2008-07-27

Salige Stilte

Jou lippe roer, maar die vibrasies tref nie my oordromme nie. Daar is geen lugmolekules hier, tussen jou en my, wat op die branders van jou stem kan dobber nie. Alles is stil, salig stil, hier in die gapings tussen die hemelliggame. Hier is niemand wat in my ore skreeu nie, geen radio omroepers wat simpel musiek uitbasuin nie, geen televisies wat blêr in die agtergrond nie, geen motors wat verby suis nie, of vragmotors wat verby brom nie, geen treine wat klank-klank nie - net doodse, salige stilte. Kan ons net nog 'n rukkie langer hier bly?

2008-07-09

Eendag as ek jonk is: Voorkoms

Hierdie reeks het afgeskop met 'n kort opsomming van areas wat van praktiese belang is wanneer 'n mens soek na verjeugingstegnologië.

Ek wil begin by die onderwerp van voorkoms. Wat help dit tog as jy vir ewig jonk bly, maar mettertyd lyk soos 'n uitgedroogde perske omdat jy 150 somers te veel sonblootstelling gekry het? Daar is immers alreeds 'n groot gespesialiseerde industrie wat op die verjeuging van voorkoms fokus met verskeie kosmetiese produkte. Die meeste vrouens in die moderne westerse samelewing is ook teen hierdie tyd al vertroud met allerhande tegnieke waarmee die jeugdigheid behou kan word [aangesien ek 'n man is en nie in besonder baie kennis oor die onderwerp dra nie, sal ek enige kommentaar van die dames waardeer].

Ek stel glad nie belang daarin om bloot die tekens van ouderdom te verbloem, of enige skade aan te rig ter wille van 'n beter voorkoms nie. Dit is dus gerusstellend om te leer dat daar wel sekere kosmetiese produkte bestaan wat op 'n mikrobiologiese vlak jou vel se jeugdige funksies tot 'n mate kan herstel.

Ek lees in die ensiklopedie Britannica dat kollageen, saam met elastin, die proteïenmolekules is waarvan die strukturele integriteit van gewerwelde organismes (soos ons mense) afhanklik is. Kollageen help met versterking van jou vel, jou gebeendere, jou bloedvate + aarwande en selfs jou tande. Soos 'n mens ouer raak, word minder nuwe kollageen vervaardig en minder ou kollageen word verwyder. Dit lei daartoe dat kollageenmolekules ophoop en dan later aan mekaar gekoppel raak (Engels: "cross-links") en kristaliseer. Dit verminder die rekbaarheid van jou vel (m.a.w. veroorsaak plooie) en are, en gee aanleiding tot algehele styfheid in die liggaam.

Dit wil voorkom of vrouens eintlik 'n effense voordeel het wanneer dit by 'n jeugdige voorkoms kom. Blykbaar bevat 'n vrou se vel baie meer natuurlike anti-oksidante as 'n man s'n. Op grond daavan word haar risiko vir velkanker van sonblootstelling aansienlik verlaag, maar anti-oksidante help ook om veroudering van die vel te verminder deur 'n positiewe uitwerking op kollageen en elastin. Ek kan dus nou verstaan hoekom dit blyk dat vrouens baie later as mans eers tekens van plooie begin wys.

Nou ja, afgesien van skynbare voordele wat 'n kalorie-beperkende dieet op die jeugdigheid van kollageen het, is daar ook gevind dat retinoïensuur (Engels: "retinoic acid") retinol kan help om vervaardiging van nuwe kollageen te stimuleer. Dus, as jy volgende keer wonder watter vogroom om te koop, soek een wat retinol bevat. Dit sal egter net nie kan verseker dat jy soos Madonna op 50 lyk nie.

[Hersiening: Ek het intussen geleer dat retinol en retinoïensuur nie dieselfde molekule is nie; sien ook my volgende inskrywing in hierdie reeks.]

