2009-07-12

Ek en my huisie

Ek het 'n konsep ("draft") van hierdie inskrywing 'n hele jaar gelede hier op Blogger gestoor (19 Junie 2008, om presies te wees). Maar, siende dat ek juis nou die mylpaal in my lewe bereik het waar ek ernstig kan begin soek na 'n huisie (nou goed dan, eerder 'n woonstelletjie), het ek dit goedgedink om daardie elektrone so bietjie af te stof en hulle aan die gang te skop sodat hulle 'n slaggie weer kan rondrits en uiteindelik hierdie woorde na jou rekenaar-/selfoonskerm kan bring.

Vatevore het ek besin oor hoe 'n volledig toegeruste ruimteskippie effektiewelik ook my huisie kan wees: 'n huisie wat ek kan parkeer in enige land van my keuse, ongeag of daar enige infrastruktuur of wetstoepassing van enige aard is. Dis 'n ideale tuig om op 'n vreemde planeet ook te gaan woon.

So kom ons bou vir ons 'n ruimteskippie.

Ek wil begin met 'n basiese ontwerp. Ek gaan eers net al die noodsaaklike dele van die ideale ruimteskippie lys en dan kan ons soos die tyd verloop kyk hoe ons elke deel gaan bou en integreer in 'n volledige skippie. Terwyl ons nog nie nou al 'n ruimteskippie kan bou nie, sal hierdie jou wel 'n paar idees gee oor wat 'n mens kan doen om jou bestaande huis te omskep in iets baie na aan 'n ruimsteskippie.

Hier is die dele wat ek dink absoluut noodsaaklik is vir 'n ruimteskiphuisie:
  1. 'n romp (nee, nie die tipe wat vrouens dra nie)
  2. lewensondersteuningstelsel
    • vir basiese oorlewing
    • stoorplek vir lug, water en kos met gepaardgaande meters wat kan aandui as voorrade min raak
    • stelsels wat kan seker maak dat die lug, water en kos veilig is om te verbruik (dit moet byvoorbeeld dodelike kieme en gifstowwe kan opspoor en onskadelik maak)
    • stelsels wat gebruikte lug, water, kos en vullis / afval moet verwerk en herwin tot 'n nuttige vorm (ons wil sekerlik nie die heelal bestrooi met ons gemors nie? yuck!)
    • ons skippie sou ook vars water kon opvang wanneer dit reën, vir 'n bietjie afwisseling met herwinde water
    • beligting wat so goed werk soos sonlig om ons te help met instandhouding van vitamien D voorrade
    • dalk ook 'n groentetuin vir daardie kere wat ons vir lang tye nie by die winkel kan uitkom nie; ons mag dalk selfs gesonde kos kan kweek met kunsmatige beligting
  3. sekerheid-/beskermingstelsel
    • sodat niemand jou huis kan steel en wegvlieg daarmee nie
    • ook noodsaaklik om te verhoed dat 'n wilde beer of marsmannetjie by jou voordeur instap en probeer om jou oor die kop te slaan terwyl jy rustig besig is om 'n koppie tee saam met jou gunsteling storieboek te geniet
    • ingesluit hierby is 'n outomatiese toesig-/waakstelsel met 'n alarm sodat jy vinnig kan padgee as dinge bietjie warm onder die kraag begin raak, of anders sodat jy jou buurmense kan roep dat julle gewere kan saamspan
    • ons moet dalk ook kyk of ons 'n stelsel kan installeer wat plofstof kan opspoor en onskadelik stel
  4. kragopwekkingstelsel
    • 'n ruimteskippie het vanselfsprekend een-of-ander vorm van energie nodig om al die stelsels aan die gang te hou, veral die lewensondersteuning- en aandryfstelsels
    • die kragopwekkingstelsel moet weerstandig wees teen enige skade wat opgedoen kan word - ons wil ten minste darem 'n SOS met twitter kan stuur en dan oorleef totdat die ambulaansskip opdaag
    • dit mag dalk help as die skippie meer as een tipe kragopwekker kan gebruik
    • die stoor van energie (soos met 'n battery) kan ook nuttig wees indien kragopwekking heeltemal ophou werk
    • dit alles help natuurlik ook vir immuniteit teen effekte soos "load shedding"
    • ingesluit moet daar ook 'n energiemeter wees wat vir ons kan aandui wanneer ons weer 'n draai by die vulstasie moet maak, en ook om ons te waarsku as ons te veel warm water gebruik wanneer ons stort, of die lugverkoeler (Youtube 6:32 minute) onnodig laat loop
  5. leefruimte
    • slaapplek
    • kosmaakplek
    • eetplek
    • skoonmaakplek
    • werkplek
    • kuierplek
    • speelplek
    • en moenie vergeet van kunsmatige swaartekrag nie
  6. aandryfstelsel
  7. beheerstelsel
    • om te sorg dat al die ander stelsels goed werk en alles glad verloop tydens 'n lang reis na nêrens
    • sluit in 'n navigasiestelsel [dankie FrancoisM vir die skakel] om op koers te bly, of weer op koers te kom as ons die pad 'n bietjie byster raak of sommer net interessante draaie by tropiese eilandplanete gaan maak
    • iets soos 'n semi-intelligente rekenaarbrein kan nuttig wees
    • ons sal waarskynlik ook 'n gemaklike koppelvlak (Youtube 3:40 minute) benodig om die beheerstelsel te bestuur
  8. noodgevaltoerusting
    • vir wanneer dinge rêrig skeefloop
    • 'n noodhulpkamer
    • suurstoftenks om net vir oulaas nog 'n paar asems te skep
    • dryftoerusting vir ingeval ons in 'n see beland
    • gereedskap vir brandbestryding
    • termies geïsoleerde komberse waarin jy kan wegkruip teen die yskoue van die buitenste ruim of die bibberkoue van 'n ysplaneet
Ek hoop ek het nou die belangrikstes gedek, maar as jy iets oplet wat ek gemis het, los gerus 'n opmerking.

