2009-05-26

Inhaal

Dié van julle wat my effens beter ken sal dalk bewus wees van die feit dat ek gedurig omtrent 'n maand agter is met my nuuslesery. My gunsteling bron, ScienceDaily (waarvan daar skakels oor omtrent al my inskrywings hier rond gestrooi lê), kan tot 50 artikels 'n dag uitskop, waarvan omtrent 10% tot 20% nogal heel interessant is. Tot my nadeel, in hierdie geval, is ek 'n baie nuuskierige persoon en my belangstellings strek wyd. Ek kan dus maklik vasgevang word in hierdie wêreld van wetenskapskennis met 'n wye verskeidenheid van onderwerpe wat op my Google Reader skerm verby rol. Ek ervaar dit soos 'n verhaal met 'n plot wat elke dag 'n rapsie meer van sy raaisels oopvlek. Ek kan nie wag om te sien wat môre onthul sal word nie. Maar, ongelukkig stap die lewe aan en moet ek darem ook aandag gee aan ander, meer belangrike aktiwiteite, soos om saam met vriende te kuier. :) Dus het ek nou al tegnieke begin ontwikkel om slegs die mees interessante artikels uit te filtreer. Ek struikel maar nog soms.

So het dit dan ook al in die verlede gebeur dat vriende vir my tydige, Planeethoppertjie-waardige nuus aanstuur en ek dan eers 'n maand later dit weer in my gunsteling nuusbron raakloop (omdat ek agter is met die leeswerk). As jy my Planeethoppertjie inskrywings volg, sal jy weet dat ek meestal ook bietjie agter raak met nuwe bydraes. Met hierdie inskrywing wil ek dus 'n bietjie inhaal.

Hierdie sluit aan by my onlangse twee inskrywings oor sterrekunde en die soek na planete:

Mnr. Muller het verlede jaar vir my 'n skakel gestuur waar vertel word van 'n aantal super-aardbolle wat by nabygeleë sterre gevind is. Ek het natuurlik later dieselfde nuus by 'n ander artikel gelees. Ons weet egter nog nie of ons hierdie planete sal wil besoek nie, want ons het nog geen manier om uit te vind hoe die toestande op die oppervlak lyk nie. En met 'n skamele 10 tot 50 dae in 'n jaar lyk dinge nog nie baie belowend nie. Dink net wat die seisoene maak! Wat ons wel weet, is dat sulke planete volop is en dit mag dalk daarop dui dat ander kleiner planete soos ons eie Aarde ook volop kan wees.

Francois M het verlede maand vir my 'n berig gestuur oor argiefmateriaal van die Hubble ruimteteleskoop wat afgestof is en ingespan is om planete te vind. Met nuwe wiskundige tegnieke kon die ondersoekspan reg daar in daardie ou foto's al ten minste een planeet raaksien (alhoewel nie 'n nuwe een nie) - sonder dat ons ooit eens geweet het dat dit daar sienbaar is. Nou wonder 'n mens wat skuil in die res van al die ou foto's. Weereens het ek daardie storie ook later by 'n ander artikel raakgeloop. Francois M het vir my nog 'n ander skakel ook vantevore gestuur, maar dit pas eerder by 'n ander inskrywing wat ek nog sal maak.

En dan het ek ook 'n bietjie nuwe (of liewer ou) nuus uit my eie leeswerk:

Wetenskaplikes het nou 'n tegniek uitgedink om planete te identifiseer waar daar alreeds lewe bestaan, of ten minste 'n mate van plantegroei. Die tegniek maak gebruik van die eienskap van ligpolarisering, soos wat jou "polaroid" sonbril ook doen, en hoe plante wat chlorofil bevat ligstrale op spesifieke maniere polariseer.

Soos ek genoem het, is ek bietjie agter met my skryfwerk hier. Hou gerus hierdie ruimte dop, vir verdere afdelings oor hoe mens jonk word, hoe mens geld maak, en hoe mens jou eie ruimteskippie bou!

2009-04-09

13 Volmane

365 dae, 27 inskrywings en 13 volmane (insluitend vandag) later: lyk my ons is nog 'n jaar nader daaraan om werklik te kan hop en spring tussen vreemde, eienaardige en dalk selfs mooi planete.