Siende dat ek geen ander produkte vir mans kon vind met hierdie bestandeel nie, het ek onlangs vir my 'n botteltjie "Men's Expert Vita Lift Complete Anti-Ageing Moisturising Cream" met "Pro-Retinol" van Loreal Paris aangeskaf om te beproef of dit sal help om die dongas op my voorkop effens vlakker te maak. ;) Dit is R110 by Pick-n-Pay en R130 by Clicks. Dis slegs 50 ml, so ek gebruik dit liewer spaarsamig en gekombineerd met 'n goedkoper algemene vogroom. Ek is nou in die helfde van my tweede week uit die vier weke waarbinne 'n mens sigbare resultate behoort te sien. Ek wag nog angstig...

Onlangse bevindinge toon dat 'n sekere vetmolekule ook 'n bydrae kan maak tot verjeuging van die vel. Daar is verder sprake dat die koënsieme Q10 (Engels: coenzyme), soos bevat in sommige Nivea produkte, teoreties voordelig kan wees vir kollageen en elastin produksie. Daar is egter nog geen beduidende wetenskaplike navorsing hieroor gedoen nie.

Vir meer inligting oor verjeugingsbehandelings kan ek jou verwys na 'n webwerf wat ek gevind het met goeie verwysings na wetenskaplike literatuur.

Terloops: daar is ook al medisynes ontdek wat die kruiskoppeling tussen kollageenmolekules kan breek om verouderde are se jeugdigheid te herstel.

Eendag as ek jonk is...

Jy sal dalk onthou hoe ek vantevore besin het oor die noodsaaklikheid van verjeugingsmedisyne vir 'n planeethopper met planne vir enige sinvolle planeethoppery. Ek is nog nie eens 30 nie - 'n jong man in die fleur van my lewe (haha, gmpf) - en tog kan ek alreeds waarneem hoe vader tyd elke aand, wanneer ek hom nie kan uitvang nie, 'n stukkie van my jeug by my kom steel sodat hy vir ewig kan voortleef, alhoewel hy self nooit jonger word nie.

Daar is verskeie (belangrike) fundamentele, mikrobiologiese faktore van die verouderingsproses (pdf, 236 Kb) wat wetenskaplikes uit 'n teoretiese oogpunt met gevorderde navorsingsgereedskap probeer oplos. Getrou aan my praktiese uitkyk op verjeuging, wil ek ondersoek instel na oplossings wat alreeds gevind is en dalk selfs beskikbaar is vir ons om te gebruik.

Om sinvolle oplossings te vind, probeer ek in gedagte hou dat veroudering 'n praktiese impak op jou lewe het in hierdie areas:
  1. jou voorkoms
  2. jou beenstruktuur
  3. jou beweegbaarheid
  4. jou gesondheid
  5. jou verstand
Dis nuttig om op te let dat enige gegewe oplossing 'n spesifieke proses mag teiken op 'n mikrobiologiese vlak, maar dan moontlik meer as een van die praktiese areas in my lysie beïnvloed.

Hierme wil ek dan die "Eendag as ek jonk is" reeks afskop waarin ek elk van die areas in bogenoemde lysie wil ondersoek.

2008-07-06

Nuwe gesig

Waarmee is ek deesdae so besig dat ek nog nie weer 'n inskrywing gemaak het nie?

Ek het sopas die voorkoms van die Planeethoppertjie webblad verander. Kom kyk gerus en gebruik die meningspeiling om te sê of jy dink dis goed of goor.

Die idee agter die verandering, is dat ek dit oorweeg om die blog na wordpress te skuif. Ek is nog besig om al die faktore te bestudeer, so dit gaan nog 'n rukkie wees voor ek 'n besluit neem. Maar vir nou wil ek net die voorkoms van die blogspot en wordpress weergawes so na as moontlik aan mekaar kry. Die wordpress weergawe is egter nog nie oop vir die publiek om te besigtig nie.

Ek is ook huidiglik besig om te werk aan 'n nuwe inskrywing, maar dit vereis so 'n bietjie navorsing en my tyd is redelik beperk, so wees asseblief net 'n rukkie geduldig. :)

2008-06-19

Beter dae

Somtyds kyk ek na die wêreld, en sug dan vir al die boosheid wat ek sien. In sulke tye is dit maklik om te verlang na die dag wat ek met my ruimteskippie hierdie plek kan verlaat, en selfs my te bekommer dat daardie dag nog so ver weg lê.

