam gebore is uit Star Wars, hoe gepas van jou om 'n ruimtehopper te word! Elke dag 'n treetjie nader, en somtyds sommer 'n "giant leap for mankind".

Ek het egter 'n tegniese vragie: watter politieke beleid geld op jou planeet (waarvan jy baie weet, né mannemarak), want ek sien ons moet *jou* oortuig dat ons wil saamkom. Ek wonder dus hoe jy so vinnig opgang gemaak het tot kaptein :)

"To infinity, and beyond."

Francois Cilliers said...

Hehe, kaptein inderdaad. Nee wat, ek vermoed eintlik sterk dat ons nie meer kapteine sal nodig hê teen die tyd wat ons ander sonnestelsels kan besoek nie. HAL sal mos alles vir ons doen. ;)

Jy weet natuurlik dat ek eintlik net probeer het om 'n kreatiewe beskrywing by jou uit te lok oor waarheen jy sal wil gaan, en hoekom, en watter bydrae jy sal wil maak.

Oor politieke beleide kan ek jou net antwoord met 'n vraag: watter beleid wil jý hê? Daar is mos nog nie so iets daarbuite nie (sover ons bewus is, in elk geval). Ek neig so effens na 'n anargistiese koöperasie, waar geen reëls op jou afgedwing word nie en almal tot 'n beter lewe kan saamwerk. Hoe sal jy daarvan hou?