Maar, diep binne myself sien ek ook die boosheid raak - daardie selfde boosheid waarvan ek wil wegvlug. Dalk is dit 'n goeie ding dat ek nog nie 'n ruimteskippie besit nie. Dalk sou ons menseboosheid maar net mettertyd versprei tot daardie nuwe wêrelde wat ek sou besoek. Dalk is dit beter dat ek eers moet leer om van my eie boosheid ontslae te raak.
Was die wêreld nie eens 'n beter plek nie? Dalk nie, maar daar was sekerlik spesifieke tye wat dinge beter gegaan het. En selfs vandag is daar nog plekke waar goeie dinge gebeur. Kan ons dalk iets leer daaruit?
Ek dink die wêreld was beter toe:
- die lug skoon was
- daar minder motors op die paaie was
- daar minder mense was
- almal genoeg gehad het om hul dors te les en honger te stil en rustig te slaap
- daar nie sprake was van sosiale status (en gepaardgaande besit van blink goetertjies) nie
- jy nog die paaiemente van 'n lening op 'n redelike huis kon bekostig met 'n redelike salaris
- jy nog 'n huis kon koop met 'n tuin groot genoeg om jou bene uit te strek
- daar nog meer bome as geteëlde dakke in woonbuurte was
- daar nog wye oop natuurlike spasies in jou tuisdorp was
- kinders nog veilig in publieke areas kon speel
- jy nie konstant moes vrees vir jou of jou kinders se lewe nie
- jy nie enige bekommernisse gehad het nie
- jy nog die vermoë gehad het om jou God te vertrou
- mense nog vir mekaar omgegee het
- daar eerbaarheid was in beskerming van swakkes
- jy 'n vreemdeling in nood kon uithelp sonder om te verwag dat hy jou sal te na kom
- mense nie rede gehad het om mekaar te wantrou nie
- mense nog kon opstaan vir reg, en teen verkeerd
- menslikheid nog belangriker was as mensegedrag
- mense nog kon waardeer hoe kosbaar die lewe is
- leiers met wysheid kon regeer tot voordeel van al hul mense
- leiers nie net hul magsposisies wou misbruik vir eie gewin nie
- goed genoeg nie goed genoeg was nie
- mense nog kon droom
[Soos jy kan sien, fokus my lysie op menslike faktore - alles te danke aan mense en alles afhanklik van mense se denkwyses en gedrag. My lysie is onvolledig. Vertel my asseblief wat, na jou mening, die wêreld 'n beter plek maak / gemaak het. En ja, wees maar snaaks - net nie bar nie (kinders mag dalk ook hierdie blog lees).]