Maar, diep binne myself sien ek ook die boosheid raak - daardie selfde boosheid waarvan ek wil wegvlug. Dalk is dit 'n goeie ding dat ek nog nie 'n ruimteskippie besit nie. Dalk sou ons menseboosheid maar net mettertyd versprei tot daardie nuwe wêrelde wat ek sou besoek. Dalk is dit beter dat ek eers moet leer om van my eie boosheid ontslae te raak.

Was die wêreld nie eens 'n beter plek nie? Dalk nie, maar daar was sekerlik spesifieke tye wat dinge beter gegaan het. En selfs vandag is daar nog plekke waar goeie dinge gebeur. Kan ons dalk iets leer daaruit?

Ek dink die wêreld was beter toe:
  1. die lug skoon was
  2. daar minder motors op die paaie was
  3. daar minder mense was
  4. almal genoeg gehad het om hul dors te les en honger te stil en rustig te slaap
  5. daar nie sprake was van sosiale status (en gepaardgaande besit van blink goetertjies) nie
  6. jy nog die paaiemente van 'n lening op 'n redelike huis kon bekostig met 'n redelike salaris
  7. jy nog 'n huis kon koop met 'n tuin groot genoeg om jou bene uit te strek
  8. daar nog meer bome as geteëlde dakke in woonbuurte was
  9. daar nog wye oop natuurlike spasies in jou tuisdorp was
  10. kinders nog veilig in publieke areas kon speel
  11. jy nie konstant moes vrees vir jou of jou kinders se lewe nie
  12. jy nie enige bekommernisse gehad het nie
  13. jy nog die vermoë gehad het om jou God te vertrou
  14. mense nog vir mekaar omgegee het
  15. daar eerbaarheid was in beskerming van swakkes
  16. jy 'n vreemdeling in nood kon uithelp sonder om te verwag dat hy jou sal te na kom
  17. mense nie rede gehad het om mekaar te wantrou nie
  18. mense nog kon opstaan vir reg, en teen verkeerd
  19. menslikheid nog belangriker was as mensegedrag
  20. mense nog kon waardeer hoe kosbaar die lewe is
  21. leiers met wysheid kon regeer tot voordeel van al hul mense
  22. leiers nie net hul magsposisies wou misbruik vir eie gewin nie
  23. goed genoeg nie goed genoeg was nie
  24. mense nog kon droom
Dit herinner my nogal tot 'n mate aan my kinderdae. Kan ons nie maar net almal weer kinders word nie? Dan kan ons weer rondhardloop in ons buurte en maatjies maak met ander vreemde kinders, en toebroodjies uitruil of deel met honger maatjies, en mekaar beskerm teen boelies (met kleilatte en ertjieblasers ons gevaarlikste wapens), en boomhuise bou, en met ons fietse mekaar jaag, en in die lang gras op die heuwel lê en opstaar na die sprokies wat die wit wattewolkies vir ons vertel, en lag, uit die holtes van ons mae, en vertrou dat ons magies gevul sal word wanneer ons by die huis kom, en vir niks banger wees nie as vir 'n pakslae of 'n denkbeeldige monster onder die bed.

[Soos jy kan sien, fokus my lysie op menslike faktore - alles te danke aan mense en alles afhanklik van mense se denkwyses en gedrag. My lysie is onvolledig. Vertel my asseblief wat, na jou mening, die wêreld 'n beter plek maak / gemaak het. En ja, wees maar snaaks - net nie bar nie (kinders mag dalk ook hierdie blog lees).]

2008-06-16

Why no English?

My initial language-processing neurological pathways were constructed around the scaffolding of symbols and sounds that are collectively known as the Afrikaans language. Yet, even before I went to school, while those same synaptic networks were still very pliable, I already had a couple of English friends. By now, thanks to many good teachers, I can think and communicate in both languages almost equally well.

