2009-10-11

Die Nagtelike Sterresweef

Het jy al ooit oornag by 'n plaashuis in die platteland, of in 'n tent langs die strand naby 'n ver-af kusdorpie; weg van die besige, raserige stadslewe met straatlampe wat heelnag jou oë verblind? Dan sou jy dalk ook, soos ek, verstom kon staan (of sit) en ure lank opkyk na die biljoene, nee ontelbare, ogies wat flikkerend, verleidend terugloer na jou vanuit die enorme groot sterreruim.

Omtrent presies 'n jaar gelede, het ek en 'n goeie vriend 'n avontuurlike padtoer beleef en die eerste aand by Colesberg in die Karoo op 'n gasteplaas oornag. Dit was die eerste keer in 'n baie lang tyd, en sedertdien, dat ek so baie sterre kon aanskou.

Ek het vantevore genoem van Google Sky waarmee jy op jou rekenaar die sterreruim van effens nader kan beskou. Ek het sopas afgekom op GigaGalaxy Zoom waar jy 'n effens ander uitkyk op die volledige nagruim kan kry, asook meer inligting oor verskeie areas van die sterreruim vir diegene wat belangstel. Vergroot die prentjie so ver as wat jy kan en kyk net hoeveel sonspikkels jy op jou skerm kan sien. Ek vind dit nogal moeilik om te glo dat nie 'n enkele een van daardie sonne deur 'n lewensvatbare planeet (dalk selfs met ander lewensvorme) omwentel word nie.

Volgens 'n artikel by ScienceDaily, was dit die inisiatief van die Fransman, Serge Brunier, om al daardie foto's te neem en beskikbaar te maak as deel van die viering van die Internasionale Jaar van Sterrekunde. Die van julle wat meer in fotografie belangstel, sal dalk wil weet dat die foto's geneem is met 'n Nikon D3 digitale kamera, en met behulp van 'n toestel wat die beweging van die aarde kanselleer. Jy kan meer daaroor lees in die artikel.