2009-01-17

Oor nalatenskap

[Hierdie is 'n lang een, om op te maak vir my afwesigheid. ;-)]

Ons almal weet nou al teen hierdie tyd dat jy moet oppas wat jy doen in die lewe, want jou aksies het altyd gevolge. Dit kan goeie of slegte gevolge wees. Hierdie verskynsel is normaalweg meer sigbaar op 'n persoonlike vlak wanneer jy mense naby jou seermaak, of selfs wanneer jy iemand gelukkig maak. Maar, dit gebeur ook baie dat jy self nooit eens bewus is van die gevolge nie.

As individuele persone, kan my en jou aksies ook gevolge op 'n 
globale skaal hê. Sommige gevolge is so verrykend dat jy dit nooit eens in jou wildste drome sou raakloop nie. Dit word mos die skoenlapper-effek genoem - iets waarvan jy dalk in 'n onlangse "Heroes" episode ook gehoor het.

Maar, ken ons almal wel hierdie konsep? Begryp ons werklik die omvang daarvan? Skep ons die geleentheid vir ons kinders om ons voorbeeld van verantwoordelike gedrag aan te leer? Of, hoeveel keer gee ons net eenvoudig nie 'n druppel om oor watter gevolge ons aksies het nie?

Ons staan nou aan die begin van 2009. Dis nou (nog) nie 'n besonderse beduidende jaar in die geskiedenis van die mensdom nie, afgesien van 'n aantal gebeurtenisse gedurende 2008 wat hierdie komende jaar 'n interessante een kan maak. Tog is hierdie net so 'n goeie tyd soos enige [as ek 'n bietjie by die Engelse uitdrukking mag leen] om te besin oor die toestand van onsself as mensspesie en die gevolge wat ons aksies het op die toestand van ons habitat, ons enigste tuiste, ons geboorteplaneet, ons Aarde.

Met die afronding van my vorige inskrywing het ek afgekom op 'n aantal artikels wat my aangespoor het om hierdie met julle te deel:

Die relatief kort geskiedenis van die Aarde is bespikkel met groot tragedies wat elk die uitsterwing van duisende spesies behels het. Slegs 5 is alreeds goed gedokumenteer. 'n Groot asteroïedsplinter wat die Aarde getref het, word beskuldig vir die mees onlangse geval, terwyl sommige van die ander oorsake toegeskryf word aan 'n siek Aarde toestand [ek is nie seker wat presies hiermee bedoel word nie]. In een geval, het 'n groot onderwater vulkaan veranderings in die oseane veroorsaak wat lewe vir massas seeorganismes onmoontlik gemaak het. Die oorskot van daardie sterflinge het blykbaar uiteindelik ons huidige ondersese oliebronne geword. Dit is verder ook interessant om te leer dat al hierdie massa-uitwissings saamval met, en eintlik gedryf word deur periodiese veranderinge in die seevlak.

Vandag aanskou ons nog 'n gebeurtenis wat net so verwoestend is soos daardie traumatiese oomblike in die geskiedenis van ons planeet. Die skrif is al 'n geruime tyd reeds aan die muur, met die besef dat ons huidige klimaatstoestande sterk ooreenstem met vorige tydperke waarin wêreldwye biodiversiteit laag was en die waarskynlikheid vir massa-uitwissing baie hoog was.


Die feit dat amfibiese spesies soos paddas (wat die dinosourusse in die vorige massa-uitwissing oorleef het) wêreldwyd besig is om te swyk aan 'n dodelike swaminfeksie en nog verder bedryg word deur aardverwarming en habitatvernietiging, is besonders kommerwekkend. Inderdaad, daar is nou werklike aanduiding dat ons die volgende groot massa-uitwissing in die gesig staar, met die verdwyning van ongeveer helfde van alle bestaande spesies plante en diere.