Ek skryf nie so gereeld soos ek graag sou wou nie, maar ek vermoed julle verkies dit dalk ook eerder so, tussendeur al die ander nuuswaardige gebeurtenisse waarmee ons daagliks gebombardeer word. Dankie vir almal wat die afgelope jaar die avontuur saam beleef het en opmerkings hier op sommige van die inskrywings gedeel het. Die gedagte dat ander mense dit ook geniet (en dalk selfs nuttig vind), is meer as genoeg motivering vir my om terug te keer hierheen. :)

As jy nog nie opgelet het nie: ek het onlangs 'n nuwe speelding op die planeethoppertjie webblad geplaas. Daar is 'n boksie aan die regterkant met die opskrif "Planeethoppers", waar jy jouself kan byvoeg en ook jou vriende kan uitnooi om saam te kom speel. Jy kan ook so een op jou blog (of enige ander webblad) plaas - gaan kyk by Google Friend Connect as jy nie Blogger.com gebruik nie.

Ek sien uit daarna om nog verdere vermaak aan julle te verskaf...

2009-03-22

Planeetsoeker

Ja wat, ons besef nou dat dit ongelukkig nog 'n rukkie gaan wees voor ons 'n rumteskippie kan bou wat na planete by ander sterre sal kan spring. Maar, intussen kan ek goeie nuus met julle deel:

'n Hele nuwe ontdekkingsavontuur is vroeër hierdie maand afgeskop toe die Kepler ruimteteleskoop gelanseer is om vir ander planete te soek wat soortgelyk aan ons Aarde is. En kort op sy hake, word daar tans hard gewerk om die James Webb ruimteteleskoop te voltooi sodat dit teen 2013 vir ons kan begin wys of die toestande op daardie planete gunstig is vir lewe.

Ons kan dus al solank 'n katalogus begin saamstel van planete wat ons wil besoek. Nou moet ons nog net begin harder werk daaraan om 'n ordentlike ruimteskippie te bou.

[NS: Hierdie sendings moet verseker nie ligtelik geag word nie - dit is die inkarnasie van ons as mens se mees gevorderde tegnologie en nog so te sê reg op die grens tussen om iets waar te neem en niks waar te neem. Dit is werklik 'n merkwaardige poging, en dit wys ons ook hoeveel meer interessant die nabye toekoms gaan word soos ons tegnologie nog verder verbeter.]

2009-03-15

Sterkyker, Verkyker

Ek kyk op na die sterre: waarvandaan sal daar vir my hulp kom, om hulle van nader te beskou?

Ek dink as die psalmdigter 'n astronoom was, sou hierdie woorde waarskynlik vanaf sy penveer gevloei het. Dit was egter 'n skamele 40 dekades gelede wat iemand 'n metaalpypie met twee geronde glasskyfies na die hemel gerig het en die maan en planete van nader aanskou het. Op skool leer ons dat die Italianer Gelileo Galilei daardie sterkyker was. Maar, min mense weet dat 'n Engelsman, genaamd Thomas Harriot, eintlik 'n paar maande voor Galileo alreeds 'n breedvoerige skets van die maan se oppervlak gemaak het met behulp van sy eie teleskoop. Hierdie 2009ste jaar van ons moderne kalender vier ons die 400ste herdenking van daardie eerste hemelsketse met die Internasionale Jaar van Astronomie.

Wanneer ons eendag wil begin hop na ander planeetstelsels, sal ons natuurlik eers 'n bietjie moet uitkyk na wat vir ons daar anderkant lê en wag. Sir Isaac Newton het gelukkig vir ons gewys hoe om 'n mooi kompakte teleskoop met spieëls te bou. Vandag het ons alreeds asemrowende, tegnologies gesofistikeerde sterkykmasjiene waarmee ons diep in die sterreruim kan inkyk en miljoene ander sterrestelsels kan waarneem. Tog begin dinge nou interessant raak met nuwe ontdekkings wat ons teleskope by die dag kragtiger maak en ons verder, en met meer detail laat sien.

Een interessante verwikkeling, is die saamsnoering van inligting vanaf 'n hele spul teleskope in verskillende dele van die wêreld om effektiewelik te werk as een enorme skynteleskoop. Sonder om nuwe, groter teleskope te bou, kan ons dus nou prentjies maak met sulke fyn detail as wat 'n enkele teleskoop sou toelaat indien dit 'n paar duisend kilometer groot was. Verder is dit ook interessant om te hoor dat sulke tegnieke nou gebruik word met gewone radio antennas om elektromagnetiese golwe van laer frekwensies uit die ruimte waar te neem.

