2008-04-27

Sekuriteit = Vryheid

Verbeel jou jy is heel gelukkig besig om met jou sterrespringer van planeet tot planeet te hop, en skielik beland jy in die middel van 'n gebied waar ander intelligente wesens alreeds die ruimte begin beset het. Gestel nou dat hulle een-of-ander belaglik waansinnige politieke beleid onderskryf wat bepaal dat niemand behalwe 'n gekose groep ruimtetaxi's daardie gebied mag betree nie. Jy het geen manier om aan hulle te verduidelik dat jy nie bewus was van hul beleid nie - jy verstaan nie eens hul taal nie! En, met jou aankoms is daar alreeds outomatiese sekuriteitsrobotjies op die toneel wat nie huiwer om jou skippie aan flarde te skiet nie.

Maar wag! Toe jy laas met jou skippie by die huis was, het jy gesorg dat jy die nuutste anti-sekuriteitsrobotjie beskermingstoerusting in jou skippie integreer. Groot is die verbasing op die gesigte van die eienaars van hierdie robotjies wanneer hulle op hul sekuriteitsmonitors sien dat hul besonderse duur, "gesofistikeerde" sekuriteitstelsel nie eens 'n skrapie op jou bakwerk los nie [iemand sal daardie verkoopsman moet "aanspreek"]. Dus rol hulle die groot kanonne uit en roep hulle die hulp in van hul konfederasie se magtige verdelgers - enorme oorlogskepe waarvan jy nie eens die einde kan sien nie.

Maar, soos hulle die superverwarmde 10 000 Kelvin plasmabolle na jou toe afvuur, begin hulle self een-vir-een tot stof terugkeer en die ewigheid sien. Hulle het nie gereken daarop dat jou skippie toevallig in sy standaard model met 'n plasmaweerkaatsingstelsel by die fabriek uitrol nie.

Of dalk is hierdie situasie net plein belaglik in sigself.

Die punt van die storie is eintlik dit: as jy jouself teen enige gevaar (moedswillig of per ongeluk) kan beskerm, dan het jy mos volkome vryheid en kan jy doen absoluut net wat jy wil, sonder agting vir enige politieke beleide of wette waarvan jy bewus of onbewus is - behalwe natuurlik om iemand (of iets) anders seer te maak wat die selfde beskerming geniet. Dink 'n bietjie hoe hierdie idee (selfs in 'n afgeskaalde sin) in ons wêreld van toepassing is, in vandag se tye en ook deur die geskiedenis.

Ons is nog baie ver van die tipe situasie wat hierbo uitgebeeld is, maar vir die hier-en-nou op planeet Aarde begin ons alreeds tegnologië bekom wat ons sal toelaat om onself ten minste teen ons eie primitiewe projektiel-afvurende handwapens (ook beter bekend as gewere) te beskerm. Vordering in nanotegnologie het al begin aandui dat ons dalk nog binnekort gewone klere sal kan dra wat bestand is teen koëls. Meer onlangs, het verdere vordering met dieselfde tegnologie gewys dat ons klere selfs die koëls sal kan laat terugbons, eerder as om 'n bloukol op jou vel te los.

Die vraag bly staan natuurlik oor wanneer hierdie produkte kommersieel beskikbaar sal wees en hoeveel arms en bene jy sal moet gee om dit te bekostig.

[Hersiening: Lees gerus ook die volgende en opvolgende inskrywings in hierdie reeks.]

Ruimteagentskap vir SA

Ek het hierdie naweek uitgevind dat Suid-Afrika op die punt staan om 'n nasionale ruimteagentskap te stig. Hierdie plan is blykbaar vir 'n geruime tyd al aan die ontwikkel. Een van die kern doele is om die Houwteq fasiliteite in Grabouw by Denel oor te koop en op te knap sodat dit gebruik kan word vir ontwikkeling van satelliete, en ook potensieël ons eie lanseervermoëns (ook bekend as vuurpyle).

'n Mens kan 'n bietjie wonder oor wat die agentskap se naam sal wees, want daar is alreeds heelwat ander instansies met die naam

SANSA (vir SA Nasional Space Agency)

sowel as die huidige voorlopige keuse van

SASA (vir SA Space Agency).


