2008-05-05

Anargie = Sekuriteit

Watter gedagtes word by jou opgewek wanneer jy die woord "anargie" teekom? Dalk 'n bietjie angs, 'n bietjie vrees, of eerder kleurryke beelde van 'n idilliese utopia? As jy belangstel om te volg wat hierdie aspirant-planeethoppertjie se vreemde brein-chemikalië opdis as idees en deur middel van bevele aan ratse vingers wat oor knoppies dans in elektriese seine omskakel sodat dit op 'n vertoonskerm deur jou visuele sintuie kan meng met jou eie brein-chemikalië, dan is daar dalk 'n klein moontlikheid dat ek jou uiteindelik sal kan oortuig dat die idee van anargie eintlik iets ongelooflik mooi kan wees. [sjoe, ek hoop jy kon daardie laaaang sin volg]

Die vergelyking in die titel van hierdie inskrywing kan jy van albei kante beskou en dit sal nogsteeds waar bly (soos die gelykheidsteken natuurlik aandui). Jy glo my nie?

Aan die een kant: wanneer anargie heers [hahaha, 'n bietjie van 'n paradoks?], dan is daar 'n definitiewe groot behoefte om genoegsame sekuriteit aan te skaf as jy enigsins belangstel om te oorleef. As daar nie enige polisie of weermag is om jou te beskerm nie, dan moet jy maar jou eie newe-ent beveilig. Jy kan ongelukkig nie vertrou dat ander mense nie met jou gaan lol nie.

Aan die ander kant: as elke lewende of nie-lewende entiteit volkome beskerming geniet, dan is daar mos geen plek of nut meer vir regerings en wetgewing of politieke beleide nie. Elkeen kan maak soos hy/sy lus het sonder om bang te wees dat hy/sy self seerkry of dat iemand/iets anders seergemaak kan word.

Uit ervaring weet ons dat die mens nie van nature in 'n anargie kan lewe sonder om alles en almal anders mettertyd te vernietig nie (en in die proses hom-/haarself ook). Dis mos hoekom ons wette maak - sodat ons ten minste oor 'n paar goedjies kan saamstem met die hoop dat dit sal help dat ons nie mekaar se kele sal afsny nie. Dis nogal 'n hartseer/patetiese stand van sake.

Maar, ek sien nog 'n blink toekoms, wat moontlik gemaak word deur tegnologië waarvan ons nou nog net kan droom: 'n toekoms waar jy volkome veilig kan wees teen aanslagte van enige aard - van die kleinste mikroskopiese virus-infeksie, tot die grootste kosmiese swart gat wat gulsig wag om jou elementêre partikels uit jou liggaam uit te suig.

Hoe lyk die toekoms vir jou?

[Sommige van julle mag dalk alreeds aflei wat die titel van my volgende inskrywing sal wees. Hou hierdie spasie dop vir die slotsom in my subjektiewe, onwetenskaplike en onvolledige (on)wiskundige afleiding.]
[Hersiening: Lees gerus ook die vorige en opvolgende inskrywings in hierdie reeks.]

3 comments:

Anonymous said...

Wel... laat ek 'n raaiskoot waag...

Seinde Sekuriteit = Vryheid, en Anargie = Sekuriteit...

dan QED:
Vryheid = Anargie

Is ek reg? :-/

Francois Cilliers said...

Amper reg, hehe. Daar's 'n subtiele verskilletjie in die titel wat ek wil gebruik, en jy sal dit dalk selfs kan miskyk en dink dat dit eintlik dieselfde is. :)

Anonymous said...

Hi Francois,
Wil jy anargie lees/gesels? Kom besoek dan my blog - Anargisme by wordpress.

Groete,
Kanwilsal