Ander tegnieke, wat 'n bietjie meer van toepassing is op ons planeethoppery, word ingespan om planete rondom ander sterre te vind. Dalk het jy ook onlangs in die nuus gehoor van die eerste direkte foto van wat baie waarskynlik 'n planeet is langs 'n sonagtige ster, 500 ligjare weg. Voorheen was dit slegs moontlik om die teenwoordigheid van planete te bepaal, eerder as wat hulle direk gesien kon word. Intussen is daar ook foto's geneem van 'n multi-planeetstelsel om 'n ander ster, 130 ligjare weg. En, die bekende Hubble ruimte teleskoop het self ook al 'n planeet raakgesien. Verder, het sterrekundiges dit reggekry om die grootte van 'n ander ster se planeet met baie fyn akuraatheid te meet (Ons almal weet mos nou al jy kan nooit iets presies meet nie).

Die mees bizarre verkyk tegniek wat tot dusver nog gebruik is, word geïmplimenteer met behulp van die gravitasionele lens effek wat prof. Einstein ontdek het. Hiermee kan ons voorwerpe (eintlik maar net sterrestelsels) verder weg sien as wat ons kragtigste teleskoop vir ons kan wys.

Die sterretjie op die koek is 'n video wat gemaak is vanaf 8 jaar se waarnemings van 'n dooie ster, genaamd Cassiopeia. [terloops: dis nou nie juis 'n aksie-belaaide video nie ;-)]

Ek moet bieg dat ek self nie 'n besonderse belangstelling in die sterrekunde het nie, afgesien daarvan dat ek myself telke male vang waar ek op 'n wolklose aand opstaar en die hemelruim bewonder. Die enigste sterrebeeld wat ek goed ken is die jagter Orion, en ek het onlangs eers by 'n vriend gehoor dat hy slegs in die somer sy verskyning hier by ons maak. 
Nietemin, een ding wat duidelik uitstaan in al hierdie sterkykery wat ons as mense doen, is die ongelooflike hoeveelheid planete wat beskikbaar is om eendag te besoek. Daar is so baie dat een persoon nie in 'n leeftyd van 'n duisend jaar eens 'n spatsel uit 'n oseaan van planeet-druppels sal kan besoek nie. Ek het 'n foto gevind wat hierdie feit baie mooi illustreer, waar die verste beeld wat nog ooit geneem is in die ultravioletband omtrent volledig bedek word met spikkels wat elk 'n sterrestelsel is soos die Melkweg, en elkeen met biljoene sterre waarvan die meeste ten minste een planeet het. Ek wonder hoe lank sal ek my afwagting kan verduur voor ek tussen hulle kan begin rondhop.

As jy 'n bietjie meer in sterrekunde belangstel as ek, kan jy gerus gaan loer by NASA se SkyView, indien jy nie alreeds so gemaak het nie. Kyk ook 'n bietjie watter dele van die hemelruim gewild is onder ander gebruikers van SkyView.

[Die prentjies het ek by die volgende webbladsye gevind:

2009-01-17

Oor nalatenskap

[Hierdie is 'n lang een, om op te maak vir my afwesigheid. ;-)]

Ons almal weet nou al teen hierdie tyd dat jy moet oppas wat jy doen in die lewe, want jou aksies het altyd gevolge. Dit kan goeie of slegte gevolge wees. Hierdie verskynsel is normaalweg meer sigbaar op 'n persoonlike vlak wanneer jy mense naby jou seermaak, of selfs wanneer jy iemand gelukkig maak. Maar, dit gebeur ook baie dat jy self nooit eens bewus is van die gevolge nie.

As individuele persone, kan my en jou aksies ook gevolge op 'n 
globale skaal hê. Sommige gevolge is so verrykend dat jy dit nooit eens in jou wildste drome sou raakloop nie. Dit word mos die skoenlapper-effek genoem - iets waarvan jy dalk in 'n onlangse "Heroes" episode ook gehoor het.

Maar, ken ons almal wel hierdie konsep? Begryp ons werklik die omvang daarvan? Skep ons die geleentheid vir ons kinders om ons voorbeeld van verantwoordelike gedrag aan te leer? Of, hoeveel keer gee ons net eenvoudig nie 'n druppel om oor watter gevolge ons aksies het nie?