Alhoewel ek 'n voorstander is vir die bevordering van ruimtetegnologie, is ek egter nog half in twee gedeel oor hierdie idee.

Wat dink jy? Sien jy 'n rooskleurige toekoms waarin SA dalk selfs die vermoë sal ontwikkel om Suid-Afrikaners na die Maan te stuur [nie dat dit in die plan is nie], of sal dit maar soos menige ander staatsinstansies lei onder korrupsie, wanbestuur en algemene rompslomp [ek was nou te lui om verwysings hiervoor te soek, maar jy behoort dit gereeld in die nuus te sien]?

2008-04-19

Die nietigheid en ewigheid van tyd

Hoeveel planete sal jy graag in jou leeftyd wil besoek? Ek sal graag wil uitvaar op 'n planetejag en so veel as moontlik wêrelde sien waar daar alreeds vorms van lewe bestaan. Hoe sal ons visuele sintuie nie geprikkel word wanneer ons sulke ondenkbare nuwe natuurskoon aanskou nie?

Hoe lank sou dit my neem om so baie wêrelde te besoek? Met soveel onbekendheid daar buite in die ruimte sal dit 'n ewigheid neem, en nog meer, om my nuuskierigheid te bevredig. Maar, met my huidige lewensverwagting (wat nog verder kortgeknip is deur verskeie vorme van besoedeling), sal ek waarskynlik nie eens die dag sien wat ons eerste ruimteskippie 'n nuwe wêreld langs 'n ander ster bereik nie.

So hoe nou gemaak? Ek sal my maar wend tot die ongelooflike krag van die mediese wetenskap in die hoop dat ek vir ewig kan jonk bly - wel, ten minste tot ek doodgaan.

Daar was al baie filosofiese en sosiologiese debatte oor die implikasies en wenslikheid van lewensverlenging. Maar, ek hou daarvan om daarna te kyk uit 'n praktiese oogpunt, veral met die oog op my uiteindelike planeethopvermoë.

Daar is baie brokkies inligting wat ek nog sal wil deel oor hierdie onderwerp, maar vandag het ek 'n interessante een raakgeloop wat ek solank hier wou noem. Die meeste mense is bewus van ons afhanklikheid van insulien om ons bloedsuikervlakke in toom te hou sodat ons nie suikersiekte of ander verwante siektes ontwikkel nie. Maar, wat meeste mense (insluitend ek self) nie weet nie, is dat insulien eintlik 'n tweesnydende swaard is. Dit is ook verantwoordelik daarvoor dat ten minste twee tipes proteïene onderdruk word, wat andersins help om weerstand te bied teen oksidasiestres, verskeie gifstowwe en ander vorme van stres. Met ander woorde, insulien veroorsaak ook dat ons nie so lank kan jonk en gesond bly as waartoe ons dalk in staat is nie.

Ek wonder hoe lank die spesialiste sal neem om onder die kap van hierdie byl te kom en vir ons so toelaat om meer gesonde lewens te begin beleef.

2008-04-13

Sterrekinders

Ek het Vrydagaand vir Martian Child op DVD gekyk. Dit laat 'n mens nogal 'n bietjie dink oor jou plek in die wêreld - hoe almal altyd wil hê dat jy normaal moet wees. Dit het my weer herinner aan hoeveel keer ek al self gewonder het of ek nie dalk van 'n ander planeet af kom nie - selfs meer so as 'n grootmens as toe ek 'n kind was.

Ek wonder nou hoeveel ander mense nie al daardie selfde vraag oor hulself gevra het nie. Ons is almal tog juis nié normaal nie en ek sal nie verbaas wees as ons almal so nou en dan voel of ons nie regtig inpas in die samelewing nie. "Wie sal dan nou ooit kan begryp wat in my gedagtes aangaan?" Jy sou selfs jou verbeelding kon vrye teuels gee en wonder of dit nie dalk 'n ingeboude terughunkering is na ons werklike geboorteplek nie: die sterre.

Ja, ons is tog almal sterrekinders, geskep uit sterrestof, vervaardig in die groot sonfabrieke van die melk-weg waar produksielyne verfyn is tot op die femtoskaal, by die punt waar twee atoomkerne saamsmelt en 'n nuwe chemiese element vorm - net so uniek teenoor al die ander elemente soos 'n enkele persoon teenoor al sy medemense.