At the conception of this blog, I found it quite hard to decide on which language it would be based. On the one hand, I feel that I can conjure up more vivid and colourful images and expressions (including a few amusing neologisms) when using Afrikaans. I mean, an expression like "little planet hopper" just does not have the same ring to it than "planeethoppertjie" does. On the other hand, I have many English speaking friends that do not understand Afrikaans.

This blog was initially aimed at providing some alternative, light-hearted amusement to friends (and, to whomever else finds it enjoyable, and while at the same time serving as a medium to share some fascinating discoveries that I have made, either from following scientific news, or from merely observing my environment). As such, I would have found it more pleasurable to make it accessible to all of them. But, as I considered all the factors, I could not ignore the multitudes of existing English blogs that already serve a similar purpose. I have very little time at my disposal (and so does my intended audience), so it is important to me that I don't become just another blogger with no significant value to add. I had to create something unique that could not be found elsewhere on the web. So, Afrikaans it had to be.

It is sad to me that many of my friends will never have the opportunity* to laugh at my creations and come along to play on far away, breathtaking worlds, unspoilt by evil human hands. But at least (I hope) this is not a dull blog. ;)

I do, however, believe that I may on specific occasions feel inclined to compose an English entry. This would mostly happen when I want to share knowledge or understanding about material that is not available in general on the web. I shall categorise such entries under the "English Posts" label, which you can find on the menu bar to the right.

* Even with the appearance of automated language translators, many of the underlying cultural nuances might not be recognised and therefore loose its comic effect.

2008-06-04

Anderkant die Blou Berge

Onthou jy die dae as kind, toe jy nog in 'n klein dorpie gewoon het, omring deur enorme blou berge, behalwe na die Weste, waar 'n dun kronkelpaadtjie jou na die volgende dorp kon neem, en na die Suide waar die groot blou see uitgestrek het tot ver verby die horison? Die ou vissermanne het altyd vertel hoe die berge langs die kus af strek tot waar die oog nie kan sien nie, en niemand was al ooit so ver met 'n klein vissersbootjie nie.

Onthou jy die brandende begeerte vir avontuur en ontdekking van die onbekende, en die nuuskierigheid oor wat anderkant die groot blou berge lê? Onthou jy die planne wat jy beraam het om eendag jou klein dorpie te verlaat sodat jy daardie berge kon uitklim en vir die wêreld kon vertel wat jy daar gesien het? Of, onthou jy dalk eerder hoe jy nog wou sien wat anderkant die groot blou see lê?

Nie? Hmmm... wel, ek ook nie.

Maar ek het my vanoggend dit verbeel toe ek na die berge rondom my geboorte dorpie kyk, en probeer indink hoe dit moes voel om as klein seuntjie daar groot te word in die tye toe die wye onbekende nog anderkant daardie eens magtige blou berge uitgestrek gelê het. Vandag is daar 'n wye kronkelpad waarop jy gemaklik met 'n motor langs die berg kan opry en verby tot by die volgende dorp en selfs verder - sonder veel moeite, en sonder om eens die kleinste bietjie aandag te gee aan hoe ontoeganklik daardie wêreld was so ver in die verlede. En met lugvervoer en vingerpuntkennis, gaan kuier ons sommer maklik by vriende en familie anderkant die eens magtige blou see.

Hoekom moet ek nou anders voel as 'n klein seuntjie wat opkyk na die enorme blou hemelruim, en wonder wat daar anderkant lê. Natuurlik het die wilde wye spinnerak van kennis vir ons al aan heelwat van daardie wêreld bekendgestel, want ander avonturiers het reeds hul biologiese en meganiese oë daarheen gestuur. Maar, daar is nog soveel onondekte onbekendheid daar buite. Hoeveel monsters en juwele en fantastiese kulture en ongelooflike medisynes lê nie en wag vir ons daar ver nie? Ek sal nogal graag eendag hierdie klein aardeballetjie wil verlaat sodat ek daardie blou hemelruim kan oorsteek en vir die wêreld vertel wat ek alles daar gesien het. En jy?