Ons staan nou aan die begin van 2009. Dis nou (nog) nie 'n besonderse beduidende jaar in die geskiedenis van die mensdom nie, afgesien van 'n aantal gebeurtenisse gedurende 2008 wat hierdie komende jaar 'n interessante een kan maak. Tog is hierdie net so 'n goeie tyd soos enige [as ek 'n bietjie by die Engelse uitdrukking mag leen] om te besin oor die toestand van onsself as mensspesie en die gevolge wat ons aksies het op die toestand van ons habitat, ons enigste tuiste, ons geboorteplaneet, ons Aarde.

Met die afronding van my vorige inskrywing het ek afgekom op 'n aantal artikels wat my aangespoor het om hierdie met julle te deel:

Die relatief kort geskiedenis van die Aarde is bespikkel met groot tragedies wat elk die uitsterwing van duisende spesies behels het. Slegs 5 is alreeds goed gedokumenteer. 'n Groot asteroïedsplinter wat die Aarde getref het, word beskuldig vir die mees onlangse geval, terwyl sommige van die ander oorsake toegeskryf word aan 'n siek Aarde toestand [ek is nie seker wat presies hiermee bedoel word nie]. In een geval, het 'n groot onderwater vulkaan veranderings in die oseane veroorsaak wat lewe vir massas seeorganismes onmoontlik gemaak het. Die oorskot van daardie sterflinge het blykbaar uiteindelik ons huidige ondersese oliebronne geword. Dit is verder ook interessant om te leer dat al hierdie massa-uitwissings saamval met, en eintlik gedryf word deur periodiese veranderinge in die seevlak.

Vandag aanskou ons nog 'n gebeurtenis wat net so verwoestend is soos daardie traumatiese oomblike in die geskiedenis van ons planeet. Die skrif is al 'n geruime tyd reeds aan die muur, met die besef dat ons huidige klimaatstoestande sterk ooreenstem met vorige tydperke waarin wêreldwye biodiversiteit laag was en die waarskynlikheid vir massa-uitwissing baie hoog was.


Die feit dat amfibiese spesies soos paddas (wat die dinosourusse in die vorige massa-uitwissing oorleef het) wêreldwyd besig is om te swyk aan 'n dodelike swaminfeksie en nog verder bedryg word deur aardverwarming en habitatvernietiging, is besonders kommerwekkend. Inderdaad, daar is nou werklike aanduiding dat ons die volgende groot massa-uitwissing in die gesig staar, met die verdwyning van ongeveer helfde van alle bestaande spesies plante en diere.

Teen hierdie tyd moes jy al gehoor het van die aardverwarming effek. Jy moet ook dan weet dat stygende vlakke van koolstofdioksied (wat mense en diere uitasem) die probleem aanhits. En jy moet ook besef dat verbranding van olie (of petrol) en koolstof (vir elektrisiteit) die probleem soveel vererger het dat ons nou in 'n gevaarsone beland het. Dit is nogal ironies dat die oorskot (olie) van 'n vorige massa-uitwissing ons aangehelp het om 'n volgende een te bereik.

Nes ek, sal jy dalk egter verbaas wees om te leer dat aardverwarming nie ontstaan het met die verbruik van olie, petrol, koolstof en gas nie. Blykbaar kan die oorsprong duisende jare teruggetrek word tot die tydperk waar mense grootskaalse boerderypraktyke begin toepas het in Asië, en verspreide areas ontbos het in Europa. As dit nie daarvoor (en alles sedertdien) was nie, sou ons dalk nou in 'n ystydperk geleef het. Hoe klink dít vir verrykende gevolge van jou dade?

Maar, ons hoef nog nie alle hoop te verloor nie. Dis immers 'n nuwe jaar, met nuwe moontlikhede. Kenners is om die beurt besig om sinvolle oplossings te soek vir ons huidige krisis. Selfs enkele persone en gesinne is besig om op te let na die gevolge van hul daaglikse dade. Ek is ook oortuig daarvan dat ons as mense uniek toegerus is om wel goeie oplossings vir selfs so 'n groot probleem te vind en betyds toe te pas (ek hoop nie ek word ooit verkeerd bewys nie). 

Sommige wend ook 'n armsalige (maar edel, en 
nuttige) poging aan om sade van plante- en dierespesies (ten minste paddas vir eers) in 'n massiewe kluis te bewaar, sodat dié van ons wat wel lewend anderkant uitkom tog maar 'n stukkie kan herbou van wat eens bekend was. Daar is ook verskeie ander belowende tegnologiese oplossings, maar ek dink dit hoort dalk in 'n ander inskrywing [nie dat ek noodwendig daarby sal uitkom nie].