2008-04-10

Sterrespringer

As jy dalk nog onder die indruk is dat ons met die vuurpyle van vandag (of selfs van more) by 'n nuwe wêreld sal uitkom, het ek ongelukkig slegte nuus vir jou. Ek sal sien of ek later 'n bietjie kan uitbrei hieroor. O ja, en Mars tel nie, want ons het alreeds met hom kennis gemaak (al ons ander planete ook).

Wat ons nodig het, is 'n sterrespringer - 'n vaartuig wat van een ster tot 'n volgende kan spring met 'n blote knip van jou oog. Nou goed dan, miskien nie heeltemal so vinnig nie, maar ten minste binne 'n sinvolle tyd sodat ons nie almal oupa- of oumagrootjies is nog voor ons ons eerste bestemming bereik het nie.

Natuurlik gaan die kennis wat ons ontvang het van ons wyse leermeesters, Isaac Newton en Albert Einstein, ons nie veel help nie. Jy mag dalk dink dat ons dan vir ewig verdoem is tot hierdie een planeet, maar wat jy dan nie weet nie, is dat daar alreeds sprake is van meganismes wat dalk sterspringery sal toelaat.

Min mense het al gehoor van Burkhard Heim, want hy het nie veel uit die huis gekom en met mense gemeng nie. Maar wat Heim gedoen het, is merkwaardig. Hy het kennis van kwantum fisika geneem en dit gebruik om Einstein se algemene relatiwiteitsteorie uit te brei. Daarmee kon die massa van fundamentele partikels teoreties bereken word tot 'n akkuraatheid wat goed ooreenstem met werklike metings - iets wat die standaard model blykbaar nie kan doen nie.

Walter Dröscher en Prof. Jochem Häuser het gebou op Heim se werk en onlangs 'n nuwe moontlikheid vir reise deur die kosmos voorgestel. Sal hul voorgestelde eksperimente misluk, of skyn hulle dalk wel 'n liggie op die pad na ons uiteindelike planeethoppery?

2008-04-09

My huisie is 'n ruimteskip

My geboorteland is in anargie, of bitter naby daaraan. Die polisiemag en ander wetstoepassers sukkel maar om selfs net 'n bietjie orde te behou. Die regering het amper geen benul van eens basiese dienslewering nie. Helfde van die weermag is besig om ander lande te "help". Heelwat burgers begin voel dat dis nou maar elke-man-vir-homself.

Jy kan nie meer vertrou dat jou ligte gaan aanbly nie [gelukkig save blogger.com my post outomaties]. Jy is nie werklik gewaarborg van genoeg skoon drinkwater nie. Die paaie is net-net rybaar. Die rioolstelsels begin ook nou kraak. Jy kan glad nie verwag dat iemand anders jou gaan beskerm teen booswigte nie. Vir alle praktiese doeleindes is ons eintlik maar terug in die "wilde weste" en jy moet maar begin kyk na hoe jy vir jouself kan sorg.

Dis nie besonders anders as hoe dinge in die buitenste ruimte is nie [al ooit daardie briljante reeks "Firefly" gesien?]. Daar is geen reëls daar nie: geen polisie wat jou gaan arresteer as jy jou skippie op iemand anders se maan parkeer nie; geen kos of water nie; geen badkamergeriewe nie; geen beskerming teen die elemente nie; omtrent geen van enigiets nie. Jy moet alles wat jy nodig het saam met jou vat (en genoeg vir waarheen jy ookal oppad is).

So kan jy sien dat enige tegnologie wat jou sal instaat stel om in jou ruimteskippie te oorleef, presies net so vir jou ook sal instaat stel om in jou huisie in enige land (met of sonder orde) te kan oorleef - tot 'n groot mate in elk geval. Wag 'n bietjie - jy't dan nie eintlik eens 'n huisie nodig nie, het jy?

Jou skippie ís jou huisie.

[Ons het nog nie skippie-huisies nie, maar ek kan seker solank my huisie begin inrig soos 'n skippie.]

Laat ons ver-trek

Kom ons spring gou eers 'n entjie in die toekoms in. Gestel ons het nou reeds ons ruimteskip wat ver genoeg kan reis sodat ons nuwe wêrelde kan ontdek. Al die tegniese kwessies is uitgesorteer. Al wat oorbly is:
  • Waar gaan ons heen?
  • Wie gaan saam?

