2009-07-12

Ek en my huisie

Ek het 'n konsep ("draft") van hierdie inskrywing 'n hele jaar gelede hier op Blogger gestoor (19 Junie 2008, om presies te wees). Maar, siende dat ek juis nou die mylpaal in my lewe bereik het waar ek ernstig kan begin soek na 'n huisie (nou goed dan, eerder 'n woonstelletjie), het ek dit goedgedink om daardie elektrone so bietjie af te stof en hulle aan die gang te skop sodat hulle 'n slaggie weer kan rondrits en uiteindelik hierdie woorde na jou rekenaar-/selfoonskerm kan bring.

Vatevore het ek besin oor hoe 'n volledig toegeruste ruimteskippie effektiewelik ook my huisie kan wees: 'n huisie wat ek kan parkeer in enige land van my keuse, ongeag of daar enige infrastruktuur of wetstoepassing van enige aard is. Dis 'n ideale tuig om op 'n vreemde planeet ook te gaan woon.

So kom ons bou vir ons 'n ruimteskippie.

Ek wil begin met 'n basiese ontwerp. Ek gaan eers net al die noodsaaklike dele van die ideale ruimteskippie lys en dan kan ons soos die tyd verloop kyk hoe ons elke deel gaan bou en integreer in 'n volledige skippie. Terwyl ons nog nie nou al 'n ruimteskippie kan bou nie, sal hierdie jou wel 'n paar idees gee oor wat 'n mens kan doen om jou bestaande huis te omskep in iets baie na aan 'n ruimsteskippie.

Hier is die dele wat ek dink absoluut noodsaaklik is vir 'n ruimteskiphuisie:
  1. 'n romp (nee, nie die tipe wat vrouens dra nie)
  2. lewensondersteuningstelsel
    • vir basiese oorlewing
    • stoorplek vir lug, water en kos met gepaardgaande meters wat kan aandui as voorrade min raak
    • stelsels wat kan seker maak dat die lug, water en kos veilig is om te verbruik (dit moet byvoorbeeld dodelike kieme en gifstowwe kan opspoor en onskadelik maak)
    • stelsels wat gebruikte lug, water, kos en vullis / afval moet verwerk en herwin tot 'n nuttige vorm (ons wil sekerlik nie die heelal bestrooi met ons gemors nie? yuck!)
    • ons skippie sou ook vars water kon opvang wanneer dit reën, vir 'n bietjie afwisseling met herwinde water
    • beligting wat so goed werk soos sonlig om ons te help met instandhouding van vitamien D voorrade
    • dalk ook 'n groentetuin vir daardie kere wat ons vir lang tye nie by die winkel kan uitkom nie; ons mag dalk selfs gesonde kos kan kweek met kunsmatige beligting
  3. sekerheid-/beskermingstelsel
    • sodat niemand jou huis kan steel en wegvlieg daarmee nie
    • ook noodsaaklik om te verhoed dat 'n wilde beer of marsmannetjie by jou voordeur instap en probeer om jou oor die kop te slaan terwyl jy rustig besig is om 'n koppie tee saam met jou gunsteling storieboek te geniet
    • ingesluit hierby is 'n outomatiese toesig-/waakstelsel met 'n alarm sodat jy vinnig kan padgee as dinge bietjie warm onder die kraag begin raak, of anders sodat jy jou buurmense kan roep dat julle gewere kan saamspan
    • ons moet dalk ook kyk of ons 'n stelsel kan installeer wat plofstof kan opspoor en onskadelik stel
  4. kragopwekkingstelsel
    • 'n ruimteskippie het vanselfsprekend een-of-ander vorm van energie nodig om al die stelsels aan die gang te hou, veral die lewensondersteuning- en aandryfstelsels
    • die kragopwekkingstelsel moet weerstandig wees teen enige skade wat opgedoen kan word - ons wil ten minste darem 'n SOS met twitter kan stuur en dan oorleef totdat die ambulaansskip opdaag
    • dit mag dalk help as die skippie meer as een tipe kragopwekker kan gebruik
    • die stoor van energie (soos met 'n battery) kan ook nuttig wees indien kragopwekking heeltemal ophou werk
    • dit alles help natuurlik ook vir immuniteit teen effekte soos "load shedding"
    • ingesluit moet daar ook 'n energiemeter wees wat vir ons kan aandui wanneer ons weer 'n draai by die vulstasie moet maak, en ook om ons te waarsku as ons te veel warm water gebruik wanneer ons stort, of die lugverkoeler (Youtube 6:32 minute) onnodig laat loop
  5. leefruimte
    • slaapplek
    • kosmaakplek
    • eetplek
    • skoonmaakplek
    • werkplek
    • kuierplek
    • speelplek
    • en moenie vergeet van kunsmatige swaartekrag nie
  6. aandryfstelsel
  7. beheerstelsel
    • om te sorg dat al die ander stelsels goed werk en alles glad verloop tydens 'n lang reis na nêrens
    • sluit in 'n navigasiestelsel [dankie FrancoisM vir die skakel] om op koers te bly, of weer op koers te kom as ons die pad 'n bietjie byster raak of sommer net interessante draaie by tropiese eilandplanete gaan maak
    • iets soos 'n semi-intelligente rekenaarbrein kan nuttig wees
    • ons sal waarskynlik ook 'n gemaklike koppelvlak (Youtube 3:40 minute) benodig om die beheerstelsel te bestuur
  8. noodgevaltoerusting
    • vir wanneer dinge rêrig skeefloop
    • 'n noodhulpkamer
    • suurstoftenks om net vir oulaas nog 'n paar asems te skep
    • dryftoerusting vir ingeval ons in 'n see beland
    • gereedskap vir brandbestryding
    • termies geïsoleerde komberse waarin jy kan wegkruip teen die yskoue van die buitenste ruim of die bibberkoue van 'n ysplaneet
Ek hoop ek het nou die belangrikstes gedek, maar as jy iets oplet wat ek gemis het, los gerus 'n opmerking.

Toevallig het ek ook hierdie week afgekom op 'n storie van 'n 16-jarige seun van Kanada wat eersteprys gewen het in 'n NASA kompitiese met sy verslag oor hoe om 'n nedersetting in die ruimte te bou vir menslike bewoning. Die kern elemente in sy verslag (PDF, 20Mb) is dieselde as wat ter sprake is by die bou van 'n ruimteskiphuisie, en hy dek die onderwerp nogal breedvoerig. Dis werklik verstommend om te sien hoe ver so 'n skoolkind se kennis strek.