2008-05-31

Man van Staal

Die fliek "Iron Man" het onlangs die rondtes gedoen. Dit het 'n hele aantal van my ingeneursintuie met plesier geprikkel. Ek verneem dat selfs mense wat nie normaalweg van aksie-/wetenskapfiksie-/"comic"-flieks hou nie, wel ook hierdie een heel vermaaklik gevind het. Ek dink dis dalk deels te danke aan hoe die fliek ook so 'n bietjie van 'n mens se rebellesintuie kielie. Dit skop 'n paar stereotipiese "comic" reëls in die stof en los jou dus met 'n effense gevoel van "jinne, dit was verfrissend". Enigiemand wat verskil hiermee?

Een van die interessante aspekte van die fliek wat 'n aantal mense reeds uitgelig het, is hoe dit gebruik maak van heelwat tegnologiese ontwikkelinge waarmee ons wetenskaplikes en ingenieurs alreeds eksperimenteer. Onlangs was daar ook 'n outjie op die nuus wat oom Leonardo Da Vinci se persoonlike vlerke vervolmaak het en sommer nes 'n gewone vliegtuig deur die lug heen-en-weer kan tol en rits.

Wat vir my egter selfs meer merkwardig was as die tegnologie wat uitgebeeld is in die fliek, is die tegnologie waarmee die beelde geskep is. Die realisme van die rekenaargeskepte grafika wat gebruik is, is asemrowend (as jy na sulke dinge oplet). Sou jý kon sê dat Tony Stark se metaalpak nie werklik bestaan, behalwe as elektroniese patrone in 'n rekenaar se geheue nie? Wel, ek kon nie die verskil agterkom nie. Ek het onlangs gelees dat ons binnekort 'n superrekenaar sal kan bou wat in werklike tyd driedimensionele grafika so realisties sal kan skep dat ons glad nie sal kan sien dat dit bloot 'n namaaksel is nie. Dis ook opwindend om te hoor van nuwe wiskundige modelle wat belowe om selfs 'n gewone tafelrekenaar toe te laat om realistiese beligting te bereken in werklike tyd vir die vertoon van virtuele omgewings.

Afgesien van 'n paar ander ontbrekende tegnologië (waarvan meeste of almal ook tans ondersoek word), sal ons binnekort dus ons ruimteskippies kan uitrus met 'n regte holodek soos in Star Trek se jonger "Enterprise"-modelle. Hoe pret sal virtuele vermaak nie dan vir ons word nie? Sal dit kan help om ons siele te troos as ons ver weg op ons opwindende ontdekkingsreis vir 'n oomblikkie terugverlang huistoe? Of sal ons dit eerder gebruik om ons eie virtuele wêrelde op te toor, waarheen ons kan "reis" sonder oom ooit 'n regte sterrespringer te bou?

2008-05-19

Wegkruipertjie

Kom ons gaan besoek die eerste planeet op ons sterrespringer se roetekaart. Wat sal ons sien as ons daar kom? Sal daar (semi-)intelligente wesens daar wees? Of dalk net plante en diere? Wat sal ons doen as ons daar kom? Sal ons ons ruimteskippie sommer gaan parkeer op die eerste oop spasie wat ons kan vind, rondharloop en mooi blink klippies optel of blomme pluk? Sal ons die diere begin jag vir kos? Sal ons die plante begin eet? Sal ons probeer kontak maak met die inheemse bevolking?

As 'n wetenskaplike, en iemand wat al 'n groot waardering en respek vir die natuur ontwikkel het, sal ek 'n sterk teenstander wees vir sulke onverantwoordelike gedrag. Ons het 'n ryk geskiedenis, vol foute wat ons voorouers gemaak het en gelei het tot die uitwissing van verskeie spesies en selfs kulture. Ons het die geleentheid om te leer uit sulke foute. Ons is mos nie vir grappies geforseer om geskiedenis te leer op skool nie.

Ek stel voor dat ons vir eers die rol van waarnemer aanneem en die kat mooi uit die boom uit kyk voor ons inboender en onsself blootstel aan een of ander dodelike kiem, of giftige plant, of gevaarlike dier. En ook, aan die ander kant, om te keer dat ons die natuurlike omgewing besmet met ons eie kieme en ons ingebore vernietigende gedrag. Om dit reg te kry, sal ons onsself moet wegsteek vir die hemelwaarts-gerigde oë van enige intelligente wesens wat dalk om 'n kampvuurtjie lê en die oorgeërfde verhale van die konstellasies met mekaar deel.

