2009-03-15

Sterkyker, Verkyker

Ek kyk op na die sterre: waarvandaan sal daar vir my hulp kom, om hulle van nader te beskou?

Ek dink as die psalmdigter 'n astronoom was, sou hierdie woorde waarskynlik vanaf sy penveer gevloei het. Dit was egter 'n skamele 40 dekades gelede wat iemand 'n metaalpypie met twee geronde glasskyfies na die hemel gerig het en die maan en planete van nader aanskou het. Op skool leer ons dat die Italianer Gelileo Galilei daardie sterkyker was. Maar, min mense weet dat 'n Engelsman, genaamd Thomas Harriot, eintlik 'n paar maande voor Galileo alreeds 'n breedvoerige skets van die maan se oppervlak gemaak het met behulp van sy eie teleskoop. Hierdie 2009ste jaar van ons moderne kalender vier ons die 400ste herdenking van daardie eerste hemelsketse met die Internasionale Jaar van Astronomie.

Wanneer ons eendag wil begin hop na ander planeetstelsels, sal ons natuurlik eers 'n bietjie moet uitkyk na wat vir ons daar anderkant lê en wag. Sir Isaac Newton het gelukkig vir ons gewys hoe om 'n mooi kompakte teleskoop met spieëls te bou. Vandag het ons alreeds asemrowende, tegnologies gesofistikeerde sterkykmasjiene waarmee ons diep in die sterreruim kan inkyk en miljoene ander sterrestelsels kan waarneem. Tog begin dinge nou interessant raak met nuwe ontdekkings wat ons teleskope by die dag kragtiger maak en ons verder, en met meer detail laat sien.

Een interessante verwikkeling, is die saamsnoering van inligting vanaf 'n hele spul teleskope in verskillende dele van die wêreld om effektiewelik te werk as een enorme skynteleskoop. Sonder om nuwe, groter teleskope te bou, kan ons dus nou prentjies maak met sulke fyn detail as wat 'n enkele teleskoop sou toelaat indien dit 'n paar duisend kilometer groot was. Verder is dit ook interessant om te hoor dat sulke tegnieke nou gebruik word met gewone radio antennas om elektromagnetiese golwe van laer frekwensies uit die ruimte waar te neem.

Ander tegnieke, wat 'n bietjie meer van toepassing is op ons planeethoppery, word ingespan om planete rondom ander sterre te vind. Dalk het jy ook onlangs in die nuus gehoor van die eerste direkte foto van wat baie waarskynlik 'n planeet is langs 'n sonagtige ster, 500 ligjare weg. Voorheen was dit slegs moontlik om die teenwoordigheid van planete te bepaal, eerder as wat hulle direk gesien kon word. Intussen is daar ook foto's geneem van 'n multi-planeetstelsel om 'n ander ster, 130 ligjare weg. En, die bekende Hubble ruimte teleskoop het self ook al 'n planeet raakgesien. Verder, het sterrekundiges dit reggekry om die grootte van 'n ander ster se planeet met baie fyn akuraatheid te meet (Ons almal weet mos nou al jy kan nooit iets presies meet nie).

Die mees bizarre verkyk tegniek wat tot dusver nog gebruik is, word geïmplimenteer met behulp van die gravitasionele lens effek wat prof. Einstein ontdek het. Hiermee kan ons voorwerpe (eintlik maar net sterrestelsels) verder weg sien as wat ons kragtigste teleskoop vir ons kan wys.

Die sterretjie op die koek is 'n video wat gemaak is vanaf 8 jaar se waarnemings van 'n dooie ster, genaamd Cassiopeia. [terloops: dis nou nie juis 'n aksie-belaaide video nie ;-)]

Ek moet bieg dat ek self nie 'n besonderse belangstelling in die sterrekunde het nie, afgesien daarvan dat ek myself telke male vang waar ek op 'n wolklose aand opstaar en die hemelruim bewonder. Die enigste sterrebeeld wat ek goed ken is die jagter Orion, en ek het onlangs eers by 'n vriend gehoor dat hy slegs in die somer sy verskyning hier by ons maak. 
Nietemin, een ding wat duidelik uitstaan in al hierdie sterkykery wat ons as mense doen, is die ongelooflike hoeveelheid planete wat beskikbaar is om eendag te besoek. Daar is so baie dat een persoon nie in 'n leeftyd van 'n duisend jaar eens 'n spatsel uit 'n oseaan van planeet-druppels sal kan besoek nie. Ek het 'n foto gevind wat hierdie feit baie mooi illustreer, waar die verste beeld wat nog ooit geneem is in die ultravioletband omtrent volledig bedek word met spikkels wat elk 'n sterrestelsel is soos die Melkweg, en elkeen met biljoene sterre waarvan die meeste ten minste een planeet het. Ek wonder hoe lank sal ek my afwagting kan verduur voor ek tussen hulle kan begin rondhop.

As jy 'n bietjie meer in sterrekunde belangstel as ek, kan jy gerus gaan loer by NASA se SkyView, indien jy nie alreeds so gemaak het nie. Kyk ook 'n bietjie watter dele van die hemelruim gewild is onder ander gebruikers van SkyView.

[Die prentjies het ek by die volgende webbladsye gevind:

1 comment:

mnrmuller said...

Weereens interessant! Sal 'n rukkie vat om al die skakels uit te check.