Teen hierdie tyd moes jy al gehoor het van die aardverwarming effek. Jy moet ook dan weet dat stygende vlakke van koolstofdioksied (wat mense en diere uitasem) die probleem aanhits. En jy moet ook besef dat verbranding van olie (of petrol) en koolstof (vir elektrisiteit) die probleem soveel vererger het dat ons nou in 'n gevaarsone beland het. Dit is nogal ironies dat die oorskot (olie) van 'n vorige massa-uitwissing ons aangehelp het om 'n volgende een te bereik.

Nes ek, sal jy dalk egter verbaas wees om te leer dat aardverwarming nie ontstaan het met die verbruik van olie, petrol, koolstof en gas nie. Blykbaar kan die oorsprong duisende jare teruggetrek word tot die tydperk waar mense grootskaalse boerderypraktyke begin toepas het in Asië, en verspreide areas ontbos het in Europa. As dit nie daarvoor (en alles sedertdien) was nie, sou ons dalk nou in 'n ystydperk geleef het. Hoe klink dít vir verrykende gevolge van jou dade?

Maar, ons hoef nog nie alle hoop te verloor nie. Dis immers 'n nuwe jaar, met nuwe moontlikhede. Kenners is om die beurt besig om sinvolle oplossings te soek vir ons huidige krisis. Selfs enkele persone en gesinne is besig om op te let na die gevolge van hul daaglikse dade. Ek is ook oortuig daarvan dat ons as mense uniek toegerus is om wel goeie oplossings vir selfs so 'n groot probleem te vind en betyds toe te pas (ek hoop nie ek word ooit verkeerd bewys nie). 

Sommige wend ook 'n armsalige (maar edel, en 
nuttige) poging aan om sade van plante- en dierespesies (ten minste paddas vir eers) in 'n massiewe kluis te bewaar, sodat dié van ons wat wel lewend anderkant uitkom tog maar 'n stukkie kan herbou van wat eens bekend was. Daar is ook verskeie ander belowende tegnologiese oplossings, maar ek dink dit hoort dalk in 'n ander inskrywing [nie dat ek noodwendig daarby sal uitkom nie].

Op die ou einde, selfs as almal dit regkry om saam te staan en hand by te sit, en selfs as ons ons negatiewe invloed op die omgewing heeltemal uitwis, moet ek wonder of ons nie alreeds die tydstip verbygegaan het waar ons werklik ander planete al moes begin koloniseer het nie. Ons is immers net te veel mense vir so 'n klein balletjie rots.

[Die prentjies het ek by die volgende webbladsye gevind:

3 comments:

Anonymous said...

Goed bewoord, Francois. Die enigste manier wat ons kan vermy om 'n impak te hê is deur glad nie te bestaan nie. Maar as lewende wesens is dit in ons aard om te wil bestaan. So ons moet maar probeer om die impak te bestuur. Hier in Europa dink mense meer daaroor as in sommige ander plekke, maar die oplossings ontwyk ons maar nog.

Anonymous said...

Dis al die koeimis! Ons moet ophou vleis eet en soos boesmans begin lewe - een volstruiseier op 'n slag ;)

Welkom terug by blogging, sir!

Francois Cilliers said...

FrancoisM: Dankie. :) Ek dink ook dis beter dat ons die impak bestuur - as ons op die ou end kan uitwerk hoe om dit reg te doen. As ons nie hier was om die bestuurwerk te doen nie, sou daar waarskynlik in elk geval weer een-of-ander-tyd 'n massa-uitwissing gebeurtenis gewees het, want diere het ook die vermoë om te veel te word en natuurlike bronne uit te put.

MnrMuller: Jy's reg. Ek het al vantevore gewonder hoe die wêreld sou wees as ons almal soos boesmans kon lewe.

Die mense van die oorspronklike San kultuur weet hoe om op te let na die gevolge van hul gebruik van die natuur se bronne. Hulle neem nooit meer van die land as wat nodig is nie. En, as hulle bv. 'n bokkie skiet om te eet, sal hulle selfs so ver gaan as om dankie te sê aan die bokkie se gees dat hy sy lewe moes prysgee sodat hulle kan voort leef (of so het ek in 'n storieboek gelees).