Miskien het jou skoensole al die grond van 'n ander land gekus. Of, dalk het jou tone selfs omgekrul van plesier in die gras wat soveel groener is by jou nuwe tuiste aan die ander kant van die wêreld. Jy sal dan sekerlik vertroud wees met die idee van wisselkoerse en die koopkrag van jou tuisland se geldeenheid.
Het jy al ooit gewonder hoe hierdie konsepte oorgedra sou word na ander wêrelde daar buite in die wye kosmos? Nie? Wel, ek het.
Wanneer ons nuwe wêrelde begin koloniseer, watter geldeenheid sal ons gebruik? Hoeveel koopkrag sou ons kolonies hê wanneer hulle handel dryf met die tuiswêreld, moeder Aarde? En as ons
per toeval vreemde intelligente wesens van ander wêrelde raakloop, sal hulle dalk kliphard uitbars van lag wanneer ons klein gekleurde papiertjies met hulle wil ruil vir 'n koeldrankie?
Het jy al ooit werklike armoede van naby beskou? Hoe laat dit jou voel? Waarom is sommige mense so ryk dat hulle nie eens weet wat om met al hul rykdom te maak nie, terwyl ander in die aand op 'n yskoue sypaadjie onder 'n dun lappie opgekrul lê en wonder waar hulle môre iets gaan kry om te eet? Sou hierdie
gaping tussen ryk en arm ons ook
mettertyd agtervolg wanneer ons eendag op vreemde wêrelde ons alewige rotresies voortsit?
Het jy al ooit gedroom van
'n werk met minder ure? Is jy tevrede met die minimum voorgeskrewe jaarlikse verlof wat elke gewone werker toekom? Het jy ook al 'n honderd-en-twaalf stories op TV gesien wat jou keer-op-keer laat besef dat dit baie meer waardevol is
om tyd saam met familie en vriende te spandeer, of in die skone natuur waar jy liters vol kraakvars, onbesoedelde lug kan inasem, as wat dit is agter 'n lessenaar in 'n piepklein afskortinkie? Hoekom bly die meerderheid van ons geboei deur die kettings van die ekonomie wat van ons vereis om die beste deel van ons dag op te offer sodat ons net 'n skynbaar-gemaklike lewe kan bekostig?
Ons leermeester aanboord, die eerbare
Mnr. Muller, het onlangs ons breinselle geprikkel met die
wonder of kapitalisme dalk binnekort ineen gaan stort. Daar is ook elders 'n
bespreking oor hierdie moontlikheid. Maar, is
kapitalisme werklik die oorsaak van armoede? Kan
sosialisme wel die oplossing wees? Is 'n
gemengde ekonomie dalk beter, of slegter? En, watter van die
vele ekonomiese stelsels sal geskik wees vir interplanetêre handel? Sal ons geld gebruik? Waar kom geld in elk geval vandaan? Was ruilhandel nie 'n beter stelsel nie?
Vrae, vrae, en nog meer vrae. Ek is nou nie 'n kenner op die gebied van ekonomie nie, maar hierdie tipe vrae hou my gedagtes deesdae amper konstant besig. Ek wil leer hoe ek vir myself (en ander) 'n beter lewe kan skep, en terselfde tyd eendag 'n ruimteskippie kan bekostig. Gevolglik probeer ek verstaan hoe ek, 'n piepklein spikkel, inpas in die magtige omwentelling van fondse, wat heeldag en elke dag rondtuimel soos die oseaanstrome, in transaksies wat plaasvind met 'n straatverkoper, in 'n supermark, in korporasies se aankope departemente, op die effektebeursvloer, oor landsgrense, en selfs in ons nuwe
aanlyn skynwêrelde. Hopelik sal ek soos tyd verloop sommige van my ontdekkings ook hier kan deel, veral soos benodig vir sinvolle planeethoppery.
Maar, vir eers sal ek jou los om self 'n bietjie met al hierdie vrae te worstel (as jy nog nie het nie).
Gesels gerus saam. Ek is altyd nuuskierig om te hoor wat ander mense dink.