2010-02-21

Eendag as ek jonk is: Jy is mos wat jy eet

Ek het vantevore genoem dat ek probeer kyk na praktiese metodes waarmee jy kan rebelleer teen veroudering van jou liggaam. Tot dusver het ek heelwat gedek oor belowende pogings vir die behoud van 'n jeugdige voorkoms.

Vandag raak ek vinnig aan gesondheid - die afwesigheid van siektes en liggaamlike kwale. Sommige mense handhaaf uitstekende gesondheid tot 'n baie hoë ouderdom, maar meeste mense kry maar swaar onder verswakkende gesondheid soos die jare aanstap.

Jy kan verskeie eenvoudige gewoontes aanleer om 'n goeie gesondheid te handhaaf, maar ek wil eers net 'n paar punte rondom dieet bespreek - m.a.w. die dinge wat jy eet en drink.

Sommige mense beweer dat die gemiddelde moderne dieet nie besonders optimaal is vir ons liggaam se werkverrigting nie, en dat dit soms lei tot 'n tekort aan sekere vitamiene en minerale (en dit is sekerlik waar vir baie mense). Sulke tekorte kan lei tot allerhande siektes as dit oor 'n lang tydperk nie verbeter nie. Op grond hiervan, sal mense maklik 'n handvol multivitamienpille in die oggend sluk om te probeer kompenseer daarvoor. Wat meeste mense egter nie besef nie, is dat vitamien- en mineraalaanvullings ook sleg vir jou kan wees as jy nie 'n tekort het nie. Lees gerus hierdie artikel wat Francois M vir my destyds aangestuur het. Die Amerikaanse Dieetkundige Vereniging het ook onlangs 'n verslag oor die onderwerp uitgereik.

Dit klink of die beste bron van belangrike voedingstowwe maar nogsteeds 'n verskeidenheid van vars groente en vrugte bly. Dis seker nie toevallig dat dit dan ook op die lys van goeie gewoontes vir 'n langer, gesonde lewe is nie.

Daar is gereeld berigte in die nuus wat aandui hoe kaloriebeperking ook kan bydra tot 'n langer, gesonder lewe. Maar, totdat 'n beter begrip van die uitwerking van so 'n dieet ontwikkel is, sal dit 'n goeie idee wees om dit dop te hou met 'n gesonde mate van skeptisisme. Daar is egter alreeds 'n aantal interessante ontdekkings oor hierdie onderwerp gemaak. Die laaste artikel, wat aandui dat beperking in die inname van glukose die hoofrol speel, is vir my interessant. Glukose word hoofsaaklik verkry uit stysel-gebasseerde kossoorte, as ek reg verstaan.

Verder, is daar ook aanduidings dat sekere voedselsoorte spesifieke voordele kan bied, soos bv. appels, bessies (soos bloubessies), groen tee, wit tee, melk en selfs koffie. Let egter op dat die gebruik van alkohol nie noodwendig enige inherente voordele inhou nie.

As jy, soos ek, probeer hou by 'n gesonde leefstyl en gereelde oefening inkry, sal jy dalk ook wil weet dat jou maaltye na oefensessies 'n invloed op jou gesondheid het.

Voornemende moeders moet maar versigtig wees met wat hulle eet, siende dat hul dieet tydens en selfs voor swangerskap 'n groot invloed op die gesondheid van hul kinders het, selfs tot ver in hul grootmenslewens. Dit wil voorkom of dit ook nie noodwendig baie wys is om verskeie vitamienaanvullings vir jou kinders te voer as die dokter dit nie aanbeveel het nie. Daar is dalk waarde in die raadpleeg van 'n professionele, geregistreerde dieetkundige.

Maar onthou ook: 'n gesonde dieet en ander goeie leefstyl gewoontes is nooit 'n 100% waarborg dat jy nie sal siek word nie. Vir daardie ongelukkige tye het ons darem vandag al heelwat goeie mediese behandelings beskikbaar. En, alhoewel ek sug dat die dokters nie eens weet hoe om my liggaam te genees van die enkele kwale wat my teister nie, vind ek hoop in die gedagte dat daar elke dag nuwe mediese ontdekkings en deurbrake gemaak word.