2009-06-01

Eendag as ek jonk is: Beter as Botox

[Ek het nie bedoel om so baie hierdie keer te skryf nie, maar lyk my daar was baie om te sê :) ].

In my inleiding tot die onderwerp, het ek 'n kortlys gemaak van areas wat verjeuging op 'n praktiese vlak betrek. Voor ek aanstap na die ander areas, wil ek eers nog 'n klompie interessante ontdekkings met julle deel rondom die kwessie van voorkoms.

Ons het almal onlangs gehoor hoe goed die neurogifstof [die Engelse "neurotoxin" klink beter] Botox werk vir die verbetering in voorkoms van sommige prominente politieke figure. En, daar is geen twyfel dat dit werk nie. Ek het egter 'n probleem met die meganisme waarop dit werk. Ek hou nie vreeslik van die idee om 'n gifstof onder my gesigvel in te spuit wat my spiere verlam en op so 'n manier keer dat ek plooie in my gesig kan trek nie. Tot dusver het ons nog geen bewyse [volg hierdie skakel! en die oorsponklike berig] van enige permanente skade wat deur hierdie gifstof veroorsaak kan word nie, maar ek wil liewer nie kanse vat nie.

Dankie tog dat daar binnekort 'n alternatiewe behandeling na vore kan kom wat dalk net so effektief is, maar sonder die nadele, en waarvan die positiewe effekte langer sal hou. 'n Groep kanker navorsers het ontdek dat dit moontlik is om belangrike vetselletjies onder die vel te laat groei deur die werksaamheid van die RHAMM proteïn te verhinder. Sulke vetselletjies raak verlore met ouderdom en hierdie nuwe selletjies kan nou die slote in 'n mens se voorkop opvul vir 'n meer permanente herstel in voorkoms.

Navorsing in ander velde wys ook na verdere moontlike behandelings vir verouderde vel, soos bv. 'n ondersoek om vas te stel hoe die matige gebruik van alkohol uiteindelik 'n positiewe uitwerking het tydens 'n hartaanval. Hierdeur is gevind dat die ALDH2 ensieme, wat normaalweg die gifstowwe in alkohol onskadelik maak, ook 'n bydrae maak om skade te verminder wat deur vrye radikale veroorsaak word.

Een studie het gevind dat anti-oksidante waarskynlik nie 'n beduidende rol speel in die verlenging van 'n mens se lewensverwagting nie, anders as wat baie produkte op die mark beweer. Maar ander ondersoeke het al definitiewe resultate gewys van hoe sekere anti-oksidante wel 'n belangrike rol speel in bv. die voorkoming van sonskade in die vel. Ek sal daarvan hou as hulle dit sommer met sonskermroom kan kombineer. Net nogal jammer daardie arme laboratorium muisies moes so die pyn van sonbrand ervaar.

Maar hoe het enige van die bogenoemde enige praktiese nut vir ons? Wel, natuurlik nog niks tot dusver nie, maar dit gee ons darem 'n blik op die moontlikhede wat in die nabye toekoms voorlê. :)

Op 'n meer praktiese noot, dan: daar is gevind dat die Brits-vervaardigde kosmetiese middel, "Boots No7 Protect & Perfect Intense Beauty Serum" 'n beduidende verbetering in die voorkoms van plooie kan hê met gebruik oor 'n 12 maande tydperk. Die room stimuleer die vervaardiging van fibrillien-1 proteïne in die vel wat elastisiteit verbeter. Die ondersoek is wel bevonds deur die vervaardiger van die room, maar dit blyk darem dat goeie wetenskaplike metodes gevolg is. Hopelik was daar nie enige korrupsie betrokke nie. ;) Ek kon nog nie met 'n Google soektog uitvind of enige Boots No7 produkte in SA beskikbaar is nie, maar ek sal 'n ogie oophou wanneer ek weer by die winkelrakke verbystap.

Dit word geensins in die berig genoem nie, maar dit lyk of die aktiewe bestandeel in hierdie room die einste retinol is waarvan ek in 'n vorige inskrywing vertel het. Met verwysing na daardie inskrywing, moet ek ook noem dat ek nie die onderwerp vantevore goed genoeg verstaan het nie. Retinol word blykbaar omgeskakel na retinoïensuur en te veel van laasgenoemde in jou liggaam kan negatiewe gevolge hê. Gelukkig het ons ingeboude meganismes om te keer dat dit gebeur, behalwe met sekere siektes. Beide retinol en retinoïensuur is deel van 'n groep molekules, genaamd retinoïdes.

Met daardie vorige inskrywing het ek ook genoem dat ek die "Men's Expert Vita Lift Complete Anti-Ageing Moisturising Cream" met "Pro-Retinol" van Loreal Paris uit probeer het [wat 'n mondvol!]. Wel, dis so te sê 'n jaar later en ek wag nou nog vir die sigbare resultate. Ek vermoed wel dat daar 'n verbetering in die fynste lyntjies op my gesig is, maar ek mag my dalk ook net verbeel.

[Hersiening (2010-02-21): Na my laaste botteltjie Loreal retinolroom opgebruik is, het ek vir omtrent 'n maand lank daarsonder gebly. Na daardie maand kon ek toe duidelik oplet hoe daar nuwe groewe op my gesig verskyn het. Ek was redelik versigtig met sonblootstelling, so ek twyfel of die een of twee ekstra son-in-my-gesig kere so 'n groot invloed kon hê. Gelukkig kon ek die Neutrogena Men "Age Fighter Face Moisturizer SPF15" in die hande kry, want Loreal se retinolroom is nie meer op die rakke beskikbaar nie. Dit lyk darem of dinge nou weer redelik stabiel bly.]