So 'n paar jaar gelede het 'n vriend my vertel van aktiewe kamoflering (Wikipedia het meer inligting, en TIME het 'n mooi foto). Dit maak gebruik van 'n kamera en tipies 'n buigbare vertoonskerm wat die beeld aan die ander kant van die weggesteekte voorwerp/persoon vertoon. Jy moes dit al in daardie een James Bond fliek gesien het. Intussen het wetenskaplikes wat met sogenaamde metamateriale speel 'n werklike onsigbaarheidsmantel geskep wat ligstrale rondom 'n voorwerp kan buig. Oorspronklik kon hulle dit slegs regkry vir mikrogolfstrale. Maar, nie lank daarna nie (en bo meeste van ons se verwagtinge) was dit moontlik om ligstrale in die visuele spektrum so te buig. Aanvanklik het die tegnologie ook net in twee dimensies gewerk, so jy kon nogsteeds die voorwerp sien as jy van bo af kyk, maar dit het nou selfs begin moontlik word om 3-dimensionele onsigbaarheid te bewerkstellig. Vir nou werk die tegnologie net met baie klein voorwerpe, maar hoe lank sal dit neem voor volledige skepe en ruimteskippies onsigbaar kan word? Boonop lyk dit nou selfs moontlik om "onsigbaar" te word vir klankgolwe. Ons kan dus nou meer gerus wees om planete van naderby te ondersoek, sonder om bekommerd te wees dat iemand ons sal sien óf hoor.

Die vreemde ding omtrent onsigbaarheidsmantels wat ligstrale buig, is dat wanneer jy binne die mantel is, sal geen ligstrale by jou oë uitkom nie. Met anderwoorde, jy sal niks kan sien nie. Dit help veel, né!

2008-05-10

Anargie = Vryheid

[Waarskuwing: hierdie inskrywing bevat heelwat menings en minder feite, maar darem ook 'n paar interessanthede]

En nou my mooi wiskundige afleiding, vanaf my vorige inskrywings:

as Sekuriteit = Vryheid

en Anargie = Sekuriteit

dan is

Anargie = Sekuriteit = Vryheid

Of in Afrikaans: anargie is vryheid; anargie gee vryheid. Jy mag dalk nog nie voorheen hierdie twee konsepte bymekaar gesit het nie, maar as jy mooi daaroor dink, is dit eintlik baie waar. [eintlik is daar baie ander parameters wat saam vryheid definieer, maar ons kyk nou net na hierdie een]

Hoe was die wêreld voor die mens ontstaan het? Alles was vry om te doen en beweeg soos hulle wou. Hoe was die wêreld voor die mens wette en regerings uitgedink het? Almal was vry om te maak soos hulle wou. Die probleem is egter dat as die mens in sy natuurlike vorm toegelaat word om in vryheid te bly leef, het hy/sy die vermoë om die vryheid van ander in te perk, aspris of per ongeluk. So het 'n natuurlike orde ontstaan waarin die magtigste mense kon slawe maak van ander mense (en die mens in die algemeen maak elke dag slawe van diere, en plante, en grondstowwe, en deesdae selfs bakterië en virusse - eintlik mettertyd maar alles).

Wette het dus ontstaan waarmee beoog is om mense te laat saamstem oor sekere aspekte van die samelewing, sodat almal ten minste 'n mate van vryheid kan beleef. In die moderne wêreld begin hierdie wette (en selfs sosiale norme) ons vryheid weer tot so 'n mate inperk dat ons eintlik maar net weer slawe van die moderne samelewing word.

Dis op tye wanneer ek hieraan dink, dat ek weer opkyk na die sterre. Daar heers anargie. Geen wette of reëls kan jou daar onderdruk nie. Alles is nog mooi en skoon in 'n natuurlike toestand. Dis waar ek wil wees, vry van al die nonsens waarmee ons onsself so belemmer.

Maar, gelukkig kan ek leef in my eie stukkie anargie hier op planeet Aarde. Wanneer ek op my eie is, kan ek mos maak soos ek wil. In my gedagtes kan ek dink wat ek wil. Niemand anders kan grense daarom plaas nie. En, as ek 'n grens teëkom wat ek per ongeluk toegelaat het om geplant te word, dan het ek die vryheid om dit af te breek, as ek weet hoe. Dis slegs wanneer ek in aanraking kom met ander mense dat ek myself maar sal onderwerp aan die reëls, ter wille van die behoud van vrede. Dink 'n bietjie daaroor: elkeen van ons beleef mos eintlik ons eie stukkie anargie.