Toevallig het ek ook hierdie week afgekom op 'n storie van 'n 16-jarige seun van Kanada wat eersteprys gewen het in 'n NASA kompitiese met sy verslag oor hoe om 'n nedersetting in die ruimte te bou vir menslike bewoning. Die kern elemente in sy verslag (PDF, 20Mb) is dieselde as wat ter sprake is by die bou van 'n ruimteskiphuisie, en hy dek die onderwerp nogal breedvoerig. Dis werklik verstommend om te sien hoe ver so 'n skoolkind se kennis strek.

5 comments:

Anonymous said...

Weet darem nie of jy so met verkleinwoorde na jou ruimtewoning kan verwys nie; klink my dit moet huge wees om dit lewensvatbaar te maak.

Francois Cilliers said...

Hehe nee wat, met die hedendaagse tendens van minuaturisering, dink ek nie veel groter as 'n standaard (miskien 2-verdieping) huis nie. Ok, dalk met die tuin area ingesluit.

Bygesê: dit sal seker effens groter moet wees as 'n tipiese middelklashuis, met die ekstra komponente soos 'n aandryfstelsel en kos/water/lug stoorplek wat tipies nie in 'n konvensionele huis gevind word nie.

Terloops: ek het ontdek dat ek wel 'n belangrike punt in my lysie uitgelaat het. Kan iemand raai wat dit is?

Eben said...

Hou asb. aan met die skryf van wetenskapfiksie in Afrikaans. Ek is op die oomblik besig om 'n boek (wetenskap fiksie) te voltooi, en ek kry maar min hulp met die woordeskat synde daar so min wetenskapfiksie in Afrikaans is.
Sal van nou af meer 'n draai hier kom gooi.
Groete vanuit Kanada

Eben van Renen said...

Wat dink jy van 'n kleiner voertuigie waarmee mens die onmiddelike area rondom jou ruimtetuig kan verken. Dit kan soos 'n vierwiel aangedrewe dik rubberband tipe ding wees vir planeet oppervlaktes, en dan 'n tipe kleiner, meer beweegbare ruimtetuig waarmee mens vir kort vlugte om die groot skip kan gaan. Ek glo ook dat jou ruimteskip nie meer 'klein' is nie. Dit sou energie spaar om 'n kleiner weergawe aanboord te he vir die kleiner verkennings. Het jy radar/sensors om planete of hemelligame mee te skandeer, op te spoor? 'n Outoloods modus is ook 'n vanselfsprekende byvoeging, omdat atmosferiese indringing so 'n gevaarlike en komplekse proses is.

Francois Cilliers said...

Skitterend! Dankie vir die opmerkings Eben (oftewel, Meneer Niemand). Ek geniet dit om te hoor wanneer ander mense my skeppings ook nuttig vind.

Ek moet jou egter daarop wys dat ek nie besig is om fiksie te skryf nie. Alles op hierdie blog het betrekking tot werklike ontdekkings. So nou en dan sal ek iets ingooi oor wetenskaplike teorië, maar sulkes word nogtans onderwerp aan werklike eksperimentering. Nietemin, ek hou in elk geval meer van fiksie wat gebasseer is op realiteit, eerder as verregaande onmoontlikhede. Ek het self ook 'n idee vir 'n boek in hierdie genre waaraan ek so nou-en-dan torring. Ek sal egter Mnr. Muller se hulp benodig om aan die Afrikaanse weergawe interessante, kleurvolle beskrywings te gee.

Die woordeskat kom vir my meestal heel maklik (tog soms 'n bietjie uitdagend), te danke aan my tegniese agtergrond en kritiese beoordeling van taalgebruik (iets wat ek by koshuisvriende aangeleer het). Ek hoop my inskrywings kan jou darem effens help.

Ek dink dis 'n blink voorstel om iets soos 'n motorhuis in die ruimteskip in te bou waarin jy 'n SUV-tipe veelvoudige-terreinvoertuig kan aanhou. Bonuspunte as ons dit kan regkry om 'n praktiese vlieënde motor te maak (dis egter nog bietjie fiksie vir my). 'n Rondryvoertuig is wel van sekondêre belang (ons kan mos rondloop ook), maar ek twyfel of ek ons planeet sal wil verlaat sonder een.

Die navigasiestelsel sal inderdaad al die nodige sensore insluit om planete te verken. Die sekerheidstelsel sal 'n radar gebruik om te keer dat ons in ruimteklippe vasvlieg. Die beheerstelsel sal verseker meestal outomaties wees (soos ek grappenderwys verwys het na HAL uit die fliek Space Odyssey). Ons sal bloot die beheerstelsel bestuur deur bv. bevele te gee vir waarheen ons wil gaan of waar ons wil land, of hoe warm die badwater moet wees.

Ek vermoed julle dink dat my ruimteskippie baie groot moet wees vir al die voorrade wat saamgesleep moet word. Ek is egter van mening dat as ons enigsins 'n aandryfstelsel ontdek wat ons na ander sterre kan neem, dan sal ons waarskynlik nooit meer as 'n week in die ruimteskippie hoef te oorleef voor ons by ons bestemming kom nie. Ek sou dus gemaklik wees met 'n maand se voorrade sodat ek darem kan terugkom by die huis en ook nog 'n bietjie kans het om verkenning te doen. En met herwinningstoestelle kan die totale gestoorde voorrade ook minder plek inneem.

Ons sal wel groter skippies benodig as ons verder wil reis op 'n slag, tot die dag dat ons genoeg kolonies met handelsposte gestig het.