2009-05-26

Inhaal

Dié van julle wat my effens beter ken sal dalk bewus wees van die feit dat ek gedurig omtrent 'n maand agter is met my nuuslesery. My gunsteling bron, ScienceDaily (waarvan daar skakels oor omtrent al my inskrywings hier rond gestrooi lê), kan tot 50 artikels 'n dag uitskop, waarvan omtrent 10% tot 20% nogal heel interessant is. Tot my nadeel, in hierdie geval, is ek 'n baie nuuskierige persoon en my belangstellings strek wyd. Ek kan dus maklik vasgevang word in hierdie wêreld van wetenskapskennis met 'n wye verskeidenheid van onderwerpe wat op my Google Reader skerm verby rol. Ek ervaar dit soos 'n verhaal met 'n plot wat elke dag 'n rapsie meer van sy raaisels oopvlek. Ek kan nie wag om te sien wat môre onthul sal word nie. Maar, ongelukkig stap die lewe aan en moet ek darem ook aandag gee aan ander, meer belangrike aktiwiteite, soos om saam met vriende te kuier. :) Dus het ek nou al tegnieke begin ontwikkel om slegs die mees interessante artikels uit te filtreer. Ek struikel maar nog soms.

So het dit dan ook al in die verlede gebeur dat vriende vir my tydige, Planeethoppertjie-waardige nuus aanstuur en ek dan eers 'n maand later dit weer in my gunsteling nuusbron raakloop (omdat ek agter is met die leeswerk). As jy my Planeethoppertjie inskrywings volg, sal jy weet dat ek meestal ook bietjie agter raak met nuwe bydraes. Met hierdie inskrywing wil ek dus 'n bietjie inhaal.

Hierdie sluit aan by my onlangse twee inskrywings oor sterrekunde en die soek na planete:

Mnr. Muller het verlede jaar vir my 'n skakel gestuur waar vertel word van 'n aantal super-aardbolle wat by nabygeleë sterre gevind is. Ek het natuurlik later dieselfde nuus by 'n ander artikel gelees. Ons weet egter nog nie of ons hierdie planete sal wil besoek nie, want ons het nog geen manier om uit te vind hoe die toestande op die oppervlak lyk nie. En met 'n skamele 10 tot 50 dae in 'n jaar lyk dinge nog nie baie belowend nie. Dink net wat die seisoene maak! Wat ons wel weet, is dat sulke planete volop is en dit mag dalk daarop dui dat ander kleiner planete soos ons eie Aarde ook volop kan wees.

Francois M het verlede maand vir my 'n berig gestuur oor argiefmateriaal van die Hubble ruimteteleskoop wat afgestof is en ingespan is om planete te vind. Met nuwe wiskundige tegnieke kon die ondersoekspan reg daar in daardie ou foto's al ten minste een planeet raaksien (alhoewel nie 'n nuwe een nie) - sonder dat ons ooit eens geweet het dat dit daar sienbaar is. Nou wonder 'n mens wat skuil in die res van al die ou foto's. Weereens het ek daardie storie ook later by 'n ander artikel raakgeloop. Francois M het vir my nog 'n ander skakel ook vantevore gestuur, maar dit pas eerder by 'n ander inskrywing wat ek nog sal maak.

En dan het ek ook 'n bietjie nuwe (of liewer ou) nuus uit my eie leeswerk:

Wetenskaplikes het nou 'n tegniek uitgedink om planete te identifiseer waar daar alreeds lewe bestaan, of ten minste 'n mate van plantegroei. Die tegniek maak gebruik van die eienskap van ligpolarisering, soos wat jou "polaroid" sonbril ook doen, en hoe plante wat chlorofil bevat ligstrale op spesifieke maniere polariseer.

Soos ek genoem het, is ek bietjie agter met my skryfwerk hier. Hou gerus hierdie ruimte dop, vir verdere afdelings oor hoe mens jonk word, hoe mens geld maak, en hoe mens jou eie ruimteskippie bou!