2008-07-09

Eendag as ek jonk is: Voorkoms

Hierdie reeks het afgeskop met 'n kort opsomming van areas wat van praktiese belang is wanneer 'n mens soek na verjeugingstegnologië.

Ek wil begin by die onderwerp van voorkoms. Wat help dit tog as jy vir ewig jonk bly, maar mettertyd lyk soos 'n uitgedroogde perske omdat jy 150 somers te veel sonblootstelling gekry het? Daar is immers alreeds 'n groot gespesialiseerde industrie wat op die verjeuging van voorkoms fokus met verskeie kosmetiese produkte. Die meeste vrouens in die moderne westerse samelewing is ook teen hierdie tyd al vertroud met allerhande tegnieke waarmee die jeugdigheid behou kan word [aangesien ek 'n man is en nie in besonder baie kennis oor die onderwerp dra nie, sal ek enige kommentaar van die dames waardeer].

Ek stel glad nie belang daarin om bloot die tekens van ouderdom te verbloem, of enige skade aan te rig ter wille van 'n beter voorkoms nie. Dit is dus gerusstellend om te leer dat daar wel sekere kosmetiese produkte bestaan wat op 'n mikrobiologiese vlak jou vel se jeugdige funksies tot 'n mate kan herstel.

Ek lees in die ensiklopedie Britannica dat kollageen, saam met elastin, die proteïenmolekules is waarvan die strukturele integriteit van gewerwelde organismes (soos ons mense) afhanklik is. Kollageen help met versterking van jou vel, jou gebeendere, jou bloedvate + aarwande en selfs jou tande. Soos 'n mens ouer raak, word minder nuwe kollageen vervaardig en minder ou kollageen word verwyder. Dit lei daartoe dat kollageenmolekules ophoop en dan later aan mekaar gekoppel raak (Engels: "cross-links") en kristaliseer. Dit verminder die rekbaarheid van jou vel (m.a.w. veroorsaak plooie) en are, en gee aanleiding tot algehele styfheid in die liggaam.

Dit wil voorkom of vrouens eintlik 'n effense voordeel het wanneer dit by 'n jeugdige voorkoms kom. Blykbaar bevat 'n vrou se vel baie meer natuurlike anti-oksidante as 'n man s'n. Op grond daavan word haar risiko vir velkanker van sonblootstelling aansienlik verlaag, maar anti-oksidante help ook om veroudering van die vel te verminder deur 'n positiewe uitwerking op kollageen en elastin. Ek kan dus nou verstaan hoekom dit blyk dat vrouens baie later as mans eers tekens van plooie begin wys.

Nou ja, afgesien van skynbare voordele wat 'n kalorie-beperkende dieet op die jeugdigheid van kollageen het, is daar ook gevind dat retinoïensuur (Engels: "retinoic acid") retinol kan help om vervaardiging van nuwe kollageen te stimuleer. Dus, as jy volgende keer wonder watter vogroom om te koop, soek een wat retinol bevat. Dit sal egter net nie kan verseker dat jy soos Madonna op 50 lyk nie.

[Hersiening: Ek het intussen geleer dat retinol en retinoïensuur nie dieselfde molekule is nie; sien ook my volgende inskrywing in hierdie reeks.]

Siende dat ek geen ander produkte vir mans kon vind met hierdie bestandeel nie, het ek onlangs vir my 'n botteltjie "Men's Expert Vita Lift Complete Anti-Ageing Moisturising Cream" met "Pro-Retinol" van Loreal Paris aangeskaf om te beproef of dit sal help om die dongas op my voorkop effens vlakker te maak. ;) Dit is R110 by Pick-n-Pay en R130 by Clicks. Dis slegs 50 ml, so ek gebruik dit liewer spaarsamig en gekombineerd met 'n goedkoper algemene vogroom. Ek is nou in die helfde van my tweede week uit die vier weke waarbinne 'n mens sigbare resultate behoort te sien. Ek wag nog angstig...

Onlangse bevindinge toon dat 'n sekere vetmolekule ook 'n bydrae kan maak tot verjeuging van die vel. Daar is verder sprake dat die koënsieme Q10 (Engels: coenzyme), soos bevat in sommige Nivea produkte, teoreties voordelig kan wees vir kollageen en elastin produksie. Daar is egter nog geen beduidende wetenskaplike navorsing hieroor gedoen nie.

Vir meer inligting oor verjeugingsbehandelings kan ek jou verwys na 'n webwerf wat ek gevind het met goeie verwysings na wetenskaplike literatuur.

Terloops: daar is ook al medisynes ontdek wat die kruiskoppeling tussen kollageenmolekules kan breek om verouderde are se jeugdigheid te herstel.

3 comments:

Anonymous said...

hm, ek sien jy begin alreeds produkte adverteer - word jy betaal deur die retinol-mense? ...ek hoop jy het before and after foto's wat jy gaan post! :P

Francois Cilliers said...

LOL! Nee, ek wou bloot aan julle praktiese opsies bekend maak as 'n beginpunt, op grond van bevindinge uit die wetenskaplike wêreld. As jy van enige alternatiewe of selfs beter produkte (of konkoksies) weet, sal ek baie graag daarvan wil hoor. Ek wil ook probeer help dat julle nie onder 'n wanindruk hoop op sekere produkte plaas (en sodoende dalk honderde Rande mors) nie, deur die werklike feite uit te lig.

Ek het ongelukkig nie 'n behoorlike kamera waarmee ek ordentlike before-after foto's kan neem nie. :(

Toner zamiennik said...

Nice post. I learn something totally new and challenging on websites I stumbleupon on a daily basis. It will always be interesting to read through content from other writers and use a little something from their web sites.