Dis eintlik nogal vreemd: alhoewel ek nog effense neigings het om die negatiewe reaksies (van my natuurlike self) te koester wat normaalweg kan uitdraai daarop dat ek sal inbraak maak op iemand anders se vryheid, is ek baie bewus van daardie neigings en is ek wel instaat daartoe om aktief myself te keer om daardie reaksies uit te leef (dink 'n bietjie watter reaksies jy koester as iemand jou te na kom, en hoe jy dan in werklikheid reageer). Ek doen so omdat ek wil, nie omdat ek moet nie, want vryheid is 'n waarde wat ek aan almal gun. 'n Mens sou kon sê dat as wette nie meer bestaan het nie, sou ek hulle nogsteeds gehoorsaam het (ten minste daardie wat sin maak in terme van goeie waardes). Die vraag is: het ek hierdie vermoë ontwikkel juis omdat ek onderwerp was aan die wette, of is dit iets wat ek in elk geval sou kon aanleer deur interaksie met ander mense? Ek dink wel dat elke persoon die potensiaal het om in vrede met alles en almal anders saam te leef, en dat dít juis die mentaliteit is wat die mens eintlik benodig om wette nutteloos te maak en in volkome anargie te kan oorleef - ten minste op 'n sosiale vlak. Die San kultuur het reeds bewys dat dit moontlik is. Maar, in te veel gevalle in ons huidige samelewing, word daardie potensiaal bloot geensins ontwikkel nie. Dit vereis dan die moeite om wette toe te pas en oortreeders se vryheid weg te neem deur hulle in tronke op te sluit. Van watter waarde is dit werklik?

Ek hou dus nogsteeds van die idee dat ons tegnologie kan ontwikkel wat wette oorbodig sal maak, want dis hopeloos te moeilik om mense se mentaliteit reg te kry. Laasgenoemde is boonop nie eintlik iets wat vorseer behoort te word nie. Na my mening moet dit gekweek word deur die regte omstandighede daarvoor te skep. Plus, tegnologie sal ook kan help met nie-menslike gevare soos die magtige verdelgers van ander intelligente spesies met hul eie belaglik waansinnige wette, of massiewe swart gate wat gulsig wag om jou elementêre partikels uit jou liggaam uit te suig. ;)

2008-05-05

Anargie = Sekuriteit

Watter gedagtes word by jou opgewek wanneer jy die woord "anargie" teekom? Dalk 'n bietjie angs, 'n bietjie vrees, of eerder kleurryke beelde van 'n idilliese utopia? As jy belangstel om te volg wat hierdie aspirant-planeethoppertjie se vreemde brein-chemikalië opdis as idees en deur middel van bevele aan ratse vingers wat oor knoppies dans in elektriese seine omskakel sodat dit op 'n vertoonskerm deur jou visuele sintuie kan meng met jou eie brein-chemikalië, dan is daar dalk 'n klein moontlikheid dat ek jou uiteindelik sal kan oortuig dat die idee van anargie eintlik iets ongelooflik mooi kan wees. [sjoe, ek hoop jy kon daardie laaaang sin volg]

Die vergelyking in die titel van hierdie inskrywing kan jy van albei kante beskou en dit sal nogsteeds waar bly (soos die gelykheidsteken natuurlik aandui). Jy glo my nie?

Aan die een kant: wanneer anargie heers [hahaha, 'n bietjie van 'n paradoks?], dan is daar 'n definitiewe groot behoefte om genoegsame sekuriteit aan te skaf as jy enigsins belangstel om te oorleef. As daar nie enige polisie of weermag is om jou te beskerm nie, dan moet jy maar jou eie newe-ent beveilig. Jy kan ongelukkig nie vertrou dat ander mense nie met jou gaan lol nie.

Aan die ander kant: as elke lewende of nie-lewende entiteit volkome beskerming geniet, dan is daar mos geen plek of nut meer vir regerings en wetgewing of politieke beleide nie. Elkeen kan maak soos hy/sy lus het sonder om bang te wees dat hy/sy self seerkry of dat iemand/iets anders seergemaak kan word.

Uit ervaring weet ons dat die mens nie van nature in 'n anargie kan lewe sonder om alles en almal anders mettertyd te vernietig nie (en in die proses hom-/haarself ook). Dis mos hoekom ons wette maak - sodat ons ten minste oor 'n paar goedjies kan saamstem met die hoop dat dit sal help dat ons nie mekaar se kele sal afsny nie. Dis nogal 'n hartseer/patetiese stand van sake.

Maar, ek sien nog 'n blink toekoms, wat moontlik gemaak word deur tegnologië waarvan ons nou nog net kan droom: 'n toekoms waar jy volkome veilig kan wees teen aanslagte van enige aard - van die kleinste mikroskopiese virus-infeksie, tot die grootste kosmiese swart gat wat gulsig wag om jou elementêre partikels uit jou liggaam uit te suig.

Hoe lyk die toekoms vir jou?

[Sommige van julle mag dalk alreeds aflei wat die titel van my volgende inskrywing sal wees. Hou hierdie spasie dop vir die slotsom in my subjektiewe, onwetenskaplike en onvolledige (on)wiskundige afleiding.]
[Hersiening: Lees gerus ook die vorige en opvolgende inskrywings in hierdie reeks.]