Op die ou einde, selfs as almal dit regkry om saam te staan en hand by te sit, en selfs as ons ons negatiewe invloed op die omgewing heeltemal uitwis, moet ek wonder of ons nie alreeds die tydstip verbygegaan het waar ons werklik ander planete al moes begin koloniseer het nie. Ons is immers net te veel mense vir so 'n klein balletjie rots.

[Die prentjies het ek by die volgende webbladsye gevind:

2008-11-16

Die rubberspore wat ons agter laat

Dit is nou al amper twee maande gelede wat ek hier vertel het van ons planne om die pad te vat na Wakkerstroom en die res van die land ook sommer te verken. Intussen het ons daardie wonderlike avontuur afgehandel, en direk daarna het ek begin werk vir my nuwe werkgewer. Soos julle sien, het dit my (vir verskeie redes) 'n rukkie geneem voor ek weer die leisels hier kon optel.

Met my vorige inskrywing het ek die hoop gespreek dat ek 'n skakel na ons beplande roete hier sal kan plaas voor ons vertrek. Wel, daarvoor het ek toe nie tyd gekry nie, maar nou kan jy sommer beide ons beplande roete, en ook ons afwyking daarvanaf beloer, alles te danke aan Google Maps. Ongelukkig het ek nog nie kans gehad om enige foto's by die roetekaart te voeg nie, maar ek sal hopelik nog binne die volgende maand daarby uitkom. Ek is nogal verbaas dat ons werklik die 5000 km (in 8 dae) afgelê het, en ek is baie dankbaar dat ons dit darem veilig tot terug by die huis gemaak het. Jy kan ook Mnr. Muller se vertellings van ons belewenis volg vir 'n meer in-diepte meedeling.

Op die ou einde het die beplanning nogal baie gehelp om te sorg vir 'n gemaklike reis, en ons kon konsentreer daarop om die omgewing te waardeer en die hele ervaring in te neem. Ek wonder nogal of ons eendag ook Google Sky sal gebruik om ons roetes tussen die sterre te beplan.

Maar, sal sulke beplannings ook omgekrap word deur onakkurate roeteintligting, soos die menige foute wat huidiglik op Google Maps bestaan? Wat 'n katastrofe sal dit nie wees as ons net 'n klein foutjie maak en dan iewers in 'n vreemde sonnestelsel beland waar ons heeltemal verdwaal is nie? Sal ons navigasietoerusting voldoende wees om 'n pad na ons bestemming uit die vuis te lewer [jy mag dalk die Engelse vertaling "improvise" beter ken]? Op ons onlangse reis het 'n klein padboekie ons darem kon help in sulke situasies. Sal sulke foute in ons ruimtereise ook ons avontuur opkikker, of sal dit ons afstuur op dodelike gevolge? Die ruimte is immers 'n gevaarlike plek. Aan die anderkant, is ons liewe planeet Aarde veel veiliger?

2008-09-18

Dorphoppertjies

Sommige mense is mos van mening dat jy eers moet leer kruip voor jy kan loop voor jy kan hardloop. So, voor ons uitskiet en tussen planete begin rond(hardl)hop, het ek en my goeie vriend Mnr. Muller besluit om eers ons vernuf met dorphoppery te probeer slyp.

Jy kan gaan lees wat Mnr. Muller vantevore vertel het van 'n dorpie genaamd Wakkerstroom in Mpumalanga.  Ons het besluit om te gaan kyk hoe dit daar lyk. En, aangesien ons so ver gaan ry, het ons dit sommer goed gedink om 'n paar ander interessante plekke (en 'n paar vriende langs die pad) ook te besoek. Ons sal dan tot meer en mindere mates 'n stukkie van elk van die 9 provinsies in Suid Afrika verken - alles in 'n week. Ons vertrek oormôre.

Ek dink egter in hierdie geval gaan ons eers kruip nadat ons alreeds geleer loop het, want beide van ons het al afsonderlik 'n bietjie landhoppery gedoen in Europa.

[Ek is besig om die roete se beplanning te dokumenteer op Google Maps. Ek hoop dat ek nog daarby sal uitkom om die skakel daarvoor hier by te voeg, as jy lus is om te sien waarheen ons oral gaan.]
[Hersiening: Daar is nou 'n nuwe inskrywing waarin ek 'n bietjie terugkyk op die toer waarvan ek hierbo vertel. Daardie inskrywing bevat ook 'n skakel na die padkaart op Google Maps.]