Wel, ons sal nogal 'n baie goeie idee kry van hoe die destydse seevaarders moes voel toe hulle weggeseil het na nuwe onbekende wêrelde. Hulle was gedryf deur ekonomiese kwessies. Ons is ook. Ons sal die bestemming moet kies wat die minste gaan kos en die grootste potensiaal het vir winslewering - al is dit 'n immateriële (aan)wins dat ons 'n nuwe toeristebestemming gevind het. Ons moet dus soek vir sonnestelsels waar daar 'n groot potensiaal vir lewe (plante en diere) bestaan, maar wat relatief naby aan ons sonnestelsel geleë is. Ons wil ook nie te ver gaan nie, want niemand anders was al so ver nie, en ons wil nog ons pad huistoe kan vind.

Ek het al 'n paar mense in gedagte vir wie ek sal saamnooi op my eerste ruimterits.

Ek sal 'n natuurlike kommunikasie-/taalboffin benodig indien ons enige intelligente wesens raakloop, maar ook om vir my en ons mede-planeethoppers op ons tone te hou met spitsvondige woordekuns.

Ek sal sekerlik 'n gesoute geoloog saamneem, veral een met 'n bietjie kennis van die sterre.

Ek sal 'n paar ingenieurskennisse saamnooi om te help met instandhouding, probleemoplossing en interessante gesprekvoering.

Ons sal ook 'n mediese span benodig om seker te maak ons bly almal gesond. Dit sal seker 'n sielkundige insluit.

Daar is ook nog 'n paar ander kennisse wat ek sal saamnooi net omdat ek so baie van hulle hou. :)

Het ons iemand belangrik agtergelaat? Sal jy wil saamgaan? Hoe sal jy my oortuig as ons beperkte plek het?

Van Fiksie tot Wetenskap

So, die wêreld is byna op sy kop omgekeer. Sekere van ons besef dit 'n bietjie beter as ander. En dan is daar ook die paar geseëndes wat nog in salige onbewustheid niks fout kan sien nie. Hierdie is egter nie nuut nie - dis 'n nalatingskap wat die mens al vir eeue met hom saambring. Soms raak dit nogal besonders moeilik om nog die goeie dinge in die lewe raak te sien. Dit is nie verbasend nie, want die menseplaag verorber alles rondom hom en los al minder oor vir werklike waardering.

Kan ek jou dalk interesseer in 'n droom?

'n Droom wat nie noodwendig so vreeslik verregaande is nie.

As jy op 'n helder aand opkyk na die knipogies in die hemelruim, wonder jy ook soms wat daar in die verte lê? Kom saam met my, dan gaan vind ons uit.

"Jy maak seker 'n grap!" hoor ek iemand sê. Natuurlik kan ons nog nie vandag al gaan nie, want ons kort nog 'n ruimteskippie wat so ver kan reis. Maar, intussen kan ek vir jou wys hoe naby ons al daaraan is om een te bou. En met die pad langs sal ek jou sommer ook vertel van 'n hele klompie ander feite wat die uiteindelike avontuur soveel meer interessant sal maak.

Nou wat nou? Wil ek dan wegvlug van hierdie stukkende planeet, net om 'n ander een te gaan verniel? Alles behalwe! Ons bron van vele inspirasie, die VSA se nasionale ruimteagentskap, NASA, het al baie kere gewys hoe vordering in ruimtetegnologie juis ook tot voordeel kan wees vir lewe hier op aarde (en uiteindelik ook op ander wêrelde). As jy volgende keer weer kom inloer sal jy dalk reeds 'n beter idee kan kry van hierdie konsep. Buitendien, planeet Aarde is tog my tuiste, my geboorteplek. Ek het ontstaan uit haar* stof. Ons is een en dieselfde. Hoe kan ek nie alles in my vermoë doen om haar te red nie?

[Hierdie is my eerste inskrywing van my eerste blog. Dit sal seker 'n rukkie neem om behoorlik aan die gang te kom, maar ek hoop iemand anders sal ook die avontuur geniet.]

* - 'n speelse verwysing na die gewilde konsep van "moeder natuur",of Gaia, uit die